Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Beukeskuil Sorgsentrum, ’n plek van hoop vir hawelose mans

Deur Mariëtte Odendaal

“Die inwoners van Beukeskuil Sorgsentrum het maar almal ’n verhaal van hoe hulle geen heenkome meer gehad het nie en op straat sou moes leef as hulle nie by die sentrum geakkommodeer sou kon word nie.”  So vertel Pieter van der Merwe, lidmaat van die NG Gemeente Riebeeckstad-Erfdeel, wat al jare lank by die sentrum betrokke is en ook voorsitter is van die gemeente se barmhartigheidsbediening.

“Vergeleke met straatbewoners is hulle heelwat beter daaraan toe. Hulle het behoorlike skuiling teen wind en weer; hulle het kos om te eet en daar is ’n kameraderie onder mekaar.”

Ons het meer gaan uitvind.

Pieter, die Beukeskuil Sorgsentrum gee vir jare lank al betekenis aan die lewens van soveel mense wat andersins op straat sou woon. Hoe het dié sentrum ontstaan?

“Dit het ’n baie interessante geskiedenis. Kort na die Tweede Wêreldoorlog het ’n boer van die plaas Beukeskuil, ’n plaas tussen Hennenman en Kroonstad, besluit om blyplek op sy plaas te gee vir hawelose mense.

“In sy testament het hy bepaal dat die oorspronklike werf van die plaas nie eendag saam met die plaas verkoop mag word nie, maar dat die opstal en die werf ’n tuiste moet bly vir hawelose mense.

“Die plaas het intussen reeds minstens drie keer van eienaar verwissel, maar die oorspronklike bepaling word steeds gerespekteer.

“Aanvanklik is vroue ook daar geakkommodeer, maar vir baie jare al bly daar net mans. Die inwoner wat tans die langste daar woon, is al 40 jaar daar.

“Aanvanklik is die opstal as huisvesting gebruik, maar die gebou het mettertyd vervalle geraak en te gevaarlik om in te woon omdat mure begin omval het.”

Hoe het dit gebeur dat die NG Gemeente Riebeeckstad-Erfdeel by dié sentrum betrokke geraak het?

“Ons gemeente het jare gelede van die mense se verblyfdilemma by Beukeskuil Sorgsentrum te hore gekom en na hulle begin uitreik.

“Daar is toe ’n klompie rondawels vir hulle gebou. Diegene wat nie in die rondawels woon nie, woon in losstaande kamers wat op die werf gebou is. Alhoewel daar plek vir elf persone is, is daar tans nege mans wat daar woon. 

“Die NG Gemeente Riebeeckstad-Erfdeel dra nie die primêre verantwoordelikheid van die sentrum nie, maar probeer deurlopend hulp verleen waar ons kan.  Die NG-gemeentes in Kroonstad vorm ’n bestuur wat na hul belange, asook na die geestelike versorging van die inwoners omsien.”

Soos die gemeente oor die jare daar betrokke was en steeds is, is die geriewe blykbaar stelselmatig verbeter. Vertel meer.

“Daar is vir die inwoners ’n ablusieblok gebou met storte, spoeltoilette en wasbakke. Water word voorsien uit ’n boorgat en verwarm deur vuur te maak in ’n ‘donkie’, ’n buite-verwarmingstelsel wat in die dae voordat daar elektrisiteit was, gebruik is. Daar is ’n bloekombos tot die inwoners se beskikking gestel waar hulle kan gaan hout kap as voorsiening vir die maak van warm water. Met hul bakkie kan hulle dan die hout vervoer.

“Die kragopwekker het oneindige probleme gegee en daarom is ’n sonkragstelsel opgerig om te verseker dat daar altyd lig is en dat die yskaste loop.

“Van tyd tot tyd word aan hulle verf voorsien sodat die huisies en rondawels in stand gehou kan word.

“Toe hulle houtstoof deurgebrand het, het ons vir hulle ’n herboude stoof gekoop en afgelewer. Dit is tans nog in gebruik.”

Die gemeente doen ook baie moeite ten opsigte van kosvoorsiening, reg?

“Ja, daar word maandeliks mieliemeel en vars groente afgelewer en soms ook ’n klompie kruideniersware.

“Die gemeente is tans besig om hulle te help om groente op groter skaal te verbou; eerstens met die doel vir eie gebruik, maar hopelik sal dit ook later ’n bron van inkomste word wanneer hulle genoeg verbou om die surplus te kan verkoop.

“Daar is ’n skadunet-tonnel van 100 vierkante meter opgerig vir dié doel. Dit word gedoen in samewerking met Alma Kwekery in Welkom en gefinansier deur fondse van die NG Kerk Vrystaat se Sinodale Diens van Barmhartigheid. Hiervoor het ons gemeente R12 000 van die kerk ontvang; iets waaroor ons baie dankbaar is.”

Pieter, op grond van watter kriteria word bepaal wie by dié merkwaardige sentrum mag woon?

“Nuwe inwoners word nie aan streng keuring onderwerp nie, maar die volgende riglyne word gevolg: die persoon moet verkieslik ’n SASSA-toelaag kry omdat dit die enigste bron van kontant vir die groep is; die persoon moet ’n begrafnispolis hê omdat hulle nie geld het om iemand op eie koste te kan begrawe nie; die persoon moenie sieklik wees nie, aangesien die naaste dorp (Kroonstad) ongeveer 45 kilometer van die plaas af is en chroniese mediese sorg moeilik bekombaar is; persone wat hulle wangedra as gevolg van drank- of dwelmmisbruik of herhaaldelik ongevraagde aggressie toon, word versoek om die sentrum te verlaat.

“Nuwe intrekkers word ook soms deur maatskaplike werkers daarheen verwys.

“Ander hoor maar van die plek deur mense wat daarvan bewus is.”

Hoe verwyl die inwoners hulle dae en hoe lyk hul toekomsvooruitsigte meestal?

“Die normale dagtake bestaan uit die versorging van die terrein en huisies en die kleinskaalse verbouing van groente wat reeds bestaan.

“Omdat hulle baie afgesonderd leef, is dit vir hulle moeilik om werk te kry en die sentrum te kan verlaat. Heelwat van hulle is ook reeds ongeveer sestig jaar oud en nie meer geskik om in poste aangestel te word nie.

“Enkeles het al daarin geslaag om uit te beweeg en hulleself weer in die gemeenskap te vestig, maar dit is die uitsondering. Normaalweg is die sentrum maar ’n laaste adres.”

’n Laaste woord, Pieter?

“Dit bly ’n voorreg om hierdie afvlerk-mense se lewenstandaard ’n bietjie te kan help verbeter.

“Ons glo dat ons hierdeur ook gehoorsaam is aan Jesus se woorde dat vir sover dit gegee word aan die geringstes dit is asof dit aan Hom gegee word.”

Vir meer inligting

Kontak Pieter van der Merwe by vdmerwep52@gmail.com

 | verskaf deur:
Ds De la Harpe le Roux

116 | Maatskaplike NOODLYN