Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Die Kerk as Anker – HOOP vir die Toekoms

Deur Mariëtte Odendaal

“Ek glo ons is op ’n manier almal nou weer ‘in by die Here’ en sien hoe Hy werk en besig is om die kerkgebou van ’n gemeente wat aan sy einde gekom het, te gebruik om iets nuuts te begin.”

Dr Roelf Pienaar
Leraar: NG Kerk Vier Ankers Sasolburg

By die NG Kerk Vier Ankers in Sasolburg is daar ’n besondere inisiatief wat op Donderdae ’n groot verskil aan baie mense se lewens maak. Dit word die Sentrum van Hoop genoem. By hierdie sentrum wil hulle die Goeie Nuus van nuwe hoop in Christus aan mense bring wat geval en seergekry het.

Daarom word daar nie net kos, klere of ander hulpmiddele by dié sentrum uitgedeel nie, maar daar word veral gepoog om met almal wat daar aanklop, ’n verhouding te bou. Ons het meer gaan uitvind by dr Roelf Pienaar, leraar van dié gemeente.

Roelf, hoe het dit gekom dat julle gemeente nou elke Donderdag warm etes aan mense in nood verskaf?

“Die aksie het maar klein begin, maar het intussen gegroei tot byna honderd mense wat nou op Donderdae by die Sentrum van Hoop kom saam eet.

“Toe die besoekers nog min was, het almal wat daar aangekom het voor ete, sommer onder die bome of op die kerk se trappies sit en wag. Ekself of ander vrywilligers het dan die mense in ’n groepie bymekaar gekry en probeer om met hulle ’n gesprek aan te knoop oor hoe dit met hulle gaan en wat hulle anders sou kon doen sodat hulle selfstandig kan wees sonder om hulp van ander te moet ontvang.

“Namate die groep egter gegroei het, het dit al hoe moeiliker geraak om met almal op so ’n informele manier te kon praat.

“Aanvanklik was daar van die Sentrum van Hoop se bestuur ’n bietjie weerstand, maar ons het eenvoudig deurgedruk met argumente soos: ‘Daar is nie ’n kerkraad of gemeente wat gaan kla omdat ons mense van die straat af in die kerk laat sit nie. Hier word nie meer eredienste gehou nie en dus is dit tegnies nie ’n kerk nie. Die gebou staan in onbruik, so laat ons dit sinvol gebruik en die mense wat ons besoek, tuis laat voel en hulle ’n ervaring van behoort kan gee. Sluit oop sodat ons binne kan gaan sit.

Sedert julle die ongebruikte kerkgebou vir hierdie goeie doel begin gebruik het, moes julle jul bediening seker prakties ietwat aanpas, né?

“Ja, die gesprekke het toe meer formeel begin raak. Soos die mense opdaag, het almal in rytjies voor my gaan sit en wag dat ek iets moet sê. Ek het toe besluit om met ’n kort biduur te begin. Nadat ek ’n vers of twee gelees het, sou ek ’n paar woorde sê en dan terugvoer vra om te hoor wat hulle self gehoor het.

“Watter lekker geleenthede het dit nie geword nie! In ons gesprekke is die fokus op God, maar die wonderlike hiervan is dat dit sonder kerktaal of pretensie is.

“Hierdie lidmate draai nie doekies om nie en dinge word op die straatnaam genoem – sonder om te blik of te bloos.

“So het een van hulle my kollega se sin klaargemaak toe hy oor ‘gedog’ gepraat het en gesê wat haar ma altyd gesê het wat “dog” gedoen het. Nodeloos om te sê dat daar vir eers nie verder Bybel-goedjies gepraat is nie. Ons lag soms dat die trane loop.”

Daar is seker hartseer verhale ook, né Roelf?

“Ja, beslis. Na ’n paar sulke bidure kom een van die besoekers wat baie goed aan my bekend is na my toe om te vertel van sy vrou wat onlangs ’n baba gehad het. Sy het vir ’n tyd lank weggeloop en het by ’n ander man gebly, maar hy is baie bly dat sy nou weer terug is by hom. Hulle het ook nou ’n pragtige babaseuntjie. Hy het breed geglimlag terwyl ek my hart vasgehou het. Ons het vir jare gespook om hulle dogter goed versorg te hou en nou is daar ’n nuwe baba; ’n volgende uitdaging.

“Na nog ’n paar Donderdae kom hy weer na my toe, steeds breëbors, en vra of hulle nie, noudat hulle aan die kerk behoort, maar sy seuntjie kan bring om gedoop te word nie.

“Nou verstaan ek hoe lidmaatskap werk en ek weet baie van die doopsakrament en van al die kerkordelike reëls oor die doop, maar ek ken die gesin al baie jare lank en wil hulle graag tegemoetkom.

