| verskaf: Ds Jan Lubbe
Deur ds Jan Lubbe, voorsitter van die Moderamen van die NG Kerk Vrystaat
Op die laaste Maandag van November 2025 was ons Moderamen weer op Menuha – ’n dag wat bewolk begin het, op ’n stadium onweer wat rammel, ’n harde reënbui, die middag toe ons huis toe moes ry, sagtheid en dankbaarheid. God sorg. Die aand 21:30 laat weet ouderling Willem Lombaard (wat die verste moes terugry na sy plaas Waaidam, anderkant Harrismith): “Dankbaar vir die Here se genade. Dankie Ulrich vir die veilig bestuur. Dankie vir ’n moderamen wat God se Koninkryk ag.” ’n Dag wat begin het met die lees van Lukas 1, die engel Gabriël se boodskap aan Maria:
“Wees gegroet, begenadigde vrou. Die Here is met jou!”
En, ná haar skrik en huiwering, haar oorgawe aan dié nuus, dié roeping:
“Kyk, ek is die diensmeisie van die Here. Mag met my gebeur volgens u woord.”
(Lukas 1:28 en 38)
Eksegete wys op die verband met die Ou Testamentiese profetewoorde wat hierin vervul sou word –
“Jubel van vreugde, dogter van Sion, roep dit uit – die Here jou God is in jou midde, Hy verheug Hom met blydskap oor jou, Hy is stil-tevrede in sy liefde vir jou!
(Sefanja 3:14 & 17; ook Sagaria 9:9)
Dogter van Sion, verpersoonlik in Maria, die begenadigde. Uit Israel het die Messias gekom, eeue lank verwag. Hoop vervul. En in die Adventweke – soos nou wéér – wag sy Kerk dat God se beloftewoord in vervulling sal gaan; dat Christus terugkeer; dat sy Koninkryk deurbreek. Dáárby het ons gesprek Maandagoggend begin: Wat laat jou hoop, hier in die Vrystaat? En wat is vir jou ’n verhindering hierin? Die gesprek neig na die hindernisse: Ons verloor te maklik hoop – glo ons regtig dat Gód die onmoontlike kan vermag (Lukas 1:34)? Sien ons die gawes wat God gee, raak – die potensiaal vir groei in ons gemeentes en kerkverband? Is ons net “jaareind-moeg”? Is dit die “onderlinge verdeeldheid”? Is dit die tydsgees van “kerkloosheid”? Kyk ons te veel “vas in wat was”?
Maar soos wat Maandag gevorder het, het iets anders begin gebeur …
Die Moderamen is tans besig met ’n visioneringsproses waarby ’n breër groep stemme uit gemeentes en bedieninge, platteland en stad, vrouelidmate en jongmense betrokke is. In ’n vorige rondte (einde September op Menuha, en gefasiliteer deur dr Roelf Opperman van “Bronze Boabab”), het daar vier hoofinsigte gekristalliseer:
- Ons identiteit as NG Kerk in die Vrystaat lê daarin dat ons Liggaam van Christus is en geroep is om “Lig in die Duisternis” te wees hier, maar ons voel vasgekeer en sukkel om aan te pas in ’n nuwe omgewing; ons beleef diversiteit as versplintering …
- Ons gemeentes kan bakens van hoop wees in al die dorpe – 78 dorpe, 149 gemeentes, 68 500 lidmate – maar ons beleef verliese en trauma; verval en mense wat wegtrek, dalende getalle, ’n groeiende getal ouer lidmate, lae energie …
- Ons verlang na ’n kerk/gemeentes wat eenheid uitleef, en lidmate bedien en toerus vir hul daaglikse lewe, want hulle ís ernstig oor hul geloof, begaafd, gasvry en wíl volhard in hul getuienis, ook oor etiese sake …
Ons moet wegbeweeg van interne konflik, ons moet “oor onsself kom”, ons moet Christus raaksien, sy Roepstem hoor, mekaar liefhê, ons kruis opneem, ons gestuurdheid omhels, oorgaan van woorde na aksie …
Uit hierdie visioneringsgesprek is drie metafore gebore om ons oor ons roeping te help nadink: dié van ’n gedekte tafel (die tafel deur God berei, die Gasheer, waarop Christus aan ons al sy gawes skenk en waarby álmal kan aansit, mekaar bedien); dié van water (die lewegewende Woord wat vloei na waar daar dors en nood is, ons getuienis en barmhartigheid); en dié van ratwerk (die strukture, fondse en fasiliteite wat dit alles moontlik maak; ons roeping moet laat draai en momentum gee).
In Januarie gaan die visioneringsgroep en Moderamen verder met hierdie proses, en sal dit uitloop op ’n omvattende verslag oor die roeping van die NG Kerk Vrystaat en ’n volhoubare daarvoor, aan die Sinode van 2026.
Die Moderamen het ook van die volgende sake kennisgeneem en besluite daaroor geneem:
- Die 55ste Sinode van die NG Kerk Vrystaat word beplan vir 7 tot 10 Junie 2026 by NAMPO buite Bothaville. Aankoms en registrasie vanaf 14:00 die Sondagmiddag, die opening om 16:00 en afsluiting Woensdag met middagete. Reëlings oor afvaardiging, geloofsbriewe, reis- en verblyfopsies word eersdaags gekommunikeer.
