Die afgelope jaar het daar ’n hele paar veranderinge by die Diens van Barmhartigheid van die Sinode Vrystaat plaasgevind. Om beter te verstaan hoe dit tans in die praktyk werk, het ons gaan kers opsteek by ds Hannes du Plessis, voorsitter van dié bediening.
Vanaf 1 Maart is ds De la Harpe le Roux weg van Vennote in Getuienis en as uitvoerende amptenaar by die Diens van Barmhartigheid Bediening aangestel. Wat was die aanloop tot hierdie besluit?
Hierop antwoord Du Plessis as volg: “Die 2022-Sinodesitting het ’n nuwe werkswyse vir die Bediening van Barmhartigheid goedgekeur wat meegebring het dat die permanente bedieninge van die Sinode, naamlik Vennote in Getuienis, Diens van Barmhartigheid en Bedieningsbegeleiding, nou op gelyke vlak binne die bestuur van die Sinode funksioneer. Die Raad vir Diens van Barmhartigheid, wat ’n verteenwoordiger uit elke ring in die Vrystaat het, het vinnig besef dat dié bediening (soos die ander bedieninge in die Sinode Vrystaat) ook ’n uitvoerende amptenaar benodig om die verantwoordelikhede wat aan ons toegeken is, tot die beste van ons vermoë na te kom.”
De la Harpe le Roux is in hierdie pos aangestel. Waarom sou jy sê is juis hý ’n geskikte persoon vir hierdie pos?
“Ek dink daar is min mense met die deurleefde ervaring van barmhartigheidswerk wat Le Roux het,” sê Du Plessis. “Hy werk al vir baie jare in die middestad van Bloemfontein met mense in nood. Daarmee saam het hy oor die jare baie ervaring en kennis opgedoen rondom vennote en organisasies (nasionaal en internasionaal) waarmee gemeentes en ringe kan saamwerk.”
“Tydens die 2022-begrotingsproses is daar onderling tussen die bedieninge ooreengekom om die toegekende pro rata-bedrag op ’n gelyke basis tussen die drie permanente bedieninge te verdeel,” verduidelik Du Plessis. “Die vierde deel van die pro rata-bydraes is aan die Visionering en Ondersteuningsbediening toegeken.”
“Hierdie was ’n wegbeweeg van die tradisionele verdeling waarin sekere bedieninge persentasiegewys baie meer as die ander bedieninge ontvang het. In die 2022-begroting is gelyke verdeling daarop gebaseer dat die Visionering en Ondersteuningsbediening ’n mindere persentasie benodig en kon die drie ander bedieninge ’n 27.7%-toedeling ontvang. Om binne ’n kleinerwordende pro rata die befondsing van Diens van Barmhartigheid te kan bekostig, het die bedieninge onderling ooreengekom dat vir die 2023-begroting ’n 25%-toedeling sal geld wat dan aan die Visionering en Ondersteuningsbediening 7.5% meer beskikbaar sal maak.”
“Wat betref die personeel van die bediening, is daar gewerk binne die bestaande raamwerk en besluite van die Sinode, naamlik die moratorium op nuwe aanstellings op sinodale vlak en dat dit nie die bestaande begroting mag vergroot nie. Daar is gekyk na bestaande personeel wat reeds deur die bedieninge van die Sinode betaal word, soos byvoorbeeld by Vennote in Getuienis is daar ’n bestaande pos wat gevul is deur ds De La Harpe le Roux.”
“Na gesprekke tussen die dagbesture van Vennote in Getuienis en Diens van Barmhartigheid is ooreengekom dat Le Roux herontplooi sal word na Diens van Barmhartigheid. Vennote in Getuienis kan van die werksaamhede waarvoor hulle tans verantwoordelik is, uitkontrakteer deur tyd uit te koop by leraars in gemeentes. Dit bring mee dat geen nuwe pos geskep hoef te word nie, maar dat bestaande personeel aangewend word.”
Wat behels Le Roux se take of uitkomste wat gelewer moet word in hierdie nuwe pos?
