Deur Mariëtte Odendaal
Adriaan de Ruiter vertel …
Die eerste vier artikels in ’n reeks van vyf oor die afgelope meer as dertig jaar se vyf saakgelastigdes, later bekend as Direkteur: Administrasie en Finansies en tans bekend as Hoof- uitvoerende beampte: Ondersteuning, het in die vorige vier uitgawes van Vrypos verskyn. Ons het toe gesels oor die Sinodale Kerkkantoordae van Piet Coetzer, Hennie van der Walt, André Esterhuizen en Hennie de Lange. In hierdie laaste bydrae van die reeks gesels ons met Hennie se opvolger en huidige Hoof- uitvoerende beampte: Ondersteuning, Adriaan de Ruiter.
Adriaan, vertel ons eers meer van jouself voordat ons oor jou werkservaring by die Sinodale Kerkkantoor gesels.
“Graag. Ek is in 1974 in Middelburg (Kaap) gebore. Daarna het ons vir ’n tyd in Pretoria en Lichtenburg gebly, maar ek was vir die grootste deel van my laerskooljare in Colesberg. Daarna was ek vir vier jaar op skool by Hoërskool Sentraal in Bloemfontein en het in 1992 in Nelspruit gematrikuleer.
“Na skool het ek by die Ontvanger van Inkomste begin werk en was vir twee jaar daar, waarna ek met my klerkskap as leerlingrekenmeester begin het. Ek het deeltyds by UNISA B.Compt gestudeer en na twee jaar by Deloitte & Touche begin werk, waarvandaan ek oorgeplaas is na Bloemfontein. Ek het my klerkskap by PricewaterhouseCoopers (PwC) voltooi en vir nog sowat twee jaar daar aangebly.
“Daarna het ek vir twee jaar vir ’n konstruksiemaatskappy gewerk, en toe vir vyf jaar in Wepener by ‘n uitvoermaatskappy wat hoofsaaklik produkte na Lesotho uitgevoer het.
“In Mei 2007 het ek hier by die Sinodale Kerkkantoor as ‘n junior rekenmeester begin werk en in 2016 is ek aangestel in my huidige pos as Hoof- uitvoerende beampte: Ondersteuning.
“Ek is in 2000 met Pulani getroud en ons het drie seuns, Jaco, Riaan en MJ.”
Jy was relatief jonk toe jy in hierdie pos aangestel is. Watter groot veranderinge het sedertdien in die Sinodale Kerkkantoor plaasgevind?
“Ek was baie bevoorreg en gelukkig om saam met al vier van my voorgangers te kon werk. Ek het in die Sinodale Kerkkantoor begin net ná die aftrede van Piet Coetzer, wat nog van tyd tot tyd steeds by die kantoor ingeloer het. Ek het ook saam met Hennie van der Walt gewerk, daarna saam met André Esterhuizen en toe ook saam met Hennie de Lange. Dit was regtig ’n groot voorreg om die pad saam met hulle te kon stap en het my goed voorberei vir hierdie pos.
Een van die eerste groot veranderinge was om die finansiële stelsel oor te skakel na ’n ‘van-die-rak-af produk’ aangesien die vorige stelsel toenemend probleme gegee het en die kundigheid om die onderhoud daarvan te doen, baie beperk was.
“Ons het ook begin om aanpassings te maak ten opsigte van die begrotingsproses en finansiële stelsel. Die manier waarop ons finansies hanteer het, het verander na ’n zero-basis begrotingsbenadering, wat groter buigsaamheid meegebring het. Dit het daartoe bygedra dat ons beter kon begin fokus op die doeltreffende bestuur van fondse sodat dit meer effektief op spesifieke fokusareas aangewend kon word.
“Ons het ook binne die organisasie ’n strategiese proses saam met ons personeel aangepak wat tot sekere personeelverskuiwings gelei het. Sommige strukture is herbedink en die verskillende bedieninge – soos ons dit vandag ken – het ontstaan.
“Dit het onder andere gelei tot die totstandkoming van die Kommunikasie-afdeling wat vandag ’n volwaardige departement onder leiding van Celicia McLean is. Hulle het oor die jare groot werk gedoen ten opsigte van ons digitale nuusbrief, Vrypos, en ander elektroniese kommunikasieplatforms wat in gebruik geneem is.”
Adriaan, watter interessante mense het al in jou werksomgewing met jou paaie gekruis, of watter staaltjies het jy om te vertel?
“Iemand wat vir my baie van die kerk, predikante, mense en die lewe geleer het – ’n ware mentor – is Hennie de Lange. Ek het baie lekker saam met hom gewerk. Hy was een van die ondersteunende persone wat daar was toe ek in die Sinodale Kerkkantoor begin werk het. Hy het baie moeite gedoen om my te leer hoe die prosesse en funksionering van die kerk werk. En daarvoor wil ek net vir hom baie dankie sê.
