Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Die Tweetoringkerk in Bloemfontein, ’n Baken van Hoop

Deur Mariëtte Odendaal

‘Hier is daar geen Afrikaner of Sotho, man of vrou, huiseienaar of hawelose nie. Maar hier is Christus alles en in almal.’

Die Tweetoringkerk-leuse
(’n Gewysigde Kol 3:11)

Die NG Kerk Bloemfontein, of beter bekend as die Tweetoringkerk, is een van die stad se mees ikoniese historiese kerkgeboue en het ‘n ryk geskiedenis.

Die oorspronklike gemeente, wat om verskeie redes aan die doodloop was, het sedert die beginjare van dié eeu ’n aangrypende transformasie beleef sodat dit tans ’n totaal nuwe bediening as gemeente het.

Merkwaardig is veral die simbiotiese verhouding wat dié gemeente het met die onafhanklike Torings van Hoop NRO, wat nie aan die NG Kerk behoort nie.

Ons het meer oor die verloop van dié interessante geskiedenis gaan uitvind by ds De la Harpe le Roux, predikant van die Tweetoringkerk en leier van die NRO.

De la Harpe, vertel ons meer oor die ontstaansgeskiedenis van jul gemeente.

“Die gemeente is oorspronklik as deel van die groeiende NG Kerkgemeenskap in Bloemfontein op 30 November 1848 gestig en vier vanjaar hul 176ste bestaanjaar. Ds Andrew Murray Jnr, seun van ds Andrew Murray, die eerste moderator van die NG Kerk, was die eerste leraar vanaf 1849.

“Later, toe Bloemfontein vinnig uitgebrei het, het die behoefte aan ‘n groter kerkgebou ontstaan. Die kerkgebou, wat op 7 Mei 1880 ingewy is, is bekend vir sy indrukwekkende neo-Gotiese argitektuur. Dit is ontwerp deur die argitek Cornelis Soeterik, en die twee kenmerkende torings het aan die kerk sy naam gegee. Die bouwerk is deur Jacobus Meintjies gedoen.

“Die gebou is van sandsteen uit plaaslike bronne gemaak en het hoë gewelfde plafonne en pragtige loodglasvensters wat ‘n gevoel van eerbied en tydloosheid skep.

“Die kerkgebou se geskiedenis is ten nouste verweef met die geskiedenis van die wit Afrikaanssprekendes in die Vrystaat. Dit was die kerk van die presidente uit die era toe die Vrystaat ’n onafhanklike staat was. Tot en met die Anglo Boere-oorlog is die Vrystaat se presidente nie net in die ou kerkgebou in hul ampte bevestig nie, maar ook vanuit hierdie kerk begrawe, soos byvoorbeeld presidente Brand, Reitz en Steyn. Daar is selfs nog ’n bankie in die kerk uit die tyd van president Steyn wat duidelik vir die presidentsvrou gemerk is. Selfs die eerste president van die Republiek van Suid-Afrika, advokaat CR Swart, is in 1982 vanuit dié kerkgebou begrawe.

“Hierdie kerkgebou verteenwoordig egter ook iets van die meer ongemaklike verlede. Op 4 Februarie 1939 is die Ossewa-brandwag (OB) wat as neo-Nazi-beweging gewapende weerstand teen Suid-Afrika se deelname aan die Tweede Wêreldoorlog gebied het, in die konsistorie van die kerkgebou gestig. Ds CR Kotze, die destydse leraar, was die eerste ‘veggeneraal’ van die Ossewa-brandwag. Die OB was egter meer ’n simptoom van die weerstand van die blanke Afrikaner teen Brittanje weens die traumatiese gevolge van die Anglo Boere-oorlog, as wat hulle regtig die Nazi’s gesteun het.”

De la Harpe, vanaf 1985 het die demografie van middestede in Suid-Afrika drasties begin verander. Dit het ook die Tweetoringkerk geraak. Vertel meer.

