Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Ontmoet ons 2025-gelegitimeerdes

Deur Mariëtte Odendaal

Op 18 November het ons Kuratorium van die NG Kerk Vrystaat een nuwe teologiestudent, Jackie Smith (tans diensleraar), asook twee colloquium doctum-kandidate, Stéfan Coetzee en Flippie Kotzé, met leraarsbevoegdheid gelegitimeer.

 Hiermee wil ons hulle in ons sinode verwelkom en hulle ook aan julle voorstel.

Jacqueline Smith  NG Kerk Vrystaat, Fakulteit Teologie en Religie

Jackie Smith is in Dundee, KwaZulu-Natal gebore waar sy haar laer- en hoërskoolloopbaan voltooi het.

Nadat sy in 2004 gematrikuleer het, het sy in 2005 met BTh-studie aan die Universiteit van die Vrystaat begin. Ná voltooiing van haar graad het sy die BA Hons-graad en MA in Nabye Oosterse Studies behaal met ‘n fokus op Bybelvertaling. Daarna het sy teruggekeer na teologie en die Nagraadse Diploma in Teologie in 2023 en die MTh-graad vanjaar behaal.

Sy vertel dat die mense wat die grootste invloed op haar vormingsjare gehad het, haar ouers was. Hulle het haar nooit in ’n sekere rigting gedwing nie, maar aan haar die vryheid gegee om haar eie belangstellings na te jaag; iets wat vir haar baie beteken het. 

Omdat die Here al soveel vir haar in haar lewe beteken het – “Hy was daar vir my in die goeie én slegte tye” – wou sy teologie gaan studeer. Dit sou aan haar die geleentheid gee om ander mense bekend te stel aan hierdie God wat altyd by jou is en vir jou sorg. 

Wanneer jy haar vra watter aspekte van teologie haar die naaste aan die hart lê, antwoord sy onomwonde: “Definitief homiletiek en liturgie. Ek hou baie daarvan om ’n erediens te beplan waaraan elke lidmaat deel het en ná die tyd kan voel dat hy of sy regtig ’n ontmoeting met die Here gehad het.”

Die titel van haar MTh was Jan Hus, martyr or heretic? The role of memory in historiography. Jackie verduidelik: “Ek het op hierdie studie besluit omdat ek belangstel in die onderwerp van martelaarskap. Dit het my oë oopgemaak vir ’n hele nuwe vorm van toegewydheid aan die Here; dat jy bereid moet wees om te sterf vir dit waarin jy glo. Kan ons almal dieselfde sê? Dit is ’n moeilike vraag!”

Dr Eugene Fortein was haar studieleier, iemand wat vir haar baie in hierdie tyd beteken het. “Hy het my die geleentheid gegee om as ’n individuele navorser te ontwikkel,” vertel sy. “Dr Fortein het my gehelp om met nuwe oë na die studie-onderwerp te kyk en ook baie waardevole insigte met my gedeel.”

Buiten teologie stel Jackie ook baie belang daarin om oor ’n wye verskeidenheid onderwerpe te lees. “Dit stimuleer my denke, neem my gedagtes op nuwe avonture en laat my ontspan.”

Jackie se droom vir die Kerk is dat elke mens welkom sal voel in die NG Kerk en dat die liefde van die Here uit die gemeente sal straal; ’n liefde wat niemand sal uitsluit nie. “Ek wil graag as predikant bydra tot hierdie droom deur in my gemeenskap te werk om mense na Christus te lei en vir hulle te wys dat God niemand uitsluit nie – dat almal welkom is om by die gemeente waar ek die predikant is, in te skakel en regtig deel daarvan te wees.”

Johannes Stefanus Coetzee  |  Colloquium Doctum

Stéfan Coetzee is in Pretoria gebore en het in Wierdapark, Centurion grootgeword waar hy aan die Laerskool Bakenkop en Hoërskool Eldoraigne sy skoolloopbaan deurloop het.

Na skool het hy as rekenaar- en netwerktegnikus gekwalifiseer en was vanaf 1999 tot 2004 in Johannesburg en Rustenburg werksaam. Vanaf 2005 tot 2010 het hy die BTh-graad deur die Afrikaanse Protestantse Akademie verwerf en die AP Kerk Brits vanaf Februarie 2011 tot Desember 2014 bedien. Daarna het hy die AP Kerk Senekal/Paul Roux-gemeentes vanaf Desember 2014 tot April 2021 bedien.  Sedertdien is hy as deeltydse leraar verbonde aan die AP Kerk Marquard- en Excelsior-gemeentes.

