Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Vrystaat dink nuut oor Diens van Barmhartigheid

Die NG Kerk Vrystaat het sedert Maart ’n nuwe Raad vir Diens van Barmhartigheid wat gemeentes en ringe wil help om nuwe maniere te vind waarop hulle hul missio dei-opdrag kan uitleef om die geestelike en fisieke nood in hul gemeenskappe te verlig.

Wat word bedoel met ‘barmhartigheid’?

“Die kerk is in haar wese geroep tot diens van barmhartigheid. Barmhartigheid is ’n integrale deel van kerk-wees,” verduidelik Hannes du Plessis, voorsitter van die Raad vir Diens van Barmhartigheid van die NG Kerk Vrystaat. “Die oorsprong van barmhartigheid is geleë in die Drie-Enige God; ons word geïnspireer deur God se liefde, barmhartigheid, geregtigheid, versoening, vrede en gemeenskap om met ander te deel.”

Du Plessis verduidelik verder: “Diens van Barmhartigheid is ook nie net kospakkies uitdeel nie. Ons sien veral in die Ou Testament dat barmhartigheid en geregtigheid nie van mekaar geskei kan word nie. Die Here is gegrief oor vormgodsdiens sonder barmhartigheid én geregtigheid. In die Nuwe Testament sien ons dat gelowiges aangemoedig word om te gee daar waar hulle niks gaan terugontvang nie en waar daar geen sprake van wederkerigheid is nie.”

Die ontstaan van NG Vrystaat se Diens van Barmhartigheid

“Dit was veral na die Anglo-Boereoorlog en die Spaanse Griep-epidemie van 1918 dat kinderhuise op verskeie dorpe in die Vrystaat tot stand gekom en gou-gou ’n sinodale aksie geword het,” vertel Bertus Celliers, dagbestuurslid van Diens van Barmhartigheid, oor die ontstaansgeskiedenis van hierdie onontbeerlike diens.

“Dit het later uitgebrei om ouetehuise en maatskaplike dienste ook in te sluit. Tot 1999 het die Sinodale Kommissie vir Diens van Barmhartigheid (SKDB) hierdie werk gekoördineer en bestuur, ingeslote baie van die eiendomme wat hiervoor gebruik is.”

Vra jy aan Celliers waarom die SKDB ontbind het, antwoord hy as volg: “Wetgewing na 1994 het die landskap waarbinne welsynswerk in ons land gedoen is, drasties verander. Dit het genoodsaak dat die Sinode Vrystaat in 1999 die SKDB se werksaamhede in drie verdeel het. Eerstens is die eiendomme geskuif na ’n nutsmaatskappy wat vandag NG Welsyn heet. Tweedens is die NG Kerk Maatskaplike Dienste (NGMD) geregistreer as ’n welsynsorganisasie (later bekend as ENGO) wat onder andere die statutêre funksies moes vervul en derdens het die SKDB voortbestaan as die been wat kerklike barmhartigheidswerk met kerklike fondse op sinodale vlak behartig het.

“Al drie hierdie instansies se besture is deur die sinode aangewys. Barmhartigheidswerk op plaaslike vlak, in besonder ouetehuise en kinderhuise, is uitgekontrakteer aan dié gemeentes en ringe wat gekies het om daarvoor verantwoordelikheid te neem onder die vaandel van NGMD. Ooreenkomste en konstitusies is met die betrokke instansies gesluit.

ENGO

Vandag is ENGO die NG Kerk se kerklike maatskaplike diensorganisasie in die Vrystaat. Celliers vertel meer oor die agtergrond van hierdie organisasie: “Die SKDB as ’n afsonderlike been, het mettertyd ophou funksioneer. Die konstitusie van NGMD, asook die stigtingsakte van NG Welsyn het rondom 2012 nuwe inhoud gekry. Een gevolg was dat die Sinode Vrystaat sedertdien een verteenwoordiger op die bestuur van beide instansies aanwys. NGMD het ook ’n nuwe naam gekry, naamlik ENGO (’n nie-regeringsorganisasie met ewigheidswaarde). ENGO en sy raad het as die barmhartigheidsbediening van die NG Kerk Vrystaat gefunksioneer.

