Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

IGROW: “Growth is never by mere chance” – ’n herstelprogram vir middelafhanklikheid

Deur Mariëtte Odendaal

“Die bediening bied aan leraars en gemeenteleiers ’n waardevolle verwysingskanaal waarheen mense met afhanklikheidsnood en hul families met vertroue verwys kan word.”

Anton Pelser
IGROW-koördineerder

Die Ring van die NG Kerk Suidoos-Bloemfontein het met behulp van sinodale fondse op 5 Julie 2024 ’n IGROW-afhanklikheidsherstelgroep by die NG Gemeente Pellissier gestig. Hierdie bediening het ten doel om ringsgemeentes te ondersteun in die hantering van mense met middelafhanklikheidsprobleme en om ’n geloofsgebaseerde, volhoubare pad na herstel te bied.

Om meer hieroor uit te vind, het ons met Anton Pelser, fasiliteerder en opleier van fasiliteerders, aook die koördineerder tussen IGROW en die Sinode Vrystaat en ander denominasies, gaan kers opsteek.

Anton, vertel ons asseblief meer van IGROW

IGROW (I grow) is ’n Christelike afhanklikheidsherstelprogram wat God se genade sentraal stel. Deelnemers word begelei om hul waardigheid as geliefde kinders van die Here te herontdek en om weer met hoop en verantwoordelikheid hul plek in hul gesinne, gemeentes en die samelewing in te neem.

“Die program fokus op beide middel- en substansafhanklikhede, soos alkohol- en dwelmmisbruik, die misbruik van pynpille, asook gedrags- of prosesverslawings, soos onder andere pornografie en dobbelary.”

Die doel en fokus van die program

Die IGROW-bediening begelei deelnemers om hulle:

  • afhanklikheid te oorkom deur toewyding tot algehele onthouding van die betrokke afhanklikheid;
  • persoonlike groei, selfwaarde en verantwoordelike besluitneming te bevorder;
  • volhoubare herstel met ’n stewige geestelike fondasie te bereik;
  • integriteit, menswaardigheid en gesonde verhoudings met hul gesin en vriende te herstel.

Anton, waarom is daar besluit om ’n IGROW-program by Pellissier van stapel te stuur?

“Die bediening het ontstaan danksy ’n groeiende bewuswording by die Ring dat die omvang en impak van afhanklikheid binne gesinne en die breër gemeenskap al hoe groter en uitdagender raak. Gemeentelede met afhanklikheidsprobleme het direk of via hul gesinne om hulp begin soek.

“Daar is ook besef dat formele behandelingsprogramme dikwels baie duur is en vir talle mense ontoeganklik bly.

“Na deeglike ondersoek en navorsing het die Ring met IGROW hande gevat en die NG Gemeente Pellissier se fasiliteite is gebruik om ’n bediening te vestig wat met deernis en hoop reageer op hierdie nood; waar mense weer die moontlikheid van herstel en nuwe lewe kan ontdek.”

Hoe word julle finansieel ondersteun?

“Sedert Julie 2024 word  Ringsfondse van R1 000 per maand aangewend om koste ten opsigte van administrasie, handouts, materiaal en verversings te help dek. Vanaf Maart 2026 is ’n verdere verhoging van R1 000 per maand toegestaan.

“Fasiliteerders ontvang tans geen vergoeding nie en deelname aan die groepe is gratis. Addissionele fondse word egter benodig vir die opleiding van nuwe fasiliteerders.”

Vertel meer van die byeenkomste. Hoe werk dit?

“Die IGROW-groep vergader weekliks op Woensdagaande vanaf ses-uur tot agtuur in ’n lokaal by die NG Gemeente Pellissier. Dis in die suide van Bloemfontein, sentraal-geleë en maklik bereikbaar vir deelnemers uit verskeie gemeentes. Dit bied lae-koste fasiliteite wat groter deelname aanmoedig.

“Ons ondersoek tans die moontlikheid om nog IGROW-groepe binne die Ring en die breër Vrystaat te vestig, sodat meer gemeentes bemagtig kan word om die program self te kan aanbied.”

Hoe gaan julle te werk en wat is jul geestelike vertrekpunte?

“IGROW se leuse is Growth is never by mere chance en beklemtoon die feit dat ware herstel ’n doelbewuste keuse is, geanker in die herontdekking van God se liefde en genade.

