Skip to content Skip to footer

RICD: Daar is altyd hoop en lig

Deur Mariëtte Odendaal

Bethlehem se ondersteuningsgroep aan mense met middelafhanklikheid.

’n Mens gebruik so maklik die woord ‘ondersteuning’, maar as dit beteken dat jy iemand uit die maalkolk van selfvernietiging kan help, kry dit ’n baie dieper en ryker betekenis.

Vennote in Getuienis, een van die NG Kerk Vrystaat se vyf bedieninge, se Reformed Initiative for Community Development (RICD) het juis dit ten doel – om lewensvatbare samewerkingsprojekte van NG Kerk-, VGK- en NGK in Afrika-gemeentes te ondersteun. 

Een van die projekte wat deur RICD via die NG Kerk Panorama in Bethlehem ondersteun word, is ’n groep persone in Bohlokong en Bakenpark in Bethlehem wat ’n stryd teen middelafhanklikheid het.

Ons het meer daaroor gaan uitvind by die stigter en koördineerder van dié ondersteuningsgroep, Petro Prinsloo. Sy is ’n maatskaplike werker verbonde aan die Departement Korrektiewe Dienste.

 

Petro, vertel ons meer oor die ontstaan van die ondersteuningsgroep en wat dit behels.

“Die groep het op 16 Julie 2016 as deel van ’n ondersteuningsgroep van die Jericho Recovery Centre in Fouriesburg onstaan en later na Potchefstroom verskuif. Ek is toe deur hulle personeel opgelei om die groep in Bethlehem te fasiliteer.

“Die ondersteuningsgroep het ontstaan nadat ek as maatskaplike werker van Korrektiewe Dienste die dringende noodsaak daarvan raakgesien het. Ek werk met persone op parool en het mettertyd besef dat die meeste oorsake van misdaad en geweldsmisdaad in mense se kinderdae-trauma en verslawing lê. Ek het ook besef dat verslawing gepaard gaan met baie leuens, manipulasie en ontkenning.

“Dit is baie moeilik om verslawing en re-parenting op ’n korttermyn-basis te doen; ek moes dus langtermyn begin dink en beplan. Met hierdie ondersteuningsgroep word daar gepoog om weekliks ons program deel te laat vorm van ’n verantwoordelikheidsprogram; iets wat onontbeerlik is as jy ’n verskil wil sien.

“Hierdie program is dan ook nie net bedoel vir mense wat op parool uit is nie, maar hulle word aangemoedig om ook hul vrou, kinders, ouers, broers en susters asook vriende hierheen saam te nooi. Sodoende dra dit daartoe by om hul kultuur te help verander en te impakteer.

“Ons ondersteuningsgroepsgetalle wissel van week tot week tussen ongeveer 14 tot 25 persone. Ek stuur weekliks boodskappe na 40 mense wat op parool uit is via ’n whatsApp-broadcast group en 42 sms’e na diegene wat nie whatsApp-data kan bekostig nie. Daar is dus 82 persone wat weekliks bereik word.

“Ek neem weekliks die leiding en moet elke keer daarvoor voorberei. Ek fokus baie op familietrauma en geweld wat tot verwerping in hul lewens gelei het en ander pynlike ervarings wat tot verslawing gelei het. Dis wonderlik om te sien dat sodra vergifnis begin intree, dit hul vrymakingsproses begin aktiveer en help voorkom dat die siklus herhaal.”

  

Watter impak het die ondersteuningsgroepsprogram op die mense wat dit bywoon?

“Dit strek veel wyer as net op die mense wat tans op parool is. Daar is tans byvoorbeeld twee mans wie se vonnisse al lankal klaar uitgedien is, maar hulle het besluit dat hulle nog steeds die weeklikse program nodig het en woon dit elke week by.

“Op Vrydag 29 Augustus het ’n man op parool na my gekom en gesê hy wil graag sy lewe verander. Ek het toe die Twelve Steps Recovery in die Celebrate Recovery Africa-boek, wat ek danksy die RICD-fondse kon aankoop, vir hom as hulpmiddel gegee.

“Ons program is Bybel-gefundeerd en ek het die Vrydag saam met hom gebid waarna hy besluit het om sy lewe vir God te gee. Sy begeerte om te verander en die verandering wat daarná in hom plaasgevind het, is só merkbaar dat dit werklik ’n inspirasie is.”

  

Petro, wat sou jy sê is die voordeel wat hierdie ondersteuningsgroep vir jul gemeenskap inhou?

“Die groep is al amper tien jaar aan die gang, so daar is al oor die jare iets positiefs gesaai en met die nodige deursettingsvermoë van sommiges het ons al die vrug daarvan gesien. Ons hoop egter dat dit mettertyd nog duideliker sal word.

“As ek konserwatief probeer tel, skat ek dat daar al tien gesinne se lewenspatroon deur ons program oor die jare positief verander het. Dit is danksy die kinders wat besef het dat hulle hul ouers moet vergewe sodat patrone in die familie kan verander.

