Die afgelope maand beleef die Vrystaat aanslag op aanslag. Nog ‘n wrede moord is ‘n keerpunt. Spanning bereik breekpunt. Brande teister dele van die Wes-Vrystaat en Noord-Kaap. Die lentereëns ontwyk ons nog. Dit te midde van die COVID-19-pandemie met al die neerdrukkende gevolge van die grendeltyd. Tussen stemme wat vrede bepleit en hande wat genesing bewerk, is daar ook ander magte aan die werk. Aanslae. Vrae vermenigvuldig.
Aan die begin van die 1900’s, geteister deur ‘n pandemie, droogte en ‘n depressie, is ook geloofsvrae gevra: Bring God ons deur swaarkry nader? Op watter wyse is God nou by ons? Hoe lank moet ons op God wag? Wat is ons dienswerk en roeping? By vrae uit ‘n vorige eeu, vrae deur ‘n klaaglied verwoord, vind ons aanklank.
“Hoe lank gaan U my nog bly vergeet, Here? Vir altyd?
Hoe lank gaan U nog van my af weg kyk?
Hoe lank moet ek nog my eie planne maak en my dae met kommer deurbring?
Hoe lank sal die vyand my nog oorheers?”
(Psalm 13:2-3)
Ons glo dat die NG Kerk Vrystaat geroep word om as gelowiges saam met ander te midde van nood heling te bring in ons land, Suid-Afrika. Verwoestende brande het groot dele van die Wes-Vrystaatse distrikte Boshof, Hertzogville, Dealesville en Bultfontein geteister. Die HOOPFONDS word aangewend om landelike gemeenskappe in fisiese, emosionele en geestelike nood by te staan en hoop te bied.
Mag ons belydenis ook wees:
“Ek hou vas aan U troue liefde,
oor die uitkoms wat U gee, juig my hart.
Ek wil sing tot eer van die Here, omdat Hy aan my goed gedoen het.”(Psalm 13:6)