Deur Annalie Cronjé,
NG Gemeente Universitas-Wes, Rooikerk- en Striata-koördineerder
Die nuwe gonswoord in Afrikaans is komvandaan en elkeen van ons het so ’n komvandaan. Dit sê nie net waar ons vandaan kom nie, maar gee ons ook leiding vir ons toekoms.
Die NG Kerk Universitas-Wes, Bloemfontein (beter bekend as die Rooikerk) het ook so ’n komvandaan. Op Donderdag, 1 Junie 1970 word ’n afstigtingsvergadering in die kerkgebou van Universitas gehou en kom die nuwe gemeente amptelik tot stand.
Hierdie jaar vier ons ons gemeente se 55ste bestaansjaar, voorwaar ’n mylpaal! Covid het ons verhinder om iets groots van ons vyftig-jaar-herdenking te maak, daarom wil ons een en almal wat in die afgelope jare op enige manier by die gemeente betrokke was, vra om ons te kontak en hul herinneringe te deel.
Ons wil so ’n bietjie delf in ons geskiedenis, belangrike gebeure herontdek, leer van goeie en slegte tye. Ons wil terugkyk na ons leraars, na studente wat hul praktiese jaar by ons gemeente gedoen het en vandag hul stempels afdruk in hul eie gemeentes.
Die jare tagtig en negentig was goeie jare vir die gemeente. Bykans ’n hele nuwe woonbuurt word ontwikkel vanaf die oorspronklike grens van Sergeantstraat tot teen die Universiteit-sportgronde in die noorde en die N1-snelweg in die weste. Die meeste huise word betrek deur jong gesinne en lei tot ’n aansienlike toename in lidmaadgetalle. In 1981 is die amptelike lidmaatgetal reeds 1 410 en word ’n tweede leraar beroep. Daar word ook gebruik gemaak van teologiese studente aan die Universiteit van die Vrystaat wat hul praktiese jaar by die gemeente kom doen.
Soos Isaac Newton gesê het – alles wat opgaan, moet weer afkom. In 1994 verander dinge in ons land en beleef die universiteit ’n ontploffing in studentegetalle. Waar daar vroeër slegs ’n paar studentehuise was, verhuis al meer mense uit die woonbuurt soos die getal studentehuise toeneem. In ’n artikel in ’n plaaslike koerant, Bloemnuus, op 12 Januarie 2023, sê mnr Frikkie Eisenberg, ondervoorsitter Universitas Woonbuurtvereniging,dat tussen 1 000 en 1 400 van die 3 000 woonhuise in Universitas reeds as studentehuise bedryf word. Op die koop toe het die gemiddelde ouderdom van die inwoners in die buurt gedaal. Die jong ouers is nou oupas en oumas of het reeds weggetrek. Dopelinge vanuit eie geledere is maar skaars. Al hierdie faktore het ’n baie negatiewe invloed op ons lidmaatgetalle en ook gevolglike inkomste.
Ons is baie bevoorreg dat die Striata Aftree-oord binne ons gemeentegrense lê. Dit is ’n aktiewe groep mense wat werklik ’n positiewe bydrae lewer.
Vandag is ons gemeente veel kleiner, maar aan warmte en liefde ontbreek dit ons nie. Ons wil graag van ons feesjaar ’n groot sukses maak. Ons is ook op soek na oudleraars, oudstudente wat hul praktiese jaar by ons gedoen het, en vorige kosters en orreliste.
Gaan like ons op Facebook by Universitas-Wes, besoek ons webwerf of kontak Ria de Wet by die kerkkantoor by admin@nguniversirtaswes.org
U is ook welkom om my persoonlik te kontak by bokcronje@gmail.com
Ons sien uit om van julle te hoor.
Rooikerk-groete
Annalie Cronjé
| verskaf: NG Gemeente Universitas-Wes, Rooikerk en Striata.