LEES OOK: ENGO: Van ‘n paar kinderhuise tot NG Kerk se grootste welsynsorganisasie in die Vrystaat

“Aan die einde van 2020 het ENGO die moderamen van die NG Kerk Vrystaat genader met die versoek om ’n nuwe ooreenkoms te sluit waardeur ENGO los van die sinode sou funksioneer. Na hul mening het bepalings oor ENGO se verteenwoordiging op sinodale strukture ’n sogenaamde korporatiewe sluier oor beide instansies getrek wat op beide ‘n risiko plaas. Gou het dit uit die konstitusie van ENGO (2014) en stigtingsakte van NG Welsyn (2013) geblyk dat hulle, naas die NG Kerk Vrystaat, selfstandige entiteite is. Die moderamen het gevolglik besluite geneem wat die sogenaamde korporatiewe sluier verwyder het en die sinode aanbeveel om sy barmhartigheidsbediening te herdefinieer, ’n nuwe raad daarvoor aan te wys en dat nuwe ooreenkomste met ENGO gesluit moet word ten einde ’n nuwe verhouding daar te stel. Hieraan is tydens die sinodesitting in Maart vanjaar voldoen.” 

Celliers vat dit so saam: “Die uitwys van ENGO as ’n selfstandige entiteit naas die NG Kerk Vrystaat en die verwydering van die sogenaamde korporatiewe sluier het dus ’n vakuum ten opsigte van die NG Kerk Vrystaat se barmhartigheidsbediening gelaat. Dit het inderwaarheid ’n nuwe geleentheid geskep om die sinode se barmhartigheidsbediening te herdefinieer en uit te brei. Hierdeur kan waarde nou toegevoeg word tot gemeentes en ringe se barmhartigheidswerk, die verhouding met ENGO as die nalatenskap van die NG Kerk Vrystaat en ons gesamentlike barmhartigheidswerk op sinodale vlak.”

Diens van Barmhartigheid as sinodale diens is dus nou, in samewerking met vennote soos ENGO, verantwoordelik om barmhartigheidsdienste in gemeentes, ringe en sinodale verband optimaal te help uitbou.

Só kan gemeentes by die nuwe diens baat vind

Op die vraag oor hoe Diens van Barmhartigheid, as een van die vyf sinodale bedieninge, nou bestuur gaan word, antwoord Du Plessis as volg: “Die Raad van Diens van Barmhartigheid is in die eerste plek nou weer ’n bediening van die NG Kerk Vrystaat. Die raad bestaan uit ringsverteenwoordigers, ʼn verteenwoordiger uit elkeen van die ander sinodale bedieninge, ’n predikant van Torings van Hoop en ʼn verteenwoordiger van die Reformed Initiative for Community Development. Die raad het ook ’n dagbestuur, voorsitter en uitvoerende amptenaar.”

Du Plessis brei ook uit oor hoe die kerk en veral die breë samelewing hierby baat gaan vind: “Ons wil graag gemeentes en ringe help om weer nuut te dink oor barmhartigheidsdienste in hulle gemeenskap deur kundigheid en fondse daarvoor beskikbaar te stel.

“Ons wil ook gemeentes en ringe help om goeie vennootskappe te sluit met ander organisasies om sodoende saam ’n verskil te help maak. Veronderstel byvoorbeeld dat ’n gemeente geroepe voel om in hul plaaslike gemeenskap kleuters te bedien wat nie ’n kleuterskool kan bekostig nie, is dit die Here se wil dat gemeentes by sulke goed betrokke raak, of moet ons dit eerder aan die staat oorgee? Kan die ring dalk betrokke raak? Waar begin mens? Wat sê die wet? Wie mag of mag nie met die kinders werk nie? Hoe moet ouers benader word? Hoe bedien ons kinders sinvol en wat gaan dit kos? Is daar ander organisasies wat dalk reeds hiermee besig is? Ons kan gemeentes help om hierdie tipe vrae te beantwoord.

