Uitvoerende Amptenaar van Bedieningsbegeleiding
Woensdag 5 Maart 2025 is Aswoensdag, die begin van Lydenstyd. In hierdie tyd gedenk Christene die lyding en dood van ons verlosser Jesus Christus. Die oudste opgetekende rekord van hierdie gebruik gaan terug na 313 n.C.
Lydenstyd strek van Aswoensdag tot Stil Saterdag, die dag voor Jesus se opstanding. Ons praat tradisioneel van die 40 dae van lydenstyd, dieselfde tyd as wat Jesus in die woestyn deurgebring het. As jy egter die dae sou gaan tel, sal jy sien dat dit meer as 40 dae is. Om dit te verklaar, moet ons in ag neem dat Sondae dae van viering en blydskap is en nie bygetel word by Lydenstyd nie.
Gedurende Lydenstyd word ons voorberei om Paasfees te vier deur te fokus op Jesus se lyding en my aandeel daaraan – dis immers vir my sonde dat Hy gesterf het! Aswoensdag – wanneer ons spesifiek fokus op ons eie sterflikheid – en Lydenstyd wat daarop volg, is tradisioneel ’n tyd van geestelike vernuwing vir beide gelowiges en gemeentes. Reeds in die Ou Testament kry ons die gebruik om as oor jou kop te strooi as teken van berou: Daniël doen dit in Daniël 9:3, en in Jona 3:6 lees ons dat die koning van Nineve op ‘n ashoop gaan sit het as teken van berou.
Die gebruik in die kerk is om die palmtakke wat die vorige jaar tydens Palmsondag gebruik is, te bêre, dit te verbrand, en dan daardie as te gebruik om die teken van die kruis op die voorkop van gelowiges te maak. Met hierdie teken herdenk ons die plaasvervangende kruisdood van Jesus, maar ook die beloftes wat daarmee saamgaan: Die geringe help Hy op uit die stof, die arme laat Hy van die ashoop af opstaan om hom by vernames te laat sit, by die vernames van sy volk (Psalm 113:7).
