Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Ring van Smithfield

“Tydens die NGKA-basaar het ons gemeente vervoer, asook tafels en braaiers verskaf. Ons het gehelp braai, verkoop en ook saam met die NGKA-lede pannekoek gebak.”

| Ds Horance van Coller

Die NG Kerk Vrystaat het in die 2022/23-boekjaar ‘n bedrag van R30 000 aan elkeen van die 15 Vrystaatse ringe beskikbaar gestel om gesamentlike ring-projekte te ondersteun. Die versoek was dat diens in samewerking met ‘n sinodale bediening gelewer moes word. 

“Wat die Ring van Smithfield betref, is daar by die sinodale bedieninge Diens van Barmhartigheid, Bedieningsbegeleiding en ook Vennote in Getuienis ingeskakel,” vertel ds Horace van Coller, ringskriba van die Ring van Smithfield en predikant van die NG Gemeente Dewetsdorp. Ons het meer gaan uitvind.

“In die geval van die Ring van Smithfield is daar egter nie R30 000 nie, maar ’n pro rata-bedrag van R40 000 op verskeie projekte ten bate van ons verskeie ringsprojekte aangewend,” verduidelik ds Van Coller.

Hoe is dié fonds in julle ring aangewend?

“Die nege gemeentes in ons ring het die fonds as volg aangewend: Zastron het hul deel aangewend vir ’n plaaslike projek by die ouetehuis, ‘n Kersete en voorsiening van kospakkies.

“In Bethulie en Hobhouse is hul gedeelte van die fonds ook aangewend vir die voorsiening van kospakkies.

“In Edenburg, Vanstadensrus en Wepener is dit aangewend vir barmhartigheidswerk.

“By Rouxville is dit gebruik vir ’n ete vir bejaardes, asook om hulpbehoewendes by te staan.

“In Dewetsdorp het ons die fondse gebruik om die plaaslike NGKA-gemeente met befondsing ten behoewe van hul basaar te ondersteun. Daarmee is gehelp om speserye, verpakking en ander noodsaaklikhede aan te koop.

“Ons gemeente het ’n volledig toegeruste vleisverwerkingsaal, met koel- en vrieskamergeriewe. Dit is alles gratis tot die NGKA se beskikking gestel. Ons het ook skouer aan die wiel help sit met die verwerking van die bees- en skaapvleis. Tydens die NGKA-basaar het ons gemeente vervoer, asook tafels en braaiers verskaf. Ons het gehelp braai, verkoop en ook saam met die NGKA-lede pannekoek gebak.

“Smithfield het die fonds gebruik om onvoorsiene uitgawes te betaal.”

Wat sou jy sê is die voordele van al hierdie projekte in julle ring?

“Die verskillende gemeentes het self die nood of behoeftes in hulle betrokke gemeente geïdentifiseer. Die voordeel is dat die nood regtig aangespreek word soos dit in die betrokke gemeente bestaan en dit nie dalk aangewend word waar die nood nie bestaan nie. Die gemeentes kon dus daadwerklik hulle nood meer doelgerig aanspreek.”

Watter uitdagings beleef die projekte in julle ring?

Met die ontvolking van die platteland en kleiner boerderye wat verkoop word, veroorsaak dit dat daar ’n groot finansiële nood in die gemeentes ontstaan. Die uitdaging is om daaraan aandag te gee en prakties daarby betrokke te raak; iets waarmee hierdie fonds ons baie gehelp het.”

Kontak ons:

 | Ds Horance van Coller 

 | 082 776 3421

 | horacevancoller@gmail.com

116 | Maatskaplike NOODLYN