“Ter inleiding: Met die destydse fondsinsameling van die kerkgebou het die plaaslike Barolong-stamhoof, hoofman Sipinare, £5 geskenk aan die kerk vir die ‘wit mense’; ’n vroeë ‘profetiese’ aanduiding dat dié kerkgebou eendag nie net vir blankes sou wees nie …

“Op 10 Januarie 1952 het ’n straatloper ingebreek en ’n vuurtjie voor die destydse kansel gemaak wat toe buite beheer geraak het. Genadiglik het iemand die vlamme gesien en kon die vuurtjie betyds geblus word!  Net die ou kansel en die voorkant van die orrelgalery het in die slag gebly – nog ’n vroeë ‘profetiese aanduiding’ dat die kerkgebou nie net vir die hoër klasse van die samelewing sou beskikbaar wees nie, maar oop sou wees vir almal. Die ’nuwe’, groter kansel is in 1953 ingewy.

“Blanke Afrikaanssprekendes het vanaf 1985 al hoe meer begin wegtrek uit die middestad en al hoe meer van ons ander bevolkingsgroepe het in hierdie areas begin intrek.

“Soos Bloemfontein uitgebrei het, moes gemeentes begin afstig. Aangesien baie van ons NG Kerk-lidmate uit die middestad weggetrek het, het die vinnig dalende lidmaatgetalle die Tweetoringkerk laat begin swaarkry. Terselfdertyd het armoede en hawelose mense in daardie area toegeneem en is ek in Oktober 2008 deur die sinodale bediening vir Vennote in Getuienis na die gemeente gesekondeer om hierdie nood te help verlig.

“In daardie stadium was die Torings van Hoop-bediening nog in haar kinderskoene. Ek het dié NRO geplant in uitvoering van die opdrag van Vennote in Getuienis. Ons moes armoede help verlig en uitreike onder die haweloses en armes van die stad loods.

“Die afname van ons lidmaatgetalle het voortgeduur totdat die gemeente teen November 2009 drasties ’n plan moes maak. Aan die einde van November 2009 is ’n ‘afskeidsdiens’ van die ou tradisionele Afrikaanse bediening in die ou kerkgebou gehou en ’n bediening van 161 jaar het tot sy einde gekom.”

Hierdie ‘einde’ was toe eintlik die begin van iets heeltemal nuuts. Vertel meer.

“Ja, uit die as het ’n nuwe bediening opgestaan en is daar in Januarie 2010 ’n nuwe, inklusiewe gemeente geplant. Amptelik was dit steeds ’n voortsetting van die NG Gemeente Bloemfontein, of Tweetoringkerk, maar in die praktyk was dit ’n nuwe begin en staan bekend as die Torings van Hoop Gemeenskap. ’n Gewysigde Kol 3:11 het die leuse van dié unieke gemeente geword: ‘Hier is daar geen Afrikaner of Sotho, man of vrou, huiseienaar of hawelose nie. Maar hier is Christus alles en in almal.’

“Van toe af, op enige gegewe Sondag, is sowat 95% van hulle wat in die kerkbanke sit om ’n erediens (in Engels en meer charismaties) by te woon, óf haweloos óf komende van die sinkhuisies in die townships. Sedert 2010 bestaan die NG Gemeente Bloemfontein (Tweetoringkerk) en die Torings van Hoop NRO in ’n simbiotiese verhouding – die een kan nie sonder die ander nie. Die verskillende projekte van die Torings van Hoop is in wese die ‘barmhartigheids- en uitreikwerk’ van die gemeente. As gevolg hiervan beskou die armes van die stad en die townships die gemeente as hul tuiste. Aan die ander kant verskaf die gemeente die identiteit (branding) van die Tweetoringkerk en die geloofsonderbou van die Torings van Hoop NRO.

“Die groep wat Sondae eredienste bywoon, kom vanoor die hele samelewings- en bevolkingspektrum; van mense wat op straat oorleef, tot vroue wat nog vasgevang is in prostitusie, buitelanders uit Afrika en enkele persone wat met motors ry en salarisse verdien. Van die lidmate van die ou Tweetoringkerk is daar nog een gesin oor – ’n boer en sy familie. Hy is ook die voorsitter van die kerkraad en die leierouderling. Ander kerkraadsleiers is onder andere iemand vanuit die AGS en ’n sakeman van Uganda; ons gemeente word dus bestuur deur leierskap vanuit verskeie bevolkingsgroepe.”

De la Harpe, vertel meer van die Torings van Hoop NRO se projekte.

