Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Waar jou reis na ’n nuwe en gesonder toekoms begin – Deel 1

Waar jou reis na ’n nuwe en gesonder toekoms begin – Deel 1

Deur Mariëtte Odendaal

As jy die woord “aurora” hoor, laat dink dit jou dalk dadelik aan die fassinerende aurora borealis, beter bekend as die noorderlig, wat in die verre noordelike poolstreke gesien kan word. Die woord is van Latynse oorsprong en beteken sonsopkoms.

En dit is presies wat die Aurora Addiction Recovery Centre in Bloemfontein al sedert sy ontstaan in 1966 vir soveel mense beteken het; die plek waar die son weer vir jou kan opkom.

So ’n organisasie moet egter deur ’n verskeidenheid bestuursvaardighede, asook die nodige sosiale en geestelike wysheid en insig op die spoor gehou word.

Ons het met Marietjie Landsberg, die direkteur van Aurora, gaan gesels om meer uit te vind oor haarself, wat haar pos daar behels en wat sy as die grootste uitdagings in haar beroep ervaar.

In die volgende uitgawe gaan ons meer fokus op die wanpersepsies waarvan ons moet weet ten opsigte van die gebruik van dagga, wat gesinslede kan doen om verslawing te probeer vermy, die gevaartekens van verslawing wat rooi ligte moet laat flikker, en hoe ’n mens te werk kan gaan om so iemand te help.

Marietjie, vertel ons eers meer van jouself.

“Ek is in Brakpan gebore as een van tweeling-dogtertjies en het ook daar grootgeword. My ma was ’n onderwyseres en my pa ’n elektrisiën.”

“Nadat ek in 2003 my skoolloopbaan aan die Hoërskool Stoffberg voltooi het, het ek in 2008 ’n graad in Maatskaplike Werk aan die Universiteit van Potchefstroom (tans NWU) behaal. Daarna het ek my meestersgraad in Maatskaplike Werk in 2010 verwerf.”

“Vir die afgelope sewentien jaar is my loopbaan gefokus op die veld van substansmisbruik en -versteurings of -afhanklikheid. Dit is my passie om met mense wat hiermee worstel, te werk.”

Hoe het dit gebeur dat jy by Aurora begin betrokke raak het?

“Ek was vars uit die universiteit toe ek op 21 Mei 2008 by Aurora as maatskaplike werker begin werk het. Ek het as terapeut begin werk wat verantwoordelik was vir groepswerk, terapeutiese individuele sessies asook alle verwante pasiënt-behandeling.

“Die dinamiese bestuurspan en supervisors het my destyds dadelik onder hul vlerk geneem en my in hierdie uitdagende veld help ontwikkel. My beroep as maatskaplike werker het natuurlik geweldig hierby gebaat.”

“In Januarie 2017 is ek tot senior maatskaplike werker by Aurora bevorder. Dit het behels dat ek die Jeugsentrum- en die Volwasse Sentrum-programme moes bestuur en ook verantwoordelik was vir die supervisie van die maatskaplike werkers en terapeutiese span.”

“Sedert 2018 het personeelskommelinge daartoe aanleiding gegee dat posbeskrywings verander het. Ek het die volwasse program bestuur en was verantwoordelik vir die opleidingsprogram van Aurora se personeel en ook vir die bewusmaking en bemarking van die werk wat ons hier doen.”

Wat behels jou pos tans alles?

“Ná die aftrede van Aurora se jarelange direkteur, Gert Kruger, in Oktober 2022 het ek die geleentheid gekry om bevorder te word na die pos wat ek tans beklee, naamlik as direkteur van Aurora.”

“Die pos behels die algemene strategiese asook personeelbestuur van die organisasie en verteenwoordiging van Aurora op verskeie forums en platforms wat gemoeid is met middelafhanklikheidsuitdagings in gemeenskappe.”

“Ek moet gedurig fokus op die uitbreiding en verbetering van die organisasie. Ek is ook verantwoordelik vir ons fondsinsamelings – een van my grootste uitdagings.”

“Ek fokus dus op skakeling met die media ter wille van die bemarking van die sentrum se dienste en ek netwerk met soortgelyke organisasies en belanghebbendes.”

Wat sou jy as die grootste uitdagings as direkteur van Aurora beskou?

  • Fondse

“Die grootste uitdaging vir enige nie-winsgewende organisasie (NPO) is gebrekkige befondsing om dienste te kan lewer aan persone wat nie in staat is om ’n professionele fooi daarvoor te betaal nie.”

  • Ongeregistreerde rehabilitasiesentrums

“In die veld van middelafhanklikheid is ’n baie groot uitdaging organisasies, sentrums en selfs kerke wat dienste as rehabilitasiesentrums sonder die nodige registrasie lewer. Die registrasie van rehabilitasiesentrums is van kardinale belang, omdat dit verseker dat wetlike vereistes ten opsigte van die lewering van rehabilitasieprogramme nagekom word. Daar is ook baie streng regulasies, spesifiek in verband met die mediese aspekte oor die onttrekking van middels, wat gevolg moet word.”