“Soms kom vertel mense vir my hoe hierdie program hulle help met verhoudings, ook in hul werksplek; iets wat baie waardevol is.

“Iets waarvan groepslede dikwels getuig, is dat hulle hoop kry en selfs mekaar help om goeie en permanente werk te kry.  Hulle leer nuwe vorms van disspline aan en pas dit dan herhaaldelik in hul lewens toe. Dis vir my wonderlik om dit te sien.

“Baie van die groepslede is dikwels vir God kwaad oor hoe swaar hulle in hul kinderjare gekry het en oor hoe hul lewens uitgedraai het. Ek moet hulle dan leer dat mense, soos hul ouers, hul eie keuses maak en dat God nie die skuld daarvoor kan kry nie; dit is ménse wat verkeerde keuses maak.

“Die groep is vir my ook ’n inspirasie en ek sal my eie swakhede sommer uitlig om die platform oop te maak sodat hulle kan besef dat dit ’n veilige plek is om te deel oor hul persoonlike probleme en alledaagse lewensuitdagings.

“Ek ervaar ook dat mense uit die gemeenskap gereeld vir my kom sê dat ek iets reg doen; iets waaroor ek baie dankbaar is, want ’n mens weet nie altyd wat die effek van jou pogings op die groep is nie.” 

 

Petro, watter uitdagings ervaar jy om die ondersteuningsgroep aan die gang te hou en hoe word jy ondersteun?

“Sjoe, toe ek met die groep begin het, het ek gehoop daar sal ander maatskaplike werkers wees wat kan help met die aanbiedings, maar aangesien dit na-ure plaasvind, sien min daarvoor kans.

“Omdat die Departement Korrektiewe Dienste nie vir so iets begroot nie, moes ek aanvanklik baie uitgawes uit my eie sak befonds, so die ondersteuning van RICD via die NG Kerk Panorama is van groot waarde.

“My grootste uitgawe is om elke maand vir YWAM wat by die Bambalela Sentrum in Bakenpark gestasioneer is, R500 vir brandstof te gee om die mense ná die byeenkomste na hul huise terug te vervoer. Ek moet dan ook sorg dat daar ten minste tee en koffie is omdat die meeste mense direk van die werk af die groepsbyeenkomste bywoon. Dan moet ’n mens ook onthou dat die meeste mense van hul werkplekke af tot daar moet stap.

“Die NG Kerk Panorama het dit ook vir my moontlik gemaak om die boeke en Bybels aan te koop. Ek het byvoorbeeld onlangs ook ’n nuwe handleiding bestel wat net altyd te duur was, omdat ek alreeds soveel uit my eie sak aan die ondersteuningsgroep bestee het.

“Nog ’n groot bydrae is dié van twee aftree-oorde van Panorama-gemeente. Generosity begets generosity – hulle het besluit om ten minste een maal per maand iets vir ons ondersteuningsgroep vir verversings te gee. Dit maak ’n groot verskil. Dit bestaan uit ’n groep vroue wat sommer eendag die inisiatief daarvoor begin neem het nadat hulle van die getuienisse tydens ’n erediens gehoor het. Ons predikant, ds Gideon Lamprecht, nooi my een Sondag per kwartaal om iemand uit ons groep te bring om hul getuienis met die gemeente te deel.

“Ek kon ook danksy Panorama se ondersteuning verskeie boeke aankoop vir my eie navorsing, soos die Celebrate Recovery Africa-boek. Ek kon ook twintig Bybels aankoop om uit te deel, selfs aan die mense op parool wat nie die groep bywoon nie en in ander dorpe bly.

“Danksy die ondersteuning kon ek ook ’n lang HDMI-kabel aankoop om my rekenaar met die TV in Bambalela te verbind met ’n klein luidsprekertjie wat my aanbiedingsmoontlikhede vergroot het.

“Ek het verlede jaar in Desember die jaar met ’n Kersfeespartytjie afgesluit. Daar is maar min van ons groepslede wat iets soos geskenke kry, dan is iets soos ’n potjie Vaseline of ’n roll-on baie spesiaal en maak dit hulle baie opgewonde.

“Ek gebruik die fondse ook om vir persone wat nie ’n inkomste of werk het nie, te vra om sommer ’n area vuilgoed op te tel of iewers skoon te maak en betaal hulle dan uit die fondse.

“Ek het ook die mense wat permanent by die Sentrum in Bakenpark woon, op ’n manier probeer bedank deur ’n skenking te gee as blyk van waardering vir baie jare se ondersteuning.”

 

Petro, hoe kan mense by hierdie projek betrokke raak?

“Hulle kan enige tyd kom inloer op ’n Donderdagaand om 17:30 by Bambalela in Bakenpark. Julle is ook welkom om my te kontak by petro.prinsloo@dcs.gov.za of pprinsloo24@gmail.com.” 

Die Celebrate Recovery Africa-boek
Ondersteuningsgroep
Ondersteuningsgroep
Petro Prinsloo
Ds Gideon Lamprecht

  |  Verskaf deur: Petro Prinsloo en Tertius Botha (ds Gideon Lamprecht).