Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Is ons gereed vir die volgende ramp?

“Daar is ’n bekende gesegde wat sê jy kan van niks seker wees nie, behalwe van die dood en belasting, maar ek dink dat ons ook rampe hierby kan insluit.” So sê ds De la Harpe le Roux, uitvoerende amptenaar (interim) van die NG Kerk Sinode Vrystaat se Diens van Barmhartigheid.


Kom ons kry netwerke aan die gang!

“Rampe gebeur deurentyd en ons moet reg wees daarvoor,” sê De la Harpe. “Onlangse rampe wat ons land geruk het, soos die slikdamramp by Jagersfontein, die onluste van Julie 2021 in KwaZulu-Natal en die gasontploffing in Boksburg, is maar enkele voorbeelde van rampe wat duisende mense se lewens geraak het.

“Daarom moet ons netwerke aan die gang kry – nie net op plaaslike vlak nie, maar ook op nasionale vlak. Daar moet ook gesoek word na samewerking met ander organisasies. Ek glo die NG Kerk het talle bekwame en passievolle lidmate wat bereid sal wees om hiérby in te skakel.”

“By die Raad van Diens van Barmhartigheid besef ons hoe belangrik dit is om strukture reg oor die Vrystaat aan die gang te kry om nie onverhoeds deur die volgende ramp betrap te word nie.


Ons gaan leer by ander

“In plaas daarvan om spreekwoordelik die wiel van vooraf te ontwerp, leer ons by ander,” verduidelik De la Harpe. “Daarom het ek onlangs gaan kers opsteek by hulle wat alreeds vordering gemaak het op dié pad. Tydens ’n konsultasie, gefasiliteer deur die Sinode van Wes-Kaapland, is daar saamgedink en beplan met verteenwoordigers van die NG Kerk se  Algemene Sinode en organisasies soos The Warehouse en Heal our Land, met bewese ervaring in rampbestuur.

“Die gedagte is om nie net nasionaal nie, maar ook hier vanuit die Vrystaat met hierdie potensiële vennote hande te vat om dan nou, wat ten minste die Vrystaat betref, plaaslike netwerke regoor ons provinsie te vestig met die gepaardgaande vrywilligersopleiding.


Heal our Land

Die inligting wat Heal our Land met die groep gedeel het, bied ’n waardevolle strukturele raamwerk vir wanneer daar skielik ’n ramp in een van ons areas ontstaan. Die netwerk naaste aan so ’n ramp kan dan so gou moontlik stappe begin aktiveer. Dit werk so:

Stap een: ’n Noodsein word uitgestuur na die netwerk, minute tot enkele ure nadat die ramp plaasgevind het. Daar word dan besluit op die mees effektiewe optrede.

Stap twee: Binne die eerste ses daglig-ure ná die noodsein ontvang is, word daar bepaal wat die konteks van die ramp is – is dit ’n plaaslike ramp (soos die gasontploffing by Boksburg) of ’n groter ramp (soos byvoorbeeld die siviele onluste in KwaZulu-Natal van 2021)? Dit bepaal dan wie of watter organisasie in die netwerk leiding moet neem. Die ideaal is natuurlik om in gesprek met die regering te bly, aangesien dit hulle mandaat is om op ramptoestande te reageer. Ons wil dus nie oorneem nie, maar hand-aan-hand met die owerhede saamwerk om die krisis te help oplos.

Stap drie: Binne die eerste 24 uur nadat geïdentifiseer is watter organisasie die leiding moet neem, aktiveer die netwerk hul prosesse en begin ook ondersteuning bied.

Stap vier: 24 tot 36 uur ná die ramp plaasgevind het, moet soveel moontlik inligting bekom word oor wat presies gebeur het. Tydens hierdie stap is effektiewe kommunikasie baie belangrik. Waardevolle materiaal is deur Heal our Land ontwikkel oor die kommunikasie-prosesse wat dan moet inskop.

Stap vyf: 36 tot 60 uur ná die ramp moet reaksie op die ramp geïdentifiseer word. Kommunikasie oor wat in die area benodig word, moet korrek vanaf die bemagtigde mense op die grondvlak na buite oorgedra word.

Stap ses: 60 uur ná die ramp moet die stand van hulpverlening gekommunikeer word en verdere hulp, nadat die onmiddellike krisis aangespreek is, moet gekoördineer word.

Stap sewe: 60 uur ná die ramp moet donasies soos kos, water, klere, ensovoorts, gekoördineer word.

Stap agt: 60 uur tot drie weke ná die ramp moet bogenoemde donasies vanuit dié netwerk na die grondvlak versprei word.

Stap nege: Een tot twee weke ná die ramp vind die finale verspreiding van hulpverlening plaas en word die insident afgesluit.

Stap tien: Vyf tot tien dae ná die afsluiting van die insident word daar bepaal of daar nog nood is en gaan dit, soos met die geval van die slikdamramp by Jagersfontein, in ’n ander fase in, byvoorbeeld armoede-verligting of gemeenskapsontwikkeling, wat dan nie meer rampbestuur is nie.


Daar is ’n verskil tussen rampe, armoede-verligting en gemeenskapsontwikkeling

De la Harpe verduidelik: “Met die Jagersfonteinramp was daar ’n krisis waarop gereageer is, foute is gemaak en daar is ’n paar dinge geleer, maar die ramp as sodanig is nou verby. Ons sit egter nou, ’n paar maande later, met nagevolge van die ramp, met probleme wat voor die ramp bestaan het, wat  steeds daar is; dis dalk nou net erger omdat baie mense nou nie meer huise het nie. Dit is dus nie meer deel van rampbestuur nie, maar ’n heel ander faset wat aangespreek moet word. Die fokus verskuif dus nou na armoede-verligting en gemeenskapsontwikkeling.


Hoe beter ons voorbereid is, hoe beter kan ons op rampe reageer

“Ek droom dat ons first responders sal hê; mense wat vrywillig hul dienste sal aanbied, van paramedici tot mense wat kommunikasiekundig is. Op hierdie manier kan ons ’n hele groepering van kundigheid en netwerke opbou sodat, wanneer daar weer ’n ramp plaasvind, onmiddellike hulp geaktiveer kan word.

“Wie steek hand op?”

Foto: Boksburg ontploffing (verskaf).
Foto: KZN Julie 2021 (verskaf).
Foto: Veldbrande Vrystaat (verskaf).