“Die program se geestelike vertrekpunte is eerstens afhanklikheid van God en doelbewuste geestelike groei, toewyding aan geheelonthouding en laastens insig in die afhanklikheidsiklus deur eerlike selfondersoek.

“Dit word prakties uitgeleef deur vertroulike groepsessies in ’n veilige ruimte, verantwoordingsvennote, die opstel van ’n persoonlike Life Recovery Plan, ondersteuning deur ’n WhatsApp-groep, deurlopende gesprekke met fasiliteerders en, waar nodig, verwysings na buitepasiëntprogramme en spesialiste soos sielkundiges, terapeute en herstelafrigters.”

Na watter uitkomste streef julle met die program?

“Deelnemers ontwikkel ’n dieper begrip van hul afhanklikheid en die impak daarvan op hul lewens. Hulle leer ook hoe om denk- en gedragspatrone te onderskei. Hulle leer om ondersteuningsbronne te identifiseer en om gesonde hanteringsvaardighede aan te leer. Dit lei tot die herstel van waardige deelname aan die kerk, hul gesinslewe en die samelewing.”

Hoeveel mense het al deel van hierdie program geword?

“Sedert 2024 het meer as sestig mense al by IGROW aangemeld. Sommige woon sessies ad hoc by, terwyl ander weer selfstandig binne hul gesinne en beroepe funksioneer.

“Aanvanklik is afhanklikes en ondersteuners saam bedien, maar vanaf 2026 funksioneer die bediening in twee groepe: ’n afhanklikheidsgroep met ongeveer 15 tot 25 deelnemers en ’n ondersteuningsgroep met sowat 12 deelnemers.

“Deelnemers kan enige tyd by ’n groep aansluit of dit verlaat, aangesien IGROW ’n voortgesette program is en nie ’n kursus met ’n vaste begin- of einddatum nie.”

Hoe ondersteun die program gesinne en vriende van die middelafhanklike?

“’n Afsonderlike program (soos bo) rus gesinslede en vriende toe met kennis oor verslaafde gedrag, die stel van gesonde grense en vaardighede vir selfbehoud.

“Die ondersteuners word begelei om as medeherstellers op te tree sonder om hul eie welstand prys te gee.”

Hoe werk die opleiding van die fasiliteerders?

“Ons fasiliteerders ontvang aanlyn-opleiding in fasiliteringsvaardighede en kennis van middelafhanklikheid. Daar vind ook deurlopende mentorskap plaas.

“Akademiese kwalifikasies is nie ’n vereiste nie; die fokus val op lewende geloof, geestelike volwassenheid, empatie, betroubaarheid en die vermoë om vertroulikheid te handhaaf.

“Die program skakel in by Project Exodus om effektiewe en bekostigbare herstelprogramme toeganklik te help maak. Die bediening staan onder leiding van Renier Gouws, stigter en direkteur van IGROW, wat self agt jaar in herstel is en ’n passie het vir gestruktureerde, geloofsgebaseerde afhanklikheidsherstel.”

Wat beteken IGROW vir julle as gemeente en Ring?

“Die IGROW-bediening dra by tot groter bewusmaking van middelafhanklikheid, ’n verdieping ten opsigte van deernis en barmhartigheid en dit versterk die samewerking met ander gemeentelike bedieninge soos gebedsbediening, traumahulp en omgeegroepe.

“Waar gemeentelede vroeër huiwerig was vir blootstelling of etikettering het dit plek gemaak vir vrywillige en hoopvolle aanmelding as vrywilligers.

“Dit help skep ook ruimte vir herintegrasie van persone wat herstel het om binne die gemeentes en gemeentelike aktiwiteite opgeneem te word.”

Ten slotte

“Die IGROW-afhanklikheidsherstelprogram vervul ’n belangrike en hoopvolle rol binne die Ring van Suidoos-Bloemfontein. Deur geloof, gemeenskap en doelbewuste herstel word lewens verander en gemeentes geestelik verryk. Die bediening bied aan leraars en gemeenteleiers ’n waardevolle verwysingskanaal waarheen mense met afhanklikheidsnood en hul families met vertroue verwys kan word.”

Vir meer inligting kan Anton Pelser by pelser1954@gmail.com gekontak word.

GETUIENISSE

Getuienisse uit die groep bevestig die geestelike vrug van die bediening. Een deelnemer skryf: “Goeiemôre Charles, ek wil sommer vanoggend vir jou laat weet dat dit baie goed gaan met my! Hierdie is week agt vandat ek by IGROW aangesluit het en ek het sedertdien geen alkohol gebruik nie. Ek ervaar ook geen drang daarna nie. Ek wens die IGROW-groep was twee keer per week.

