Baie van ons weet hoe warm jou hart klop as familie uit die buiteland laat weet hulle is op pad en wil by jou kom inloer om te hoor hoe dit gaan. So is dit ook met ons geloofsfamilie in Afrika. Familie gee om vir mekaar.
Daarom was dr Nico Mostert, direkteur van Vennote in Getuienis, en twee studentepredikante, di Chris de Vries en Gerhard Meyer, onlangs op besoek aan ons susterskerk in Zambië, die Reformed Church in Zambia (RCZ). Beide hierdie predikante is verbonde aan die Kopanong-studentebediening; ds Gerhard Meyer is ook die studentepredikant by Langenhovenpark-gemeente.
Ons wou meer van dié interessante besoek hoor en het by Nico gaan aanklop. Ons wou weet wat die sake was waarop hulle tydens hul besoek hoofsaaklik gefokus het en wat die ontmoeting as Christene in Afrika vir die RCZ en Sinode Vrystaat se vennootskapsverhouding beteken.
Tell, tell!
“Die doel van ons besoek was drieërlei,” antwoord Nico. “Eerstens was dit om die Tell-tell!-projek te gaan besoek. Dit is ’n reeks van vyf boeke wat deur die Christelike Lektuurfonds (CLF) ontwikkel is en waarvan die regte bekom is sodat die RCZ dié reeks as kategesemateriaal kan gebruik en selfs ook in Zambië kan produseer. Die goeie nuus is dat die eerste Tell, tell!-boek onlangs in Lusaka gedruk is en tans by ’n paar RCZ-gemeentes getoets word om te kyk of dit vir hulle sal werk.
“Dit sal natuurlik ook baie wyer gebruik kan word as die reeks in Chichewa beskikbaar kan wees, so daar is ’n span vertalers wat druk besig is om die boeke te vertaal. Die vertaling en druk van die boeke is dus ’n deurlopende – en langtermyn-projek.”
Justo Mwale Universiteit
“Tweedens was die doel van ons besoek om gesprek te voer met die bestuur en personeel van die JMU (Justo Mwale University) in Lusaka,” vertel Nico. Hulle is verantwoordelik vir die opleiding van RCZ-predikante en is ons vennote ten opsigte van nagraadse studente wat aan die Universiteit van die Vrystaat wil kom studeer.
“Daar is egter baie finansiële uitdagings en ons sinode staan hulle deurlopend by met konsultasie. Tydens hierdie besoek het ons weer om ’n tafel gaan sit en in diepte hieraan aandag gegee. As medegelowiges kan ons mekaar nie los nie; iets wat opreg waardeer word en na beide kante toe baie kosbaar is.”
Uitreikspan
“Aan die einde van die jaar gaan daar weer ’n studentespan op ’n uitreik. Dit was voorheen bekend as die Afrika-uitreik, maar vanjaar gaan dit meer gefokus wees op Zambië.
“Daar sal vyftien van ons studente hier uit die Vrystaat in die laaste week van November en die eerste week in Desember op ’n uitreik saam met Justo Mwale-studente op ’n werkerskamp wees. Die hoofdoel daarvan is om klaskamers van die Justo Mwale Universiteit te verf en ook aandag aan ander onderhoudsake te gee. Hulle sal ook ’n nabygeleë gemeente, Kaunda Square, gaan besoek met die doel om ekumeniese bande te bou. Die beplanning daarvan is juis gedoen met insette van die studentepredikante wat nou saam met my daar was.
“Ons het ook die RCZ se Skills Training Centre naby Lusaka besoek en was aangenaam verras deur die verskillende kursusse wat daar aangebied word. Dit sluit praktiese kursusse in waar mense geakkrediteerde opleiding kan kry en as motorwerktuigkundiges, elektrisiëns, naaldwerkers en selfs as kelners en chefs opgelei word – heelwat van hulle het al danksy hierdie opleiding werk as kelners en chefs in restaurante in Lusaka bekom.
“Ons wil juis tydens ons uitreik kyk hoe ons studente ook by hierdie opleidingsentrum kan betrokke raak.”
Vir meer inligting kan dr Nico Mostert gekontak word by missio@ngkvs.co.za