Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Skrifgebruik

Deur ds Lood Oliver, leraar van NG Gemeente Welkom-Noord

In die NG Kerk is daar tans uiteenlopende standpunte oor ’n aantal sake.  Elke groep wat ’n standpunt ondersteun, beroep hulle op die Skrif.  Daar is uitsprake soos:  Dit is wat ek lees.  Daar staan geskrywe.  Die Bybel leer tog duidelik …  Dan is daar nog die kwessie van interpretasie ook.  Die een verstaan dit sus en die ander een so.  En dan word daar maklik beskuldigings gemaak soos:  Julle dwaal.  Julle is ketters.

Ongelukkig of dalk gelukkig werk die Bybel nie soos ’n ensiklopedia nie.  Daar is nie ’n indeks met ’n klomp verskillende sake met bladsyverwysings waar jy kan gaan lees daaroor nie.  ’n Klomp sake wat ons vas glo, berus op interpretasie.  En ’n klomp hiervan het al baie verander deur die jare.  In die eerste jare wat ons televisie in Suid-Afrika gehad het, was daar nie sport uitgesaai op ’n Sondag nie.  Sondagsport  was ’n soort van euwel.  Daar was selfs ’n baie gewilde rolprent gemaak oor ’n atleet wat gekies het om nie op ’n Sondag deel te neem aan atletiek nie (Chariots of Fire).  Later het ons besef die musiek was baie mooi gewees, maar die Bybel het geen reëls oor ’n Sondag nie.  Daar is wel baie reëls oor die Sabbat – Saterdag.  In ons tradisie is ons Bybels gesproke almal mense wat die Sabbat ontheilig, maar dit pla ons nie.

Ons kritiseer die Rooms-Katolieke Kerk omdat hulle steeds glo dat die brood en wyn by die nagmaal werklik liggaam en bloed van Jesus is en tog lees die Skrif duidelik:  En terwyl hulle eet, het Jesus brood geneem en die seën gevra. Daarna het Hy dit gebreek en vir sy dissipels gegee met die woorde: “Neem, eet; dit is my liggaam.” (Matteus 26:26)  Toe neem Hy ‘n beker, en nadat Hy die dankgebed uitgespreek het, gee Hy dit vir hulle en sê:  “Drink almal daaruit, want dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie vergiet word tot vergewing van sondes. (Matteus 26: 27,28)  Net so terloops word daar nie kelkies gebruik nie, maar ’n beker.  Ons interpreteer Jesus se woorde anders.

’n Vers wat baie verwarrend kan wees ten opsigte van selfdegeslagverhoudings, is 2 Sameul 1:26 – Dawid sing ’n treurlied oor Jonatan en dan sê hy:  Ek is bedroef oor jou, my broer Jonatan.  Jy was baie na aan my hart.  Jou liefde was vir my wonderliker as die liefde van enige vrou.  ’n Klomp geleerdes interpreteer dit dat ons hier te doen het met ’n baie hegte vriendskap, maar dis nie hoe die vertaling dit uitdruk nie.

Ons doop babatjies in die kerk terwyl daar nie op een plek in die Nuwe Testament genoem word dat babatjies gedoop is nie.  Dit is ’n tradisie wat ontstaan het in die vroeë christelike kerk en tot vandag nog voortgesit word.

Ons het oor die algemeen nie veel probleme met lidmate wat geskei is nie, terwyl die Bybel duidelik leer:  Die Here die God van Israel sê Hy haat egskeiding. Egskeiding is niks anders as geweld nie, sê die Here die Almagtige. Beheers julle, moenie ontrou wees nie. Maleagi 2:16

Daar is talle ander voorbeelde waarop ek nie nou sal ingaan nie.

Die punt wat ek wil maak, is dat beide kante van die gesprek/rusie dikwels selektief is met Bybellees.  Ons lees die gedeeltes wat pas by wat ons graag wil hê mense moet glo en ons haal dit aan.  Ons interpreteer die Bybel dikwels soos wat dit ons pas en leer ander ook so.

Kan ons nie by ’n punt uitkom nie om te sê:

      • Teologie is nie ’n eksakte wetenskap nie.
      • Daar is sake wat ononderhandelbaar is, soos ons redding deur Jesus se kruisdood.
      • Daar is verskillende maniere om die Bybel te interpreteer en te verstaan.
      • Ek verskil van jou, maar gaan nie my interpretasie as die enigste moontlikheid voorhou nie.  Ek respekteer jou siening, al verskil ek van jou en verwag dat jy my siening ook sal respekteer, al verskil jy van my.
      • Ek gaan jou nie uitkryt as fundamentalis nie en jy gaan my nie uitkryt as ketter nie.

Bo dit alles, kom ons hou sover ons weet by eerlike en verantwoordbare Skrifgebruik en uitleg.  En onthou verder:  Want ons ken maar gedeeltelik, en ons profeteer maar gedeeltelik, …  (1 Korintiërs 13:9)