Jan Venter

 | Foto’s is deur Anton Pelser, IGROW-koördineerder, verskaf.

Deur Mariëtte Odendaal

“Kom jag hier en maak ’n verskil!”

 

“Die oorsese jagters het dit so positief ervaar dat hulle dit graag wil uitbrei. Ons het binnekort weer so ’n jagtog op hande en die jagters praat alreeds van 28 mense wat hulle dan graag in diens sal wil neem. Dit sal ons help om nog meer werklose mense uit die groter Viljoensdrif-omgewing asook Kragbron en Taaibosspruit te betrek en te help.”

 

Dr Jan de Man
Leraar: NG Gemeentes Viljoensdrif en Taaibosspruit

Was jy al saam met jou pa en sy jagtersvriende op ’n vroeë wintersoggend in die veld op jag, terwyl die son nog laag in die slierte mis lê? Julle stap versigtig in een lyn langs mekaar met ’n skaflike spasie tussen elkeen; geweerlope grond toe gerig. Die opwindende afwagting bind julle as groep saam – daar is ’n samehorigheid en jy as jongmens voel jy word geag, want jy is nou ook deel van dié groep.

As jy as werklose in ’n baie klein gemeenskappie deel van so ’n groep word, voel jy jy word raakgesien – jy is iets werd. Én jy kry boonop die geleentheid om te werk en jou eie geld te verdien!

En dis presies wat dr Jan de Man, predikant van die twee gemeentes Viljoensdrif en Taaibosspruit in die Ring van Vaalrivier, Noord-Vrystaat, doen. Ons het meer gaan uitvind.

 

Jan, hoe het jy by die jagtersprojek betrokke begin raak?

“Sowat tien jaar gelede het ek, in samewerking met die breër jagtersgemeenskap, jagtydskrifte en heelparty ander borge, met ’n projek begin waardeur ons ons passie vir jag met kinders sou deel; kinders wat om watter rede ook al nooit die kans sou kry om te jag nie.

“Dit sluit kinders van kinderhuise en ander jeugsorgsentrums, kinders in enkel-ouergesinne of enige ander moeilike sosio-ekonomiese omstandighede, asook kinders met gestremdhede in.

“So het ons die afgelope dekade alreeds aan meer as honderd kinders oor die hele land heen die geleentheid gebied om te leer skiet en op jagtogte geneem. Die vleis van die bokke is dan aan byvoorbeeld die betrokke kinderhuis of jeugsorgsentrum geskenk.

“Die kinders se ervarings word in die Wildland-jagtydskrif vertel en dan kry hulle ook die bok wat hulle geskiet het se vel en horings, asook ’n boek en knipmes; iets waarop hulle ongelooflik trots is.

“Ek dink hierdie projek, en die impak daarvan op mense wat nooit hierin sou kon deel nie, het ons meer sensitief gemaak vir ander jagverwante projekte waardeur nood in die breër gemeenskap aangespreek kan word.”

 

Hierdie inisiatief van jou het intussen vlerke tot in Brittanje gekry. Vertel meer.

“Een van ons grootste uitdagings in die klein nedersettinkie van Viljoensdrif is die ongeveer twintig werklose mense wat in ou Spoorweg (Tansnet)-huise hier, net ’n klipgooi van die kerk af, bly. Alhoewel hulle nie juis huur betaal nie, word hierdie huise nie meer van krag voorsien nie en het dit meestal ook nie water nie. Ons gemeente help soms om hulle van water te voorsien, maar dis maar die spreekwoordelike druppel in die emmer. Hierdie mense kry baie swaar. Alhoewel hulle bereid is om te werk, is hier net eenvoudig nie werksgeleenthede nie.

“Afgesien van ’n sopkombuis- en naaldwerkprojek in ’n poging om ons werkloses te help, het ek, ’n professionele jagter en ’n voëljagter van Engeland, onlangs met ’n nuwe plan vorendag gekom.

“Alhoewel ek nie meer self so ernstig jag nie, het ek nog baie goeie kontak met jagondernemers en professionele jagters wat kliënte van oorsee af kry. As gevolg van die groot boerderybedrywighede in ons omgewing is hier baie voëls. Die jagters reël dan met my as hulle vir ’n paar dae duiwe of selfs watervoëls en tarentale in die omgewing wil jag. Boonop is die lughawe ook naby; iets wat baie in ons guns tel om ons omgewing vir jagters maklik toeganklik te maak.

