Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Dewetsdorp sit skouer aan die wiel

Deur Mariëtte Odendaal

“Hier is nou ’n projek wat goed afgeskop het en wat met behulp van elkeen wat kan bydra, van ons hele dorp ’n mooier omgewing sal maak tot voordeel van ons hele gemeenskap.”

Willie Lombaard

Die geskiedkundige Dewetsdorp is ongeveer 70 km suidoos van Bloemfontein geleë. Dis bees- en skaapwêreld waar mielies, hawer en radyse vir veevoer verbou word; ’n sterk boerderygemeenskap waarvan sommige al geslagte lank daar ’n bestaan voer. Dewetsdorp het ook onder andere vier sterk sportklubs met ’n paar lewendige sakeondernemings.

Maar hoe gemaak as jy voor jou oë sien hoe jou geliefde dorp stelselmatig agteruitgaan en jy jou hart vashou vir wat gaan oorbly vir jou nageslag? Jy spring uit en begin sélf iets aan die saak doen.

En dit is presies wat die gemeenskap van Dewetsdorp onder leiding en inspirasie van hul Landbou-unie gedoen het. Ons het meer gaan uitvind by Willie Lombaard, afgetrede boer, ’n gebore en getoë Dewetsdorper.

Willie, waarom het Dewetsdorp mettertyd so agteruitgegaan en wat was die gevolg daarvan?

“Die verval van ons dorp is te wyte aan die gebrek aan voldoende munisipale fondse. Gevolglik gaan die strate tot niet, asook die elektriese drade en dorpsomheinings. Ons teerstrate lyk al hoe meer na grondstrate; iets wat ons nie kan toelaat nie.

“Ons het dus besluit om ons moue op te rol en ons dorp begin herstel ter wille van ons kinders en hul nageslag.”

Hoe het Dewetsdorp se Landbou-unie te werk gegaan om die projek af te skop en die gemeenskap betrokke te kry?

“Die bestuur het besluit om heel eerste op die herstel van slaggate in ons strate te fokus.

“Op 6 Februarie vanjaar het ’n span van 150 vrywilligers uit ons gemeenskap skouer aan die wiel begin sit. Die vrywilligers was uit alle oorde – plaas- en dorpwerkers – wat met die voorbereiding van die slaggate begin het.

“’n Vrou wat vir Raubex werk en wat in Dewetsdorp grootgeword het, het my geskakel met die goeie nuus dat sy ’n span van 10 mense uitstuur met alles wat benodig word.

“Die Provinsiale Padadministrasie van Dewetsdorp het agt ton warm teer vanaf Bloemfontein met ’n vragmotor gaan haal, donasies is geskenk deur Dewetsdorp se Landbou-unie en ds De la Harpe le Roux van ons NG Kerk se Sinodale Diens van Barmhartigheid het fondse tot ons beskikking gestel waarvoor ons kan aansoek doen.

“Nog ’n riem onder die hart was Charles van Tonder en Mojale Slaghuis wat aan ons werkspanne worsbroodjies, hamburgers en Coke voorsien het.

“Dan was daar mense wat ’n kompakteerder geborg het en talle donasies is van boere en dorpsbewoners ontvang.”

Watter werkwyse is gevolg met die herstelwerk?

“Ons wou dit ordentlik doen, so nadat Raubex ’n kort opleiding aan ons gegee het, het ons weggespring. Elke gat moes vierkantig, ongeveer 10 cm diep, uitgekap word, waarna alle los grond en klippe verwyder moes word. Daarna is dit uitgeverf met emulsie en gevul met warm teer tot effens hoër as die bestaande ryvlak en dan is dit weer bo-oor met emulsie geverf om die teer te help bind.

“Met ons eerste fase is daar ongeveer 150 slaggate skoongemaak, maar alles kon nie gevul word nie, want ons het ons misgis met die hoeveelheid teer; dit was te min.

“Op 26 Februarie het ons verder gegaan en dieselfde werkwyse gevolg. Raubex het weer kom help en op 11 Maart het ons ’n 2 km-lange straat aangepak.”

Wat is jou boodskap aan die gemeenskap ten slotte, Willie?

“Ons dorp kan net in stand gehou word as ons gemeenskap betrokke raak daar waar ons verval sien. Ons kort byvoorbeeld donasies en bydraes, veral borge van twee tot drie ton warm teer.

“Hier is nou ’n projek wat goed afgeskop het en wat met behulp van elkeen wat kan bydra, van ons hele dorp ’n mooier omgewing sal maak tot voordeel van ons hele gemeenskap.

“Ons benodig veral almal se gebede en goedgunstigheid.”

Kontak

Vir meer inligting kan Willie Lombaard by ontgin240@gmail.com gekontak word.

 | verskaf 

Projek se bakkie
Ons maak slaggate reg
In aksie
Skoongemaakte slaggate voordat dit geteer is
Mense aan die werk
Voorbeelde van herstelde slaggate
Spanwerk