- Die Interimkomitee het vanjaar al 16 Ringe in die Vrystaat besoek, en ’n gees van openhartigheid, welwillendheid en ’n fokus op roeping beleef; ook 10 gemeentes waar daar behoefte was vir gesprek oor ons verband en teologiese vrae.
- Daar is tans ses (6) gemeentes waar kerkregtelike uitdagings beleef word (gemeentes wat “uit verband getree” het) en waarby vier (4) leraars uit die NG Kerk bedank het. Daar word onderlinge verdeeldheid in die omliggende gemeenskappe beleef. Ringskommissies is in gesprek daar met groepe lidmate omdat dit oor bedieningsnood gaan en daar ook wetlike implikasies is, en die Moderamen versoek daarom leraars en kerkrade om met groot omsigtigheid hul bediening te behartig. Tree eers met die Ring en Moderamen in openhartige gesprek, alvorens besluite geneem word wat ’n gemeente in ’n baie moeilike situasie kan laat beland.
- Die Moderamen het ’n werksgroep aangewys om besluite van die Buitengewone Sinode 2024 oor ons kerkverband en verhouding met die Algemene Sinode verder te neem met die oog op ’n beskrywingspunt aan die 2026-Sinode. In hierdie verband het die Moderamen ’n versoek van vyf gemeentes en uit twee Ringe ontvang dat daar vóóraf ’n stemming deur die Vrystaat hieroor gehou sal word, maar in die lig van al die werk wat vir die twee Buitengewone Sinodes (April 2023 en Oktober 2024) gedoen is, het die Moderamen besluit om nie nou só ’n stemming te loods nie. Sinode 2026 sal op grond van die genoemde verslag en beskrywingspunt oor Kerkverband, verdere besluite kan neem.
- Die Moderamen moes ook besin oor die wyse waarop predikante in die Vrystaat hul roeping vervul en bediening uitleef, en onderlinge kommunikasie hieroor. Ons optrede moet deur die Evangelie van Christus gerig word. Daarom is ’n sterk besluit geneem oor respek, ordelikheid, deursigtigheid én vertroulikheid in ons prosesse, en dat die verspreiding van vals nuus, beledigende taal en die teistering van kollegas of amptenare van die Sinode nie verder geduld sal word nie. Daar is kerklike weë om kerklike sake te hanteer.
- Oor teologiese opleiding en die toekoms, het verskeie verslae voor die Moderamen gedien. Perspektiewe soos dat dit primêr ’n kerklike verantwoordelikheid is, roeping en prioriteit van die NG Kerk Vrystaat; dat dit oor die teologiese identiteit, spiritualiteit, professionele- en persoonsvaardighede en oor die praktykblootstelling van studente gaan; dat al meer studente – jonk én ouer én uit verskillende agtergronde – vir opleiding aanmeld (in 2026: 32 studente!); en dat dit toeganklik, bekostigbaar, volhoubaar en kontekstueel aan die Vrystaat (en sentrale dele van die land) moet wees. Daar word tans wéér besin oor verskillende bevoegdhede (volle leraar, diens/hulpleraar, ouderling/bedienaar met erediensbevoegdheid) en die groot nood aan bediening in klein- en marginale gemeentes.
- Vrouebediening het oor hul afgelope Stilretreat verslag gedoen, oor nuwe projekte en oor die komende Vrouekamp van 20 tot 22 Februarie 2026 te Amanzi, met Roedolf Botha as spreker. Gemeentes word opgeroep om vrouelidmate te ondersteun om dié hoogtepunt by te woon.
- By Barmhartigheidsbediening is daar nog fondse in die Silostrat-projek vir gemeentes se noodleniging beskikbaar, drie ringe het reeds hul R40 000 vir projekte ontvang; kommunikasie en verhoudinge met diensverskaffers soos ENGO, Childline FS, Jeugsorg, TOIBO en Smartstart se ECD-programme is aan’t ontwikkel. Die opbou van ’n rampondersteuningsnetwerk geniet aandag.
- Vennote in Getuienis het terugvoer oor die Reformed Family Forum van September gegee; oor die besoek aan Japan en ’n hernuwing van ooreenkomste met die Reformed Church daar; oor die verhouding met die NGKA en Lesotho; oor studentebediening en die KOUGOM Eerstejaarskamp (23-26 Januarie 2026).
- Inligting is ontvang en sal verder versprei word, oor die Predikante SAAMkoms vir alle bedienaars van die Woord (vol- en deeltyds, diensleraars) volgende jaar, 25-27 Augustus by Goudini – ons sal uit die Vrystaat dit vir soveel as moontlik kollegas moontlik wil maak om daarheen te reis en dit by te woon; ons wil belê in die welwese van predikante, teologiese verdieping en die versterking van ons roeping.
So, ons is met hoop huis toe ná Maandag se moderamenvergadering. Ons hoop – ons enigste hoop, in lewe en sterwe, in liggaam en gees – is in Christus. Dié hoop in Hóm, is ’n hoop met oop oë oor die realiteit waarin ons ons bevind, ook as NG Kerk Vrystaat. Dit is hoop wat hande en voete vind in ons daaglikse dade. En dat ons verseker kon word: dié hoop in Christus sal nie beskaamd, onvervuld, leeg bly nie …
“Moenie bang wees nie, Maria – kleintjie, Sagaria die oue priester, Elizabeth tuis, herders, honger skaretjies langs die pad vorentoe, die eeue in – jy het genade by God gevind.”
(Lukas 1:30)