“Graag. Danksy die uiteenlopende en verskillende projekte van die Torings van Hoop het die organisasie ook deel van ’n internasionale netwerk, die Leadership Foundations Network geword. Dit is ’n netwerk van ongeveer sewentig organisasies in stede van die VSA, Sentraal-Amerika, Indië en Afrika wat soos Torings van Hoop funksioneer en fokus op die bediening aan armes en gemarginaliseerdes in middestede. Met die woorde leadership foundation bedoel die organisasie dat dit gaan oor die konneksie van leiers vanoor die hele geloofs-, besigheids- en regeringspektrum. Die fokus daarvan is om stede te help verander sodat dit weer tuistes kan word waar almal welkom en veilig is (‘from battlegrounds to playgrounds’ – Sag. 8:4-5).

“Ek is sedert Mei 2019 as direkteur vir Afrika verantwoordelik om soortgelyke organisasies in Afrika te begelei en te ondersteun. Met die oog hierop ontvang Torings van Hoop maandeliks ’n bedrag van die Leaderships Foundation Network. Dié bydrae word dan aangewend om die ou Tweetoring-kerkgebou te onderhou en verbeterings aan te bring.

“Die kerkgebou is twee jaar gelede aan die buitekant geverf en die dak is ook herstel. Vir die toekoms het ons verskeie dinamiese planne in gedagte. Die plan is om nie net die kerkterrein te ontwikkel nie, maar ook om sekere strukturele veranderinge aan die kerksaal aan te bring sodat dit meer funksioneel vir die daaglikse Torings van Hoop-programme sal wees.

“Terselfdertyd is daar ook dringend instandhouding aan die binnekant van die ou kerkgebou nodig, soos verfwerk, die regmaak van die houtvloere en nuwe matte.”

“Buiten die Torings van Hoop-programme, bied ons gemeente ook jaarliks ’n Kersete en geskenkpakkies aan hawelose mense. Verlede jaar was daar 430 mense teenwoordig en vanjaar berei ons voor vir 500 mense.”

Hoe kan mense by dié besondere gemeente betrokke raak of hulle werk ondersteun?

Daar is verskeie maniere waarop mense die Tweetoringkerk en sy projekte, soos Torings van Hoop, kan ondersteun. Hier is ‘n paar praktiese wenke:

Finansiële ondersteuning
  • Direkte donasies: Mense kan geld bydra tot spesifieke projekte soos die Kersdagete vir haweloses. Skenkings kan in die kerk se bankrekening betaal word, met ‘n spesifieke verwysing vir die projek​.
  • Gereelde bydraes: Deur maandelikse of jaarlikse skenkings help jy die gemeente om ‘n inkomste te hê vir langtermynprojekte.
Materiële donasies
  • Kos en benodigdhede: Die kerk aanvaar donasies van nie-bederfbare voedsel en toiletware vir uitreikprogramme soos die Kersete​.
  • Vrywillige arbeid: Tydens groot projekte, soos die Kersdagmaaltyd, is vrywilligers nodig om etes voor te berei en te bedien.
Persoonlike betrokkenheid
  • Vrywilligerswerk: Sluit aan by bedieninge soos die voorbereiding en verspreiding van kospakkies.
  • Gemeenskapsondersteuning: Help met beplanning en uitvoering van uitreik-aktiwiteite, of skep bewustheid in jou eie netwerk​.
Bewusmaking
  • Sosiale media: Deel die kerk se inisiatiewe op platforms soos Facebook en Instagram om ander te inspireer om betrokke te raak.
  • Netwerkondersteuning: Nooi vriende en familie om projekte te ondersteun, of begin insamelingsaksies​.
Bid en geestelike ondersteuning

Bid vir die sukses van die gemeente se projekte en vir leiding aan die leierskapspan. Dit speel ‘n kernrol in die geestelike lewenskrag van die kerk en sy missie.

Vir meer inligting

Kontak ds De la Harpe le Roux by dlh@ngkvs.co.za

Geverfde kerkgebou
EMBRACING – Night outreach on street.
Bybelstudie met vroue vasgevang in prostitusie.
“Homeless Menu” – ’n Restaurant wat mense kos laat bestel vir “homeless” mense.
Ds De la Harpe sit op die Mev Pres Steyn bankie.
Kersfees 2022, Kersdiens.
Kersfees 2022, kos uitdeel.

 | verskaf deur:
Ds De la Harpe le Roux

116 | Maatskaplike NOODLYN