Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Saam met Jesus in Bloemfon-Tuin

Deur ds Zak Scholtz, leraar van NG Gemeenskapskerk Woodland Hills

Dit is ’n Donderdagaand soos geen ander nie.

In die klein bokamer is Jesus by sy vriende – jarelange vriende wat mekaar ken. Die wêreld salig onbewus en ingesluk in die warboel van klimaks en teleurstelling die laaste week.

Jesus en sy dissipels lê aan by die eenvoudige tafeltjie. Hier gaan iets nuuts en onmeetlik heilig gebore word – dit wat die Kerk sal aanhou gedenk: die Nagmaal. Hierdie aand wat soos enige ander aand lyk – gaan weer en weer in gedagtenis geroep word. ’n Nuwe perspektief op ’n ou tradisie – ’n nuwe belofte op ’n ou voorspelling – ’n Nuwe Verbond as vervulling van die oue. Te midde van die wêreld se onkunde is die ware Lig hier teenwoordig. ’n Lig wat elke teenstander van Jesus wou uitdoof – maar nie geslaag het nie. ’n Lig wat die nasies verlig.

In Bloemfon-Tuin vanaand, herdenk ons die heilige oomblik onder die sagte glans van kerslig – ’n handjievol kerse en die Menorah – in die middel van die tafel. Die simbool van die Boom van die Lewe laat sy lig saggies oor die tafel val. Dis pikdonker in die gebou. Die lig beveg en hou die donkerte op ’n afstand. My voete voel swaar toe ek nader stap van die verhoog af. Omring deur lidmate wat binne bereik van die tafel sit. Ek besef ek betree ’n heilige oomblik – elke tree ’n gebed sonder woorde. Om ons heen dans die sagte flikkering van die kerse – brose liggies wat die donkerte weghou.

Ek dank en neem die brood en wyn – eenvoudig, nederig, in pita-vorm. Ek breek dit en skink en herhaal Jesus se woorde. Soos daardie nag – is hier ook ’n heilige teenwoordigheid – die Gees van God is hier. Een vir een stap mense nader: hulle kom haal om te deel aan hierdie herinneringsmaaltyd.

Dankgebede styg op. In die donker breek die stilte van stemme deur: eenvoudige, eerlike woorde – soos wierook wat optrek en die donker nag vul met ’n heilige reuk.

Daarna weerklink die woord van die Apostolicum – die kern van ons geloof bondig saamgevat. Elke woord val soos ’n klippie in ’n stil dam en die rimpels van die betekenis word opnuut vagelê in die siel.

Ek blaas die kerse op die tafel dood. Ek neem die brandende menorah met beide hande en stap terug na die verhoog – die donker omvou die tafel wat ek agterlaat. Jesus is op pad na Getsemane. Die menorah se vlamme flikker – broos, dapper, die laaste hartklop van hoop.

Ek staan stil. Die laaste lig rus oor my hande, en ek weet: ek tree saam met Hom Getsemane binne. Hy alleen. Die Boom van die Lewe alleen in die tuin, soos aan die begin. Die stilte omvou. Hy kniel voor sy Vader en ’n laaste keer vra Hy.

Ek blaas die menorah dood. Die donkerte oorweldig in ’n oomblik – soos ’n swaar gordyn wat toegetrek is. Daar is ’n knop in my keel. Ek spreek die seën uit met uitgestrekte hande en ’n dankbare hart. ’n Hart wat deel aan sy Verlossing.

Jesus stap die donker nag tegemoet – dapper, gewillig, gehoorsaam en op pad.

 | verskaf: Ds Zak Scholtz, leraar van NG Gemeenskapskerk Woodland Hills.