Die persoon wat die grootste invloed op hom in sy vormingsjare gehad het, was sy pa. “Sy kalm, rustige en beredeneerde manier om iets te doen, was altyd vir my baie spesiaal,” vertel Stéfan.

Alhoewel Stéfan aanvanklik van voorneme was om ingenieurswese te gaan studeer, het hy ’n baie duidelike oortuiging gekry dat hy in die Here se diens moet wees.

Wat hom ten opsigte van teologie die naaste aan die hart lê, is die uitleg en toepassing van die Woord. “Dis tog in en deur die Woord wat die Here met ons praat,” verduidelik Stéfan. “Gelowiges kan nooit genoeg van die Woord weet of kry nie.”

Die onderwerp van Stéfan se BTh-skripsie was Die predikant, sy gesin en die bediening: ’n prakties-teologiese studie. “Ek het, vandat ek teologie begin studeer het, baie gewonder oor hoe ’n predikant te werk moet gaan om nie sy gesin of die gemeente waarin hy bedien, af te skeep nie,” verduidelik Stéfan. “Prof. Danny Nel van die AP Akademie was my studieleier en het my baie gehelp om orde in die wêreld-chaos raak te sien en perspektief te kry.”

‘n Hoogtepunt in Stéfan se bediening is dat hy (veral in die twee gemeentes waar hy voltyds bedien het) die voorreg kon hê om hom heeltyd in die Woord te verdiep; iets wat hom help toerus het om mense deur die Woord in hul uitdagings te ondersteun en te vertroos.

Stéfan se droom vir die Kerk is dat dit die plek sal wees waar Christus gevolg word om leiding te help gee in ’n deurmekaar en stukkende wêreld. “Ons het ’n roeping om ligdraers en oesinsamelaars te wees; om siele vir die koninkryk te wen,” verduidelik Stéfan. “Ek sal graag gemeentelede wil toerus om hierdie roeping elke dag prakties, oral waar ons beweeg, uit te leef.”

Buiten teologie het Stéfan ook ’n groot voorliefde vir ingenieurswese en doen hy byvoorbeeld ingenieurstekeninge vir, onder andere, sy pa se raadgewende ingenieursfirma.

Stéfan is in Junie 2009 met Marilet, ’n grafiese ontwerper, getroud en hulle het drie kinders.

Vir meer inligting kan Stéfan Coetzee by jscoetzeev@gmail.com gekontak word.

Johannes Stefanus Coetzee
Johannes Stefanus Coetzee

Flippie Kotzé  |  Colloquium Doctum

Flippie Kotzé is in Bloemfontein gebore en het grootgeword op hul familieplaas naby Petrusburg. Sy laer- en hoërskoolloopbaan het hy op Petrusburg deurloop en hy matrikuleer in 1997.

Die mense wat die grootste invloed op hom in sy vormingsjare gehad het, was sy ouers. “Hulle ondersteuning vir ons as kinders het altyd voorop gestaan. Die voorbeeld wat hulle vir ons gestel het ten opsigte van hoe hulle die lewe aanpak, hul werksetiek en Christenskap, het ’n groot impak op my gehad. Ons is ook ’n hegte familie en het nog altyd almal mekaar ondersteun en by mekaar geleer.”

Die jaar nadat hy sy skoolloopbaan voltooi het, het hy ’n kursus in wildbewaring gedoen waarna hy op ’n wildsplaas naby Malalane gaan werk het.

Alhoewel Flippie in die wildbedryf belanggestel het, het hy al op skool aan die voorligtingonderwyser gesê dat hy teologie wil gaan studeer. Daar was egter ’n paar uitdagings. “Die Here het egter, wat die finansies en alles wat daarmee saamgaan, voorsien en ek kon deur God se genade my teologiestudie voltooi.”

