Sameroeper van die Spiritualiteit Netwerk en aanbieder by vanjaar se Vrystaatse Vroueretreat
Geloof, egter, is sekerheid van die dinge wat gehoop word, ’n bewys van die dinge wat nie gesien word nie.
Hebreërs 11:1
Toe sê Hy wat op die troon sit: “Kyk, ek maak alles nuut.”
Openbaring 21:5
In die vorige uitgawe van Vrypos het dr Leon M Foot se ‘laaste gedagte’ gehandel oor slaap – hoe slaap ek? Kommervry – of lê ek en rondrol met my ‘kleine kommer’ (Liedboek 203)?
En droom? Wat droom ek? Angswekkende nagmerries was deel van my kindertydse droomlandskap, maar dankie tog, deesdae – eintlik jare al – is nagmerries nie meer nagteliks my lot nie. Maar dis nie so maklik om dieselfde te sê van ons wakker staat nie. Watter nagmerries speel in en om ons lewens af? Hoe kan ons bly droom en hoop te midde van alles wat ons daagliks sien, hoor en beleef?
Augustus is Vrouemaand – wat droom ons as vroue vir onsself, vir mekaar, vir ons gesinne en familie, vir ons gemeenskappe, vir ons kerk, vir ons land, vir die onderstebo wêreld waarin ons ons bevind? Hou ons op droom en hoop as ons deur magteloosheid oorval en oorweldig word? Dis realisties om te vra: Het dit enigsins nog sin om drome te koester? Kyk hoe lyk ons wêreld: Oorlog en bloedige geweld; politieke magspeletjies; korrupsie; kleinlike bekgevegte; misdaad; werkloosheid; kinders wat koud en honger, verwaarloos en uitsigloos grootword; nuwe sinkkaias wat oornag soos masels teen heuwelhange uitslaan; ons planeet wat besig is om te oorverhit; oseane vol plastiek; oorstromings wat als platvee en meesleur; inferno’s wat buite beheer brand …
Die tema van ons Vrystaatse Vroueretreat van 9 tot 11 Augustus is ‘Deel van God se Storie’. Ons verstaan nie altyd God se storie nie, nog minder hoe ons deel daarvan uitmaak. Maar ons moet daagliks bly delf, dieper en dieper, om God se waarheid te ontdek en daaroor te bly droom. Wat droom God vir ons? Wat hoop God vir ons – te midde van ons oorweldigende realiteit?
Ek dink dis belangrik om met perspektief te droom: Groot droom waar groot dinge moontlik is, en beskeie droom waar my speelruimte beperk is. Nie omdat God ‘n God van klein drome is nie, maar omdat ons self dikwels nie meer die uitsig en insig het om groot drome te koester nie. Ons vlammetjie van hoop brand dikwels maar laag. Maar moenie toelaat dat omstandighede jou van jou drome beroof nie! Hou vas aan God se belofte dat alles nuut word – nou, in elke oomblik, te midde van die skynbare hooploosheid. Moenie die energie demp wat die Heilige Gees so mildelik uitdeel te midde van elke omstandigheid nie. Bly ingetap daarby – en bly droom.
Ek het in die laaste tyd bewus geraak van die krag van klein oomblikke, hoe dit ’n vonk van die Gees tussen mense kan laat skiet, hoe dit ’n mens weer ’n bietjie vryer kan laat asemhaal en hoop gee. Ek noem ’n voorbeeld: Op die plaaspad waar ek altyd gaan stap, kom ek ’n man teë met ’n kruiwa vol hout, netjies gesaag (’n alledaagse gesig langs ons paaie deesdae; veral ook vroue met onmoontlike bondels hout op die kop). Die hout is gesaag van takke wat verder af in die plaaspad deur ’n storm afgeruk is. Ek steek vas om te gesels. Hy vertel hy neem die hout na sy ma se huis in die township – sowat 10 km verder. “Sy het nie geld vir paraffien nie,” sê hy.
“Dis darem baie swaar om hierdie hout so ver te stoot,” sê ek.
“Dis swaar, ja,” beaam hy, “maar die Here hy ês.”
Die Here hy ês …
Durf ons dan ophou droom?

| verskaf: Magdaleen du Toit, Sameroeper van die Spiritualiteit Netwerk en aanbieder by vanjaar se Vrystaatse Vroueretreat