Die verantwoordelikhede van dié pos kan verander soos gemeentes se behoeftes bepaal word, maar tans behels dit:
- Multi-dissiplinêre navorsing en besinning oor gemeentelike (in rings- en sinodale verband ingeslote) Diens van Barmhartigheid (’n diakonale ekklesiologie), en die bepaling van strategie en beleid vir die uitvoering hiervan;
- Inspirasie, ondersteuning en advies aan gemeentes, ringe en die Sinode ten opsigte van alle aspekte van Diens van Barmhartigheid, ingesluit hul verhoudings en vennootskappe met Engo, ander kerke en ander organisasies;
- Die identifisering en daarstelling van aspekte van barmhartigheidswerk wat gemeentes in sinodale verband saam beter kan doen;
- Die vestiging en instandhouding van ’n verhoudingsgebaseerde vennootskap met Engo en NG Welsyn en ander soortgelyke organisasies deur toepaslike ooreenkomste en ’n gedeelde visie ten opsigte van Engo, NG Welsyn en ander soortgelyke organisasies se spesialisasiegebiede;
- Die vestiging en uitbou van verhoudings met ander kerke in nouer en breër ekumeniese verband met die oog op samewerking in alle aspekte van Diens van Barmhartigheid;
- Die identifisering van organisasies wat betrokke is by Diens van Barmhartigheid (in die breë sin van die woord – sien punt 2 hierbo) in die Vrystaat en die sluit van toepaslike ooreenkomste waar, vanuit ’n gedeelde waarde-sisteem, wedersyds waarde toegevoeg kan word tot dienslewering en/of gesamentlike aksies;
- Die bestuur van die Hoopfonds gesetel onder Diens van Barmhartigheid;
- Die aanwys, bestuur en koördinering van permanente en tydelike taakspanne, asook ander strukture wat vir die uitvoering van die werksaamhede van Diens van Barmhartigheid nodig sal wees;
- Identifisering van terreine waar formele samewerking met ander bedieninge en taakspanne van die Sinode sinvol sal wees, en die aktiewe deelname daaraan;
- Die vasstelling van ’n begroting vir dié bediening in oorleg met die Visionering en Ondersteuningsbediening;
- Verslagdoening aan die moderamen en die Sinode.
Hoe kan ringe, gemeentes en lidmate by hierdie bediening of diens inkoop en betrokke raak?
Hierop antwoord Du Plessis as volg: “Die bediening vir Diens van Barmhartigheid se hoofdoel is om gemeentes en ringe te help met hul diens van barmhartigheidswerk. Gemeentes en ringe is dikwels bewus van die nood in die gemeente en omgewing, maar hierdie nood is meestal so groot dat dit vir sommige gemeentes oorweldigend kan wees.”
“Ons wil graag gemeentes en ringe help om weer nuut te dink oor hul diens van barmhartigheid in hul gemeenskappe deur kundigheid en fondse daarvoor beskikbaar te stel. Ons wil ook gemeentes en ringe help om goeie vennootskappe te sluit met ander organisasies om sodoende saam ’n verskil te maak.”
“Ons wil veral ringe help om op ’n breër vlak by barmhartigheidswerk betrokke te raak. Voorheen kon elke gemeente meer plaaslik fokus, maar nou is die nood só groot dat ons saam met mekaar sal moet werk.”
“Ons is byvoorbeeld besig om die rampbestuur in die Vrystaat uit te brei. Wanneer ’n gemeente of gemeenskap in die Vrystaat deur ’n ramp getref word, is ons reeds gerat om op verskeie maniere in ’n kort tydjie die nood aan te spreek.”
“Ons is ook oortuig daarvan dat netwerke belangrik is. Die nood in ons land is selfs te groot vir net die NG Kerk. Ons sal moet hande vat met ander kerke en organisasies om werklik ’n verskil te maak. Die Raad vir Diens van Barmhartigheid kan gemeentes en ringe hiermee help.”
Indien julle as gemeente of ring graag raad of hulp met barmhartigheidswerk nodig het, maak gerus kontak met Diens van Barmhartigheid. Hulle is gretig om julle te besoek en te help waar hulle kan.
Vir enige navrae of hulp kan julle die volgende persone skakel:
- Sanet Annandale (Adminstratiewe Beampte, Sinodale Kerkkantoor) | (051) 406 6729
- De la Harpe le Roux (Uitvoerende Amptenaar, Diens van Barmhartigheid) | 083 232 1051
- Hannes du Plessis (Voorsitter, Diens van Barmhartigheid) | 062 127 5300

Foto: Ds De la Harpe le Roux, Uitvoerende Amptenaar van Diens van Barmhartigheid