Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Senekal – Waar daar ’n wil is, is ’n weg!

Deur Mariëtte Odendaal

“Dit was nadat ek eendag gekyk het na een van Lynette Beer se ‘Gees van uitnemendheid’-programme dat ek besluit het dat iets drasties gedoen moes word. Ek het toe besef dat ons omgewing mos ook een van uitnemendheid kan word.”

John Kotzé

Senekal is ’n boomryke dorp geleë aan die oewer van die Sandrivier in die Oos-Vrystaat. Dis mielie-, sonneblom- en sojawêreld. Die N5 nasionale pad gaan deur dié besondere dorp wat tussen Winburg in die weste en Bethlehem in die ooste geleë is.

Senekal is ook een van die eens pragtig versorgde dorpe in die Vrystaat waarvan die strate die afgelope dekades mettertyd erg agteruitgegaan het.

As jy egter deesdae in Senekal se strate afry, sal jy sien hiér is iets moois aan die gebeur. Senekal se inwoners ry deesdae kop omhoog met trots oor hul nuut opgevulde slaggate. Dis strate was nog tot verlede jaar in ’n baie slegte toestand. Verby is die dae dat jy draai-draai die hoofstraat moes afkom om al die slaggate te probeer vermy. Nou sien jy daagliks spanne werkers wat stelselmatig hul dorp se slaggate met brokkelteer opvul en vasstamp.

Wat is die rede vir die agteruitgang en hoe het die ommekeer begin?

Jy hoor dikwels in die media dat die swak toestand waarin vele Suid-Afrikaanse dorpstrate verkeer, hoofsaaklik te wyte is aan die ondoeltreffendheid van die staat en oneffektiewe bestuur van die plaaslike regering. Tot 50% van staatsbesteding word jaarliks vrugteloos aangewend, verkwis, of dit verdwyn eenvoudig net.

Dit is byna onmoontlik om as individu iets aan die toestand van so ’n uitsiglose situasie te doen, veral as jy sien hoe dit stelselmatig agteruitgaan en later byna onomkeerbaar versleg. Dis eers as iemand met passie en drif opstaan en sy gemeenskap oproep tot aksie dat omstandighede drasties kan begin verander. En dis presies wat onlangs in Senekal gebeur het.

Senekal is ’n voorbeeld van wat gedoen kan word om so ’n agteruitgang positief om te keer. John Kotzé, sameroeper en inisieerder van hul regruk-projek, vertel meer.

“Dit was nadat ek eendag gekyk het na een van Lynette Beer se ‘Gees van uitnemendheid’-programme op YouTube dat ek besluit het dat iets drasties gedoen moet word. Ek het toe besef dat ons omgewing mos ook een van uitnemendheid kan word.”

“Ek is nou op 80-jarige ouderdom op ’n stadium in my lewe waarin ek graag wil terugploeg in wat Senekal al vir my in my lewe gebied en beteken het. Lynette se praatjie het my gemotiveer om self in te spring en ons gemeenskap op te roep tot aksie.

“Nadat Morné Botha van Taupele konstruksiemaatskappy my gekontak het met die aanbod dat hulle 700 tot 800 ton brokkelteer aan ons dorp kan skenk, het ek hierin ’n regruk-geleentheid raakgesien. Hulle is tans besig om die N5 in die Senekal-omgewing oor te teer en deponeer dan brokkelteer in ons dorp.”

“Ons het toe vir die eerste keer in dertig jaar weer ons Gemeenskapsforum byeengeroep, bestaande uit die Sakekamer en ons distrik se Landbou-unie.”

“Ons het begin deur invloedryke organisasies en hul leierskap by name uit te nooi na hierdie vergadering met die versoek om hul gewig agter hierdie projek in te gooi. Instansies soos die polisie, munisipaliteit, verkeersafdeling en verskeie besigheidsmanne is uitgenooi om deel van hierdie forum te word.”

“Ons het ’n droom, doelwit en tydlyn vasgestel en sou begin met die herstel van die infrastruktuur van Senekal. Ons het met die projek afgeskop deur eerstens te fokus op die slaggate in ons dorp. Ek het onderneem om die regmaak van die slaggate as projek te bestuur.”

Dis egter ’n baie duur proses. Hoe oorkom julle dit, John?

“Elke slaggat moet eers deeglik skoongemaak word. Daarna word dit met brokkelteer gevul en dan gekompakteer. Dit kos ons gemiddeld R5 000 om 300 meter per dag te herstel; sommige dele neem natuurlik langer. Ons het ’n Nutrigrun- en Saskospan van vyftien mense, twee laaigrawe en twee kompakteerders op die projek wat betaal en in stand gehou moet word.”

“Nadat ons die eerste paar strate herstel het, het ek video’s gemaak van vervalle strate teenaan besighede wat nog nie betrokke was nie, met ’n vriendelike versoek aan die eienaars of bestuurders om deel van die projek te word deur donasies te skenk.”

“Die verbetering van die strate strek dan nie net tot voordeel van ons dorp nie, maar natuurlik ook tot voordeel van hul eie besighede.”

Wat is nodig om te verseker dat die projek suksesvol afgehandel word?

“As ons hierdie projek suksesvol wil afhandel, is die samewerking van die plaaslike munisipaliteit onontbeerlik. Op Senekal kry ons goeie samewerking van die bestuurder van die Afdeling Paaie, mnr Khiba. Ons werk ook hard daaraan om ons munisipaliteit se bestuurder, me Nomvula Malatjie van die Setsoto Plaaslike Munisipaliteit, aan boord te kry. Bygesê: Setsoto is een van ’n handjievol munisipaliteite wat ’n ongekwalifiseerde oudit-status (ook bekend as ’n skoon ouditverslag) behaal het.”

“Hierdie regruk-projek is ’n aksie wat samewerking vereis. Ons moet hierdie droom en doelwit ter harte neem. As ons glo in dit wat ons doen, sal dit wel uiteindelik vrugte afwerp, soos ons alreeds kan sien en ervaar.”

Kontak

Vir meer inligting kan jy John Kotzé kontak by john@nutrigrun.co.za of bella@nutrigrun.co.za

Nadat slaggate gevul is.
Slaggate.
John Kotzé geniet sy jaffel en koffie op die hoek van Kichnerstraat saam met sy Nutrigrun-span.
| verskaf deur John Kotzé