Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Rehabilitasie-reeks: SANCA – die keuse vir ’n nuwe begin

Ds Jannie Smith
Voorsitter: SANCA Nasionaal

Die werklikheid is dat middel-afhanklikheid ’n mediese kondisie is. Pasiënte word met ’n baie spesifieke uitgewerkte plan vir die bepaalde pasiënt behandel; dienste wat feitlik deur alle mediese fondse betaal word.

Middelafhanklikheid kom by alle inkomstevlakke van samelewings voor en het ’n geweldige afbrekende impak op enige mens wat daarmee worstel, asook op die gesin of familiekring waartoe daardie persoon behoort.

In ’n land waar tot die kleinste dorpies daagliks met die vernietigende gevolge van dwelmverslawing, alkoholisme en fetale alkoholsindroom (FAS) te kampe het, is dit baie goeie nuus as ’n mens hoor van instansies soos die South African National Council on Alcoholism and Drug Dependence (SANCA).

As ’n toonaangewende organisasie ten opsigte van die voorkoming en behandeling van middelafhanklikheid bied SANCA hoop aan baie mense. Ons het met ds Jannie Smith, die nasionale voorsitter van SANCA vir die afgelope 20 jaar, gaan gesels om meer oor hierdie organisasie te wete te kom.

Jannie, hoe het dit gebeur dat jy by SANCA betrokke geraak het?

“Ek was eers by die Aurora Addiction Recovery Centre, een van SANCA se takke in Bloemfontein, as pastorale terapeut betrokke en vanaf 1994 het ek lid van die bestuur geword. Vanaf 1996 het ek by SANCA Nasionaal se bestuur betrokke geraak.

“Ek is uit die aard van my betrokkenheid by SANCA Nasionaal by al die takke landswyd betrokke en as deel van hul lidmaatskap van SANCA besoek ek ook elkeen van die takke minstens elke tweede jaar.”

Wat is die doelwitte van SANCA?

“SANCA het sewentig jaar gelede ontstaan omdat daar die behoefte aan ’n veilige terapeutiese ruimte ontstaan het om persone met alkohol-afhanklikheid te behandel.

“Die doelwitte van SANCA is om die pandemie van afhanklikheid van byvoorbeeld alkohol, chemiese middels, dwelms, ensovoorts aan te spreek deur dienste ten opsigte van voorkoming, behandeling, nasorg, werksplekprogramme (EAP), asook voorligting by skole en universiteite aan te bied.”

Waar funksioneer SANCA oral en wat behels dit hoofsaaklik?

“SANCA het 32 takke landswyd, waarvan 12 takke binnepasiënte behandel en die res op buitepasiëntebasis behandel word.

“By die binnepasiëntefasiliteite word volwassenes (beide mans en vroue) behandel, en dan is daar ook fasiliteite wat adolessente behandel. By hierdie fasiliteite word pasiënte deur ’n multidissiplinêre span behandel. Hierdie span sluit in: mediese personeel, maatskaplike en pastorale werkers, sielkundiges, psigiaters, arbeidsterapeute, biokinetici en huishoudelike personeel wat sorg vir etes en skoonmaakdienste.”

Wat word as die uitdagendste probleme ondervind en wat kan gedoen word om dit te probeer oplos?

“Ten spyte van groot vordering wat al oor die jare gemaak is, bly stigmatisering steeds een van die grootste uitdagings waarmee mense wat worstel met middelafhanklikheid te kampe het.

“Die ander groot uitdaging is onkunde by die publiek en die idee dat middelafhanklikheid iets is waaroor jy maar net kan bid en dan los jy dit en jy is daarvan verlos. Dit werk glad nie so nie.

“Die werkikheid is dat middelafhanklikheid ’n mediese kondisie is. Pasiënte word met ’n baie spesifieke uitgewerkte plan vir die bepaalde pasiënt behandel; dienste wat feitlik deur alle mediese fondse betaal word.

“Nog ’n groot uitdaging is dat sorg en nasorg, ook vir die pasiënt se huismense, steeds ’n baie groot behoefte is. Predikante en gemeentes kan ’n baie groot rol speel ten opsigte van die versorging en instandhouding van ’n pasiënt se soberheid as hulle die siekte verstaan.”

Jannie, jy is al dekades lank by SANCA betrokke. Watter positiewe ontwikkelinge in SANCA wil jy graag onder die leser se aandag bring?

“Nasionaal het ons oor die jare baie moeite gedoen om goeie verhoudings met die staat, die privaatsektor en ook met soortgelyke internasionale instansies op te bou.

“SANCA is op die voorpunt van die ontwikkeling van behandelingsprotokolle en -programme danksy internasionale vennootskappe met van die mees gerekende rolspelers in die veld van middelafhanklikheid.

“Die feit dat alle dienste van SANCA regoor die land gestandaardiseer is, gee ook gemoedsrus aan ons pasiënte en hul betrokkenes dat hulle die bes moontlike diens ontvang. Dienste by ons SANCA-takke word deurentyd gemonitor om te verseker dat pasiënte die bes moontlike diens ontvang. Dit is as gevolg hiervan dat SANCA die voorkeurverskaffer van dienste aan mediese fondse is.”

Kontak vir meer inligting
  • SANCA Aurora: Marietjie Landsberg by 051 447 7271/5. Aurora bied binnepasiëntedienste aan volwassenes sowel as adolessente van 11 tot 18 jaar.
  • SANCA Goldfields:  Anne-Marie van Wyk by 057 352 5444. Goldfields bied buitepasiëntedienste aan.
  • SANCA Sasolburg: Magriet Botha by 016 976 2051. Sasolburg bied buitepasiëntedienste aan. 
Die aansig van Aurora Sentrum in Bloemfontein
Die aansig van Aurora Sentrum in Bloemfontein
Aurora Sentrum in Bloemfontein 3
Aurora Sentrum in Bloemfontein 3
Aurora Sentrum in Bloemfontein
Aurora Sentrum in Bloemfontein
Aurora Sentrum in Bloemfontein 2
Aurora Sentrum in Bloemfontein 2

 | Verskaf deur : Foto’s van Aurora is deur ds Jannie Smith verskaf.