“Ek haal diep asem, dink blitsig aan al die teologiese konsekwensies en sê dat hulle welkom is om met my oor die doop te kom praat en dat ons een oggend tydens ons diens die doop sal bedien.

“Na ’n lang tyd wat hy nie weer daaroor gepraat het, nie vra ek hom eendag hoekom ek nie meer sy vrou en seuntjie in die kerk sien nie. Met trane in sy oë vertel hy my toe dat sy terug is na die ander man en dat sy erken het dat die seuntjie nie syne is nie.

“Die Sentrum kon vir hierdie arme man, wat in die oë van die dorpsmense maar net nog ’n bedelaar en sukkelaar is, ’n steunpilaar wees deur hom in hierdie tyd te kon help en bystaan.

“Hy kom steeds elke Donderdag en sy glimlag is weer terug.”

Die bidure het nou ontwikkel tot volledige eredienste. Vertel meer.

“My kollega, Altus Carstens, wat intussen deel van die voltydse Sentrum van Hoop-span geword het, hou nou dienste met ’n volledige liturgie.

“Ons het vrywilligers wat die projektor en klanksisteem hanteer en die gemeente sing van ’n witbord af mét begeleiding; van lofsang tot skuld- en geloofsbelydenis. Tweedehandse Bybels wat by Vier Ankers ontvang word, kry by die Sentrum baie gou nuwe eienaars.

“Ná een so ’n diens kom ’n vrou na my toe aangestap met ’n glimlag van oor tot oor. Sy sê: ‘Ai Dominee, dis só lekker om weer aan ’n kerk te behoort!’

“Die leë kerk van ’n jaar of twee gelede is nou weer byna halfvol, al is dit nou nie meer op Sondae nie, maar op ’n Donderdag. En dit groei.

“Alhoewel ons weet dat die meeste mense dit bywoon vir die kos, is dit goed om te weet dat dit vir hulle ’n plek geword het waar hulle geborge en liefgehê voel.”

Daar vind ook terapeutiese gesprekke plaas, indien nodig. Wie hanteer dit?

“My kollega, Altus, is ’n pastorale terapeut en ook een van ons personeel. Hy en Wilna Hansen, ’n afgetrede maatskaplike werker, hanteer hierdie gesprekke met diegene wat dit nodig het.

“Na een so ’n gesprek kry ek my kollega in ’n baie vrolike bui, al was dit weer ’n moeilke, vol dag. Al laggende vertel hy my van een van die lidmate wat by hom kom staan, so met die een hand op haar heup en die ander hand op sy skouer en sê: ‘Jy weet, Dominee, vandat ek nou so in is by die Here, sien ek hoe die goed in my lewe besig is om te verander!’

“Ek glo ons is op ’n manier almal nou weer ‘in by die Here’ en sien hoe Hy werk en besig is om dié kerkgebou van ’n gemeente wat aan sy einde gekom het, te gebruik om iets nuuts te begin.

“Ons bid vir Sy seën sodat ons almal weer sal bly wees omdat ons ook nou weer aan ’n kerk behoort.”

Hoe kan jy betrokke raak?
  •  ’n Warm ete elke Donderdag.
  •  ’n Erediens voor ete.
  • Pastorale gesprekke met individue wat daaraan ’n behoefte het.
  • Skoling in basiese vaardighede vir die arbeidsmark.
  • ’n Werksoek-aksie waar mense nie net gehelp word om ’n CV saam te stel nie, maar wie se vaardighede bemark word.
  • ’n Klerekas waar mense in nood kan aanklop om hulp.
  • ’n Maandelikse byeenkoms van ’n ondersteuningsgroep vir depressielyers.
  • ’n Kort troos-reis vir mense wat ’n verlies ervaar het.
  • ’n Pastorale spreekkamer waar professionele berading gebied word.
Dienste wat deur die Sentrum van Hoop verskaf word
  • Raak ’n vrywilliger wat kan help met die voorbereiding en opskep van etes. Gemeentes of kleingroepe kan aanmeld en ’n weeksdag neem waartydens hulle die aksies van daardie oggend self bestuur. Hulle maak die kos, hou ’n biduur en voer gesprekke met die mense wat by die Sentrum hulp ontvang.
  • Maak die dienste van die Sentrum aan mense bekend wat veral behoefte het aan die depressie-ondersteuningsgroep of troos-reis.
  • Adverteer die pastorale spreekkamer.
  • Oorweeg ’n kontant-donasie vir die werk van die Sentrum.
Vir meer inligting

Kontak dr Roelf Pienaar by roelfjpienaar@gmail.com

 | verskaf deur: Dr Roelf Pienaar, leraar van NG Kerk Vier Ankers, Sasolburg.

116 | Maatskaplike NOODLYN