Deur Mariëtte Odendaal
Daar was ’n oorweldigende gevoel van dankbaarheid. ’n Vrou wat terminale kanker het, het ná die tyd gesê: ‘Ek vou die kombers om my en klim net so in die bed – dit voel vir my of die sagtheid van die kombers my toevou en vertroos.’
Ds Hennie van Wyk
Leraar: NG Gemeente Smithfield
Wat is nou saliger as om toegewikkel in ’n warm kombers, snoesig langs ’n kaggelvuur, jou koffie te drink en ’n boek te lees terwyl die wind buite om die hoeke van jou huis loei?
Almal is egter nie so gelukkig nie – dit weet ons maar alte goed. Daar is duisende mense wat jaarliks sukkel om ons land se ongenaakbare winters te oorleef omdat hulle as werkloses of as bejaardes geen ekstra inkomste meer verdien om die pot aan die kook te hou nie, wat nog te sê om die luukse van komberse te kan bekostig.
As jy wat meer het, dan met sagte oë na hierdie mense begin kyk, maak jy ’n plan; presies dit wat die NG Kerk Smithfield gedoen het. Ons het meer daaroor by hul predikant, ds Hennie van Wyk, gaan uitvind.
Hennie, hoe het dit gebeur dat jul gemeente besluit het om ’n kombersprojek te loods?
“Ons gemeente bestaan uit agt wyke. Vyf daarvan is plaaswyke, twee is dorpswyke en dan is daar die Rietpoortwyk wat hoofsaaklik uit ’n bruin gemeenskap bestaan.
“Soos die meeste van ons plattelandse dorpe is hier baie armoede, en werkloosheid vier hoogty. Ons gemeente beplan al geruime tyd om ’n projek in die Rietpoortwyk van stapel te stuur, omdat ons die nood daar raaksien. Daar is ook baie bejaardes wat net hulle SASSA-toelaag as bron van inkomste het, en die nood is groot.
“Buiten hierdie oorlewingsuitdaging word Smithfield ook besonder koud. Ons het al in hierdie winter meer as twee keer die koudste temperature in die land gemeet.
“Nadat ds De la Harpe le Roux, die uitvoerende amptenaar van ons sinode se Diens van Barmhartigheid, die Rietpoortwyk besoek het, het hy die groen lig vir ondersteuning aan ons projekgedagte gegee en is daar besluit om hierdie gemeenskap te help; ons sou ’n kombersprojek loods.
“Ons gemeente het komberse aangekoop en dit begin versprei waar die nood die hoogste was. Daar is nou ook komberse wat in die kerk gebruik kan word as lidmate te koud kry en ’n kombers om hulle wil draai om gedurende die diens warm te bly.”
Om so ’n projek te loods moet daar natuurlik sekere stappe gevolg word. Hoe het julle gemeente te werk gegaan om dit tot uitvoering te bring?
“Nadat ons al ’n hele ruk die nood in ons Rietpoortwyk raakgesien het, is daar besluit dat ons as gemeente sal moet inspring om te help. Maar waar sou ons fondse kry en hoe moes ons te werk gaan?
“Dit was egter na ’n sinodale besoek van ds Le Roux dat die wiele begin rol het. Hy het die moontlikheid genoem dat die sinode finansieel R20 000 sal kan bydra tot so ’n projek. Volgens ds Le Roux het die Diens van Barmhartigheid ’n grootboekrekening, Projek Medewerkers, waar gemeentes en ringe kan aansoek doen vir projekte rondom barmhartigheid. Gewoonlik gee hulle dan so R20 000 (of minder as minder versoek word) per aansoek.
“Ons het toe die nodige dokumente gekry, voltooi en aan die sinode voorgelê, waarna ons fondse ontvang het om ons te help om die kombersprojek te loods.
“’n Deel van die fonds is gebruik om dadelik komberse aan te koop om in die hoë nood te voorsien. Die balans sal ook gebruik word om komberse aan te koop wat vir eers gestoor en uitgedeel sal word soos nodig. Die N6 loop deur Smithfield en dit gebeur soms dat mense met ‘n rygeleentheid hier afgelaai word en dan vir ‘n aand of twee geen heenkome het nie. In die verlede was dit altyd ‘n geskarrel om hulle warm te hou as hulle nie oornag gehuisves kan word nie. Van die komberse sal ook voortaan hiervoor aangewend word.
“Aangesien dit moeilik was om te bepaal wie komberse moes ontvang, is die hulp van die voorsitter van Gesinsorg en die ouderlinge van die Rietpoortwyk ingespan. Die Gesinsorgvoorsitter het ’n lys van gesinne met die hoogste nood saamgestel en die ouderlinge van Rietpoort het die grootste behoeftes in hulle gemeenskap geïdentifiseer.
“Nadat hierdie geïdentifiseerde gesinne van komberse voorsien is, is van die komberse in die breër gemeenskap versprei en die res is tydens ’n diens aan die ouderlinge van Rietpoort oorhandig om tydens eredienste gebruik te word. In totaal is daar dertig gesinne van komberse voorsien; iets wat vir hulle hierdie winter help oorleef en draagliker help maak het.”
Ek kan my net indink wat dit vir hierdie gemeenskap beteken het. Wat was hulle reaksie daarop, Hennie?
“Daar was ’n oorweldigende gevoel van dankbaarheid. ’n Vrou wat terminale kanker het, het ná die tyd gesê: ‘Ek vou die kombers om my en klim net so in die bed – dit voel vir my of die sagtheid van die kombers my toevou en vertroos.’
“Iemand anders het weer genoem hoe die warmte van die kombers teen haar lyf die koue meer draaglik help maak.
“Een van die Rietpoort-lidmate het dadelik die kombers oopgemaak en om haar bene gevou.”
Wat het hierdie projek vir julle as gemeente beteken?
“Aangesien die komberse nie net aan NG Kerk-lidmate versprei is nie, maar aan die hele gemeenskap, het ons gemeente ervaar dat hulle nie net op hulleself en hul eie behoeftes fokus nie, maar ook na hul gemeenskap as geheel kyk en die nood raaksien.
“As navolgers van Christus is dit ’n getuienis van omgee en mededeelsaamheid in die groter gemeenskap.”
Kontak
Vir meer inligting kan ds Hennie van Wyk by ngsmithfield@gmail.com of ds De la Harpe le Roux by dlh@ngkvs.co.za gekontak word.
| Verskaf deur: NG Gemeente Smithfield.

