‘n Byna dooie, maanagtige landskap begroet jou reeds die laaste paar kilometers voor Jagersfontein, op die pad van Bloemfontein af. ‘n Dik laag klei-agtige stof is al wat oorbly daar waar die massa grys mynslik enkele dae gelede nog oor die hoofpad gestroom het. Dit het alles wat in die pad was, eenvoudig meegesleur. Soos verwronge geraamtes lê motorwrakke, wat kort gelede nog hul eienaars se trots was, gevries in onnatuurlike posisies van hul laaste stuiptrekkings. Modderbevlekte huisies, ineengestorte mure en verwoeste kamers is die stille getuienis van die verskrikking van wat hier gebeur het op Sondagoggend 11 September, op die dag 21 jaar na die verskrikking van 9/11. Dis op ‘n ander kontinent, in ‘n ander stad. Maar vir inwoners van die township Itumeleng en die ou mynkamp Charlesville was verlede Sondag nie minder traumaties nie. Dis veral in Charlesville waar die verwoesting die ergste is; ‘n strook huise het eenvoudig verdwyn. Dis net die uiterste genade dat daar nie groter lewensverlies was nie. Die ramp van Sondag 11 September het Jagersfontein onherroeplik verander. Die diamantmyn, wat volgens baie die lewensaar van die dorpie is, het in ‘n oggend se tyd dié dorpie gebring tot op die rand van vernietiging. Maar, die mens se rampe, chaos en verleentheid, is genadiglik altyd God se geleentheid!

En wat ‘n seën is die lidmate en leiers van die plaaslike NG Gemeente nie! Sonder ‘n voltydse leraar, maar met ‘n liefde vir en toewyding aan die mense van die dorp, word daar leiding geneem om hulle wat skade gely het, te ondersteun, by te staan en te vertroos. Dit word natuurlik nie in isolasie van die ander gemeenskappe van die dorp gedoen nie en die geleentheid is daar om nouer saam te werk met ander gosdiensleiers in veral die geaffekteerde buurtes. In samewerking met Oupa Kalé, ‘n gemeenskapsleier met wie James Ross, die leier-ouderling al sedert 1994 ‘n pad mee loop, word daar vanuit Jagersfontein se NG kerksaal op ‘n gekontroleerde wyse kospakkies en ander hulp uitgedeel aan hulle wat só baie in die ramp verloor het. Ja, daar is en was al voor die slikdam-ramp groot nood en armoede in die dorp, maar hier gaan dit nou in die eerste plek om hulle wat direk deur die moddermassa gestroop is van die bietjie of meer wat hulle gehad het.
Onderwyl kos en ander noodvoorrade van oral oor instroom, het ons van die NG Vrystaat Sinodale kantoor ‘n baie positiewe en praktiese gesprek met die leierskap van die gemeente gehad. Die doel, nie om vir hulle “te sê” wat hulle moet doen nie, maar om langs hulle te kom staan, saam te luister en saam te besin oor die pad vorentoe in hiérdie krisis, deur raak te sien wat dit is wat die Here wil hê moet gebeur. Dit sluit nie net in die kort- en mediumtermyn hulpverlenging wat betref kos, komberse, ens, nie, maar ook die aanspreek van die behoefte aan pastorale berading en versorging van diegene wat dit nodig sou hê, die hervestiging van mense wat nou sonder heenkome is en die krisis in die boerderygemeenskap van weiveld wat tot niet is en die besoedeling van waterbronne.
Ofskoon Eskom die elektriese substasie wat deur die modderslyk oorweldig is, herstel het en die waterpompe op die dorp weer werk, is daar steeds ‘n groot behoefte aan drinkwater, aangesien daar onsekerheid is of die dorp se water veilig is. Bloemwater het die afgelope week nog getrou skoon water aangery na die dorp. Maar mense weet nie hoe lank daarmee nog volgehou sal kan word nie.
Wyl alle ondersteuning van watter aard ookal opreg waardeer word, kan die volgende oorweeg word om aan te stuur: Tandeborsels, skeermesse, waslappe, handdoeke, onderklere, toiletpapier, lyfroom, baba-doeke, en roll-on’s. Daar is ook nood aan 1 200 losstaande ligte (werk met batterye) vir die inwoners van Charlesville – die hele kragnetwerk in dié buurt is vernietig deur die vloed.
Ek wil graag glo dat Jagersfontein en haar mense nie net sal kan opstaan uit hierdie ramp nie, maar selfs nog sterker en hegter aan mekaar verbind sal wees, om dit te wees wat die Here se wil is vir hierdie unieke kosbare Suid-Vrystaatse plattelandse dorp. Soli Deo Gloria!