Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Ontdek en ontgin gedragsbekwaamhede Sentrum vir Predikantebegeleiding – Fase 2

Deur ds André Barlow, Sameroeper van die Predikante Netwerk

Fase 1 van die Sentrum vir Predikantebegeleiding werk met agt bekwaamhede wat geïdentifiseer is as belangrike boustene in die ontwikkeling van die vaardighede van predikante. Onder ’n bekwaamheid verstaan ons ’n kompleks van verwante kennis, vaardighede, houdings en gewoontes wat toegepas word binne ’n spesifieke konteks met ’n uitkoms wat waarde toevoeg. ’n Bekwaamheid kan waargeneem, gemeet en ontwikkel word.  Die gedragsbekwaamhede waarmee gewerk word, is:

  1. Afrigting en mentorskap/begeleiding
  2. Besluitneming (insluitend probleemoplossing)
  3. Effektiewe kommunikasie (insluitend konflikhantering)
  4. Emosionele selfbestuur
  5. Leierskap (insluitend verantwoordbaarheid)
  6. Denkvermoë
  7. Beplanning en implementering
  8. Geloofsvolwassenheid (insluitend geloofsonderskeiding, “discernment”)

Hierdie bekwaamhede vorm die basis vir terugvoering en gesprek met die deelnemer ten einde by die persoon verhoogde vlakke van bewussyn te skep oor vaardighede ten opsigte van die praktyk van die bediening.  Fase 1 bied aan leraars die geleentheid om in ’n veilige omgewing die gedragsbekwaamhede wat van ’n predikant veronderstel word, bloot te lê, uit te pak en te evalueer.

Fase 2 gaan ’n stappie verder en konsentreer op emosionele intelligensie.  Daar word gefokus op die ontwikkeling van die sogenaamde “sagte” vaardighede wat van predikante verwag word, maar waaroor hulle nie noodwendig beskik nie.  Emosionele intelligensie beperk of verruim die kapasiteit en potensiaal van mense.  Dit help dat jy sien wie jy werklik is (selfpersepsie). Dit is belangrik, want jou sukses as eggenoot, ouer, kollega en predikant is baie nou verweef met hoe jy jouself sien, met gepaardgaande selfaktualisering (bereik jy wat jy behoort te bereik?).

Fase 2 dek die mynveld van emosionele intelligensie. Dit kan maklik gebeur dat die dominee se verhoudings, intiem én openbaar, mank gaan aan betekenis en vervulling. Emosioneel raak ons afgestomp en verstaan nie waarom ander ons nie verstaan nie. En soms sukkel ons om besluite te neem. Ons het nie die vermoë om ons gevoelens te verstaan en gevolglik te beheer nie.

Die eerste Fase 2-geleentheid is van 12 tot 14 Augustus by Menuha aangebied deur dr Johan Nel, pastorale terapeut en geregistreerde sielkundige berader by die Mediese Raad van Suid Afrika. Hy beskik oor baie jare se ervaring in die spreekkamer, en was al by verskeie predikante betrokke. Hy is goed ingegrawe in die veld van emosionele intelligensie en ’n entoesiastiese ondersteuner van die ontwikkeling daarvan.

Deelnemers vul aanlyn ’n vraelys in en ontvang ’n persoonlike verslag, wat deur dr Nel met elkeen afsonderlik bespreek word. Hy bied ook ná die retreat persoonlike ondersteuning sodat volgehoue groei gewaarborg is.  Die areas wat gedek word, is:

  1. ‘Self-perception’ (agting vir jouself, selfverwesenliking, emosionele selfbewussyn).
  2. ‘Self-expression’ (om emosies te verstaan en te verwoord, om jouself te laat geld, onafhanklikheid).
  3. ‘Interpersonal’ (Interpersoonlike verhoudinge, empatie, sosiale verantwoordelikheid).
  4. ‘Decision-making’ (probleemoplossing, objektiwiteit, impulsbeheer).
  5. ‘Stress management’ (aanpasbaarheid, streshantering, positiewe gedrag).

Op grond van die ervaring van die eerste geleentheid van Fase 2 word hierdie proses sterk aanbeveel. Die volgende geleentheid vind DV vanaf 28 tot 30 Oktober 2024 by Menuha plaas. Enige persoon wat Fase 1 deurloop het, is welkom.  Deelnemers ontvang 20 VBO-punte.  

Kontak

Indien jy belangstel, kontak gerus vir ds André Barlow by 084 547 9999 of andrebarlow53@gmail.com (’n beperkte aantal deelnemers kan geakkommodeer word).

116 | Maatskaplike NOODLYN