“Ons wil veral ringe help om op ’n breër vlak by barmhartigheidswerk betrokke te raak,” verduidelik Du Plessis. “Voorheen kon elke gemeente meer plaaslik fokus, maar nou is die nood só groot dat ons gemeentes en ringe met mekaar sal moet saamwerk. Ons is besig om die rampbestuur in die Vrystaat uit te brei. Die onlangse ramp by Jagersfontein is ’n goeie voorbeeld hiervan. Ons wil graag nog meer paraat en georganiseerd wees sodat, wanneer ’n ramp plaasvind, ons onmiddellik hulp kan verleen.  Ons het ook na ringe gekommunikeer dat daar hulp en fondse vir projekte vanuit ringe beskikbaar is. Ons is ook daarvan oortuig dat netwerke belangrik is. Die nood in ons land is selfs te groot vir net betrokkenheid van die NG Kerk. Ons sal moet hande vat met ander kerke en organisasies om werklik ’n verskil te kan help maak. Die Raad vir Diens van Barmhartigheid kan gemeentes en ringe hiermee help.” 

Hoe gaan ons gemeente te werk?

De la Harpe le Roux, interim uitvoerende amptenaar van Diens van Barmhartigheid, is verantwoordelik vir projekte en die Hoopfonds. Die Hoopfonds is een van die NG Kerk Vrystaat se grootste bronne van noodverleniging.

Le Roux verduidelik hoe dit tans aangewend word: “Die Hoopfonds help om tekorte aan kos, water en ander noodsaaklikhede aan te vul soos wat die fisiese ondersteuning oor die land heen gaan begin afneem (dit het trouens alreeds begin gebeur), veral na die Covid-19-pandemie. Dit delg ook die kostes vir die pastorale berading en ondersteuning van persone wat deur die onlangse slikdamramp by Jagersfontein getraumatiseer is en oor ’n langer periode hulp gaan nodig hê. Dit word, in samewerking met die plaaslike kerkleiers, gebruik om dakloses met tente of eenvoudige strukture te voorsien. Mense word gehelp om weer op die been te kom met basiese huisraad, gereedskap, ensovoorts. Indien en soos nodig, word daar ook ondersteuning gebied aan die boere wat skade gely het.

“Met die oog op die langer termyn en die pad vorentoe, sal die Hoopfonds ook ondersteuning kan bied aan die daarstel en ontwikkeling van gemeenskapsinfrastrukture (organisasies) om die funksionering van die totale gemeenskap op ’n beter plek te help plaas as voor die slikdamramp by Jagersfontein, altyd in samewerking met kerkleiers van oor die hele spektrum.”

Op die vraag hoe lidmate of gemeentes prakties by hierdie bediening betrokke kan raak, antwoord hy as volg: “Die plan is om ’n databasis op te bou van persone met bepaalde spesialis-vaardighede wat gereed sal wees om tydens enige ramptoestand in die groter Vrystaat (en selfs verder) dadelik ondersteuning te kan bied. Die ideaal is dat só ’n span op ’n gereedheidsgrondslag in al die groot sentra van ons provinsie sal staan.  Daar sal egter nog baie werk gedoen moet word om dit te laat realiseer.”

Groot drome vir nuwe inisiatief

Du Plessis het groot drome vir hierdie inisiatief: “My droom is dat die Here deur sy Gees ’n nuwe, vars briesie sal laat waai oor gemeentes, ringe en die NG Kerk Vrystaat se betrokkenheid by Diens van Barmhartigheid sowel as ons verstaan daarvan. Ek droom ook dat ons sal hande vat met ander vennote en vir eens en altyd sal saamwerk om die ernstige nood in ons land aan te spreek. Die harde werklikheid is dat die regering nie die kapasiteit het om dit te doen nie. As ons as kerke en organisasies nie die vet uit die vuur gaan haal nie, gaan niemand anders dit doen nie.”

116 | Maatskaplike NOODLYN