“Verlede jaar het hierdie bedryf egter in ’n verrassende nuwe rigting begin ontwikkel. Tydens ons winterjagseisoen was hier ’n professionele jagter met ’n jagter van Brittanje wat baie beïndruk was deur ons jagprojek met kinders asook die projekte ter ondersteuning van die werklose mense in ons omgewing. Daarna wou hy ook baie graag hierby betrokke raak en het die geleentheid raakgesien om via die jagtersbedryf groter gemeenskapsbetrokkenheid te bewerkstellig.

“Hy het toe ’n groepie jagters bymekaargemaak wat die werklose gemeenskap se dienste tydens die jagtog sou gebruik; ’n proeflopie om te sien of dit sou kon werk. Hy het vanjaar toe ook ’n jagagent uit die Noorde van Engeland saamgebring om eerstehands te kom kyk hoe dit werk.

“Met die werwing van die groep jagters het die agent die voordeel gehad dat die jag adverteer kon word as ’n jagtersondervinding met ’n opbouende gemeenskapsimpak. Sy addissionele bemarkingsinvalshoek was: ‘Kom jag hier en maak ’n verskil’. Hierdie invalshoek spreek nou ’n al hoe groter wordende groep oorsese jagters aan, waaroor ons natuurlik baie dankbaar is.”

 

Jan, hoe is dit toe prakties ten bate van die werklose gemeenskap geïmplementeer?

“Ons het toe so ’n maand gelede vyftien werklose mense, waarvan die meerderheid vroue was, uit die gemeenskap gekry wat tydens hierdie eerste drie-dag jagtog ingespan is om die jagters by te staan.

“Die vroue het by sekere punte met vlae gestaan om die voëls na die vluglyne ‘aan te keer’ sodat die jagters meer en makliker skote kon kry, en die mans is elkeen aan ’n spesifieke jagter toegeken om hulle in die jagproses te ondersteun. Voëls wat geskiet is, asook die doppies, moes byvoorbeeld opgetel en versamel word en sekere toebehore moes aangedra word; iets wat van groot hulp vir die jagters was.”

 

Watter impak het hierdie eerste proeflopie toe op die gemeenskap asook die jagters gehad?

“Ons mense het vir die drie dae se werk ’n inkomste verdien en boonop kon hulle die voëls wat geskiet is, kry. Met hul welverdiende inkomste kon hulle toe noodsaaklike items vir hul huishouding en gesinne aankoop; iets wat besonder waardeer is.

“Ons kry geweldige goeie terugvoer uit die gemeenskap. Hulle het groot waardering vir hierdie inisiatief.

“Die oorsese jagters het dit so positief ervaar dat hulle dit graag wil uitbrei. Ons het binnekort weer so ’n jagtog op hande en die jagters praat alreeds van 28 mense wat hulle dan graag in diens sal wil neem. Dit sal ons help om nog meer werklose mense uit die groter Viljoensdrif-omgewing asook Kragbron en Taaibosspruit te betrek en te help.

“Alhoewel dit nie ’n ‘kerkprojek’ is nie, is dit ons lidmate en gemeenskap wat hul gewig agter hierdie inisiatief ingooi sodat ons gemeenskap se werkloosheidsprobleem aangespreek kan word.

“Werkloosheid lei natuurlik ook tot ander euwels en ons gaan probeer om hierdie projek te vestig met soveel as moontlik jagte per jaar. Ons beplan ook om ons mense beter op te lei en toe te rus vir wat van hulle verwag word. Ons fokus op die vroue en kinders – die kwesbares en weerloses. Kinders kan dan ook sien dat hul ouers werk; iets wat hulle sal inspireer om aan hul lewensdrome te werk. Ons wil vir ons gemeenskap iets gee om na te streef.

“In die proses lewer ons gemeenskap ook ’n diens waarop ons almal baie trots kan wees en wat bydra tot ’n groter belewenis van ons mense se menswaardigheid.

“Ons kan nie die hele wêreld red nie, maar ons kan dalk aan vyftien of meer mense se lewens ’n verskil maak deur geld en geleenthede te kanaliseer.”

Vir meer inligting kan dr Jan de Man by ng.viljoensdrif@gmail.com geskakel word.

 | Foto’s is deur dr Jan de Man, verskaf.