Hy begin in 1999 aan die Universiteit van die Vrystaat studeer en verwerf sy MDiv in 2004, waarna hy gelegitimeer word. Die studie-onderwerp van sy MDiv-skripsie het gehandel oor verbond, pastoraat en die homoseksuele persoon. “Die rede vir hierdie onderwerp was omdat daar op daardie stadium weer baie gepraat is oor homoseksualiteit en ek my eerstens wou vergewis van waaroor die gesprek gaan. Tweedens was dit vir my asof daar oor homoseksueles gepraat word, maar hulle worsteling word nie gehoor nie. Omdat pastoraat vir my ’n baie belangrike aspek van die bediening is, wou ek iets doen wat my sou toerus om gelowiges te ondersteun so goed ek kan.”

Flippie se studieleier was prof Johan Janse van Rensburg. “As akademiese studieleier was hy baie behulpsaam en deeglik. Hy het my ook gehelp om die pastorale kant te laat hoor in die studie. Hy het my geleer jy kan nie genoeg lees en jou vergewis van jou tema nie, dus het ek baie leeswerk gehad om deur te werk. Hy het my touwys gemaak oor hoe om met ’n baie sensitiewe saak so objektief moontlik en eerlik te werk te gaan.”

Nadat Flippie gelegitimeer is, het hy vir nog ’n jaar en ’n half as rekenaarassistent by die universiteit gewerk en is in Junie 2006 na die NG Kerk Koffiefontein-gemeente beroep. Vanaf 2012 tot 2014 dien hy as leraar van die Klipkerk-gemeente in Schweizer-Reneke en vanaf 2015 tot 2017 as pastoor van die AGS Ligpunt-gemeente in Schweizer-Reneke.

In 2019 slaan hy ’n nuwe rigting in toe hy op die familieplaas gaan boer. Nadat hy in 2022 in Amerika gaan werk het, is hy vanaf 2023 weer terug plaas toe.

Die aspekte van teologie wat hom die naaste aan die hart lê, is pastoraat en koinonia. “Dit is nie net aspekte wat ek geniet nie, maar wat ek ook as baie belangrik beskou,” verduidelik Flippie. “Daar is soveel seer en mense het nodig om te weet dat hulle ondersteuning kan kry en dat hulle nie alleen is nie. Deur as mede-gelowiges saam te kom, kan ons mekaar ondersteun en juis in uitdagende tye mekaar bemoedig. Op hierdie manier kan ons as gemeentes waarlik Kerk wees en Christus se liefde (die evangelie) uitleef.”

Tydens sy werkservaring as leraar het Flippie vinnig geleer dat die bediening onvoorspelbaar is. “Dit is egter bevredigend as jy nie fokus op resultate nie, maar op hoe die Here sy werk in en deur jou in ’n gemeente doen. Ek onthou hoe dat bedienings van die grond af gekom het as mense met hul gawes en talente net aanmeld en begin bedien. Ander hoogtepunte was die samewerking tussen gemeentes, ook tussen verskillende denominasies, en hoe dit nuwe bedienings en groei in gemeenskappe na vore laat kom het.”

Buiten teologie is Flippie ook baie lief vir die natuur. “Ek geniet natuurreservate en om na dokumentêre films of reekse oor natuurverskynsels te kyk. Ek geniet ook een-tot-een geselskap en soms om ’n goeie boek te lees.”

Flippie se droom vir die kerk is om te wees waartoe ons geroep is; ons wat die liefde van God beleef het en nuut gemaak is en dit nou met ander kan deel. “Ek sal ook graag eenheid wil sien in die Christelike kerk; dat ons regtig sal hande vat oor sake wat mense se lewens ten goede sal verander. Ek glo dat ons fokus nou, meer as ooit vantevore, moet wees om mense werklik in die spore van Christus te help loop.

“Daarom sal ek wil sien dat elke gemeentelid sy of haar gawes en talente sal uitleef en dat daar plek sal wees vir elkeen om dit te doen. Ek sal graag met my gawes en talente deur die Heilige Gees se leiding my deel wil doen om hierdie droom te sien verwesenlik.”

Flippie het twee kinders uit sy vorige huwelik, Phillip (Graad 8) en Mayleen (Graad 10), vir wie hy baie lief is en op wie hy baie trots is.

Vir meer inligting kan Flippie Kotzé by flippiekotze.pastoraleberader@gmail.com gekontak word.

Flippie Kotzé
Flippie Kotzé

 | Verskaf deur : Tertius Both