Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Noodlyn vir maatskaplike krisisse

Die Bediening van Diens van Barmhartigheid in die NG Kerk Vrystaat het Childline Vrystaat gekontrakteer om ’n 24 uur-noodlyn (nommer 116) daar te stel waar gemeentes maatskaplike krisisse kan aanmeld sodat dit die nodige aandag kan kry.

In teorie is die hele Vrystaat (trouens ook die groter Bloemfontein) verdeel tussen die groot maatskaplike diens-organisasies. Engo, VVA, Kindersorg, Childline Vrystaat, asook die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling, het elkeen ’n area in die groter Vrystaat waar hulle die verantwoordelikheid het om maatskaplike dienste te lewer.

In die praktyk werk dit egter nie altyd so uit nie. Baie leraars en gemeentes sukkel dikwels om in die geval van ’n maatskaplike krisis die dienste van ’n professionele maatskaplike werker te verkry. Een van die redes hiervoor is waarskynlik dat, hoewel die meeste maatskaplike werkers hul bes probeer om die nodige aandag te gee wanneer ’n maatskaplike krisis aan hulle toegewys word, hulle eenvoudig te min is en elkeen se gevallelading is net te hoog. ’n Ander rede kan wees dat gemeentes soms sukkel om kontak te maak met die bepaalde maatskaplike werker wat in hulle area verantwoordelik is vir maatskaplike dienste.

Dis dan juis hierin dat die Bediening vir Diens van Barmhartigheid gemeentes wil help en ondersteun en daarom die 24-uur noodlyn daar te stel.

Die noodlyn werk as volg

1. Indien ’n gemeente nie daarin slaag om kontak te maak met die bepaalde maatskaplike werker in wie se area hulle val nie, of nie die hulp kry waarvoor daar gevra word nie, kan die krisis via die noodlyn gerapporteer word.

2. Childline kan ook behulpsaam wees om ‘n krisis by die area-werker aan te meld as die leraar daarmee probleme ondervind.

3. Sodra die krisis gerapporteer is, volg Childline Vrystaat die saak op deur eerstens vas te stel of daar reeds ‘n maatskaplike werker (in wie se gebied die krisis val) daaraan toegewys is, en indien wel, wat die vordering in die saak is.

4. Indien die saak aan niemand toegewys is nie, of indien daar binne ‘n redelike tyd niks wat betref die krisis gebeur nie, sal Childline Vrystaat ‘n maatskaplike werker daaraan toewys.

5. Childline Vrystaat onderneem dan verder om deurlopend terugvoering te gee oor die vordering in die saak aan die bepaalde gemeente, sowel as die Bediening van Diens van Barmhartigheid, met in ag neming van die aanvaarde beginsels van vertroulikheid en die bestaande POPIA-wetgewing.

6. Indien Childline Vrystaat, om watter rede ookal, nie in staat is om ‘n maatskaplike werker aan die saak toe te wys nie, sal Childline reël met ‘n ander maatskaplike diensorganisasie om aandag daaraan te gee.

7. Childline Vrystaat faktureer die Bediening van Diens van Barmhartigheid aan die einde van elke maand vir dienste gelewer.

Om hierdie diens te laat werk, word leraars en gemeentes gevra om in die besonder op die volgende te let

1. Die rapportering op die noodlyn van ’n maatskaplike krisis moet liefs deur die leraar of ’n gevolmagtigde persoon van die bepaalde kerkraad geskied.

2. Dit sal die funksionering van die diens ook geweldig help indien daar met die rapportering op die noodlyn kennis gegee kan word van wat reeds gedoen is om die krisis aan te meld by die maatskaplike diens in wie se area die gemeente val.

3. Die 24 uur-noodlyn funksioneer ook nie as ’n klagte-lyn om ander maatskaplike diensorganisasies of werkers sleg te praat of verdag te maak nie. Die bona fides (goeie trou) van elke maatskaplike diens-organisasie en werker word as gegewe aanvaar.

Hierdie diens word geloods op ’n proefbasis van ses maande, en sal ná hierdie tydperk weer deur die Bediening van Diens van Barmhartigheid geëvalueer word. Terugvoer van leraars en gemeentes oor hoe hulle hierdie diens ervaar, word verwelkom.

Die doel van hierdie inisiatief is enersyds om gemeentes te help, maar andersyds ook om die bestaande maatskaplike diens-organisasies en werkers te ondersteun.  Daarom wil die Diens van Barmhartigheid juis hiermee ekstra kapasiteit beskikbaar stel sodat mense in maatskaplike krisisse so vinnig, professioneel en ordelik as moontlik gehelp kan word.

Die Bediening van Diens van Barmhartigheid se fokus is om gemeentes, ringe en die Vrystaatse kerk te dien.

Vir enige navrae, kontak gerus vir ds De la Harpe le Roux, uitvoerende amptenaar van Diens van Barmhartigheid by dlh@ngkvs.co.za of 083 232 1051.