“Geregistreerde rehabilitasiesentrums het ook multi-professionele spanne wat spesifiek opgelei word om met middelafhanklikheid te werk. Die span bestaan uit maatskaplike werkers, sielkundiges, dokters, psigiaters, pastorale beraders en verpleegkundiges. Ongeregistreerde rehabilitasieprogramme dui soms aan dat hulle geregistreer is omdat hulle ’n NPO-registrasie het, maar hulle het dan nie die spesifieke registrasie in terme van Wet 70 (2008), die Wet op die Voorkoming en Behandeling van Substansmisbruik nie.”

“Die ongeregistreerde sentrums se personeel is gewoonlik nie opgelei om persone met afhanklikheid korrek te hanteer nie en kan ook gewoonlik nie korrek voldoen aan die persone se mediese behoeftes nie. Lyfstraf en harde fisieke werk word gewoonlik saam met liggaamsoefening soos in die Weermag van ouds gedoen. Daar word soms na dié tipe organisasies as ‘strafkampe’ verwys.”

“Die programme word ook gewoonlik deur gerehabiliteerde afhanklikes bestuur wat soms na hulleself as addiction counsellors verwys; mense wat gewoonlik nie die nodige professionele opleiding het om met middelafhanklikes te werk nie.”

“Mense wat na dié sentrums gestuur word, rapporteer dikwels mishandeling, medikasie wat nie korrek toegedien word nie en soms heeltemal gestaak word. Die strawwe het ook al in sommige gevalle aanleiding gegee tot die dood. In Augustus 2025 het die media byvoorbeeld oor so ’n geval gerapporteer in KZN. Dit was ook op Carte Blanche te sien.”

  • Middelafhanklikes verkies sielkundige eerder as rehabiliteringsbehandeling

“Middelafhanklikes verkies dikwels sentrums wat sielkundig-gediagnoseerde probleme soos depressie hanteer eerder as rehabilitasiebehandeling vir middelafhanklikheid. Die rede hiervoor is dat daar nog ’n stigma aan laasgenoemde kleef. Die gevolg is dat die werklike probleem dan nie gediagnoseer en behandel word nie.”

  • Daar kleef ’n stigma aan nie-winsgewende organisasies

“Nie-winsgewende organisasies word as welsynsinstansies beskou en die gedagte bestaan dat dienste wat daar gelewer word, nie op standaard is nie. Die teenoorgestelde is egter waar in die geval van Aurora. Ons lewer ’n uitstekende, bekostigbare professionele diens juis omdat ons nie op winsbejag gefokus is nie. Aurora lewer al sedert 1966 dienste, en spesifiek vir binnepasiëntbehandeling vanaf 1972. Terugvoering van gerehabiliteerde middelafhanklikes dui duidelik daarop dat Aurora as gerekende kenner in die veld nie onderskat moet word net omdat ons ’n NPO is nie.”

  • Gemeenskappe wat die gebruik van sekere afhanklikheidsvormende middels aanhits

“Voorbeelde van hierdie middels is ‘vape’ (’n e-sigaret), energiedrankies met hoë kaffeïeninhoud, oor-die-toonbank-medikasie, slaap- en ander psigiatriese medikasies wat nie ná deeglike assessering deur ’n psigiater voorgeskryf is nie.”

  • Die invloed van die media

“Die media en sekere beïnvloeders hits mense aan om met middels te eksperimenteer en gee voor dat die gebruik van sekere middels, veral duur alkohol en dwelms, ’n statussimbool is.”

  • Negatiewe gedrag as gevolg van middelafhanklikheid

“Daar word sosiaal aanvaar dat spanning en negatiewe emosies met drank, kos, dwelms en selfs inkopies (retail therapy) reg of beter gemaak kan word.”

  • Die rol wat ouers speel

“Soms laat ouers die eksperimentering met veral alkohol en dagga toe en moedig selfs hul kinders (wat nog baie jonk is, soms jonger as tien jaar oud) aan om dit te doen.”

Watter rol kan jy speel om gemeentes of instansie soos skole meer daarvan bewus te maak?

“Aurora is beskikbaar om inligtingsessies en selfs opleidingssessies by kerke, skole en organisasies na behoefte aan te bied.”

“Ons kan ook aan werkgewers spesiale programme vir hul besigheid help ontwikkel en beleidsdokumente help skryf sodat wetgewing hier gevolg kan word. Dieselfde diens kan ook aan skole verskaf word.”

“Ons praatjies is opvoedkundig en inligting-gedrewe, wat ’n meer positiewe en wetenskaplike manier bied om die spesifieke probleem te hanteer.”

Vir meer inligting kan Marietjie Landsberg by director@auroracentre.co.za gekontak word.

Die aansig van Aurora Sentrum in Bloemfontein
Die aansig van Aurora Sentrum in Bloemfontein

 | Foto verskaf : Marietjie Landsberg, Aurora-direkteur