“Nog ’n persoon wat vir my baie beteken het – sy is nou al oorlede – was Thea Bosman. Sy het kort nadat sy hier begin werk het, na afloop van ’n sinodesitting, vir prof Piet Strauss ’n spreekbeurt gevra. Sy het opgestaan en haar belewenis gedeel, dankie gesê vir die ervaring wat sy gehad het en vir die predikante baie seën en voorspoed toegewens ten opsigte van al die besluite wat geneem is en die groot verantwoordelikhede wat vir hulle voorlê. Sy het eerlik en treffend gepraat, maar ek dink sy het sommige van die senior personeel ontstel, want sy het sommer so van die vloer af ’n ‘preek’ gelewer; iets wat nie eintlik gedoen word nie.
“’n Ander interessante staaltjie gaan oor een van my voorgangers. Ons moet soms vir werk Kaap toe gaan vir vergaderings, waar ons altyd baie goed ontvang word en na afloop van die vergadering met goeie wyn en gesellige samesyn getrakteer word. Tydens so ’n geselligheid het hy net gou badkamer toe gegaan. Toe hy instap, sien hy iemand reg voor hom en groet vriendelik. Die persoon groet toe net so vriendelik terug. Hy het eers later besef dat dit eintlik net ’n spieël was waarin hy homself gesien en gegroet het!”
Waarvoor is jy hoofsaaklik verantwoordelik in jou pos en watter veranderinge het al mettertyd ten opsigte daarvan plaasgevind?
“Ja, kyk, syfermense is maar geneig om as ’n bietjie ‘boring’ beskou te word. As ’n rekenmeester se vrou vir hom sou vra: Hoe was jou dag? Dan sal hy antwoord: Goed, die boeke klop en ons het ’n bietjie geld gemaak. Vroue is oor die algemeen lief vir inkopies en vra gewoonlik: Wat het jy met die geld gedoen? Die teleurstellende antwoord is dan: Ons het dit gespaar en saam met die ander belê.
“En dit is eintlik wat ons doen. Ons bestuur ’n groot beleggingsportefeulje en twee pensioenfondse. Tans het ons egter nie meer self beheer oor al die pensioenfondse nie; die Amptenare Pensioenfonds is oorgedra aan die Sanlam-Sambreel Pensioenfonds en die Sinodale Pensioenfonds is nou deel van die Kaapse Predikante-pensioenfonds.
“Nog iets noemenswaardigs wat in hierdie tyd gebeur het, is die herstigting van ’n barmhartigheidsbediening met ’n voltydse pos. In die verlede het die SKDB (of ENGO) ’n groot deel van daardie taak vervul. Vanaf 2020, tydens ons laaste sinodesitting, is dit amptelik goedgekeur en is dit nou ’n volwaardige bediening van die NG Kerk; iets waaroor ons baie dankbaar is.
“Ander verantwoordelikhede in my portefeulje sluit in: personeel, finansies, administrasie en eiendomsbestuur.”
Watter projekte was en is besondere hoogtepunte as deel van jou werk sover?
“Een van die projekte wat werklik vir my uitstaan, is die sogenaamde Boks vir ’n Boer of vir ’n Boervrou. Dit was oorspronklik ’n inisiatief van die Vrouebediening, spesifiek tydens die groot droogte in dele van die Vrystaat en Noord-Kaap. Die boere het swaargekry – die reën het weggegebly, finansies was benard en hoop was min. Dié projek wou die boervroue bemoedig om op hulle beurt weer hul mans op te beur.
“Die Vrouebediening het toe ’n beroep gedoen op vrywilligers en spesifiek op boervroue regoor die Vrystaat, om byvoorbeeld ’n bederfpakkie bymekaar te sit – dalk net ’n koekie lekkerruikseep, ’n mooi serp – iets moois of iets lekkers – om vir ’n ander boervrou hoop te bring.
“Ons het toe regoor die Vrystaat bydraes begin ontvang. Die kantoor was letterlik vol bokse – bokse en nogmaals bokse. Eendag het ’n groot vragmotor met ’n sleepwa hier aangekom en al die bokse opgelaai. Dit is toe by Carnarvon afgelewer en daarvandaan is die bederfpakkies verder na die boeregemeenskappe versprei.
“Die terugvoer wat ons ontvang het, was ongelooflik. Dankbaarheidsbriewe en emosionele stories het bewys hoe ’n eenvoudige gebaar ’n ware verskil kan maak. Dit was vir my ’n baie besondere projek; een wat ek nie sal vergeet nie.
“Nog ’n projek wat vir my besonders is, is die een wat ons sewe jaar gelede begin het saam met die Lereko Secondary School in een van die swart woongebiede in Bloemfontein. Die kinders daar is uiters arm. Baie van hulle bestuur sogenaamde child-headed households – daar is nie ouers nie en sodra die skool uitkom, moet die kind by die huis gaan sorg vir boeties en sussies.
“Nadat ons die skool twee of drie keer besoek het, het ons skryfbehoeftes en eksamenmateriaal gaan uitdeel – spesifiek vir die eksamentyd. Daarna het die skool gevra of ons nie ’n stil, goed toegeruste kampterrein kon bied vir die Graad 12-leerders om vir hul eindeksamens voor te berei en dit dan ook daar af te lê nie.
“En so het ons toe begin om vir hulle mooi, stil kamers by die Mooigenoeg Kampterrein beskikbaar te stel, weg van hul moeilike huislike omstandighede. Daar kan hulle fokus, rus, eet en behoorlik voorberei vir die volgende dag se vraestel.
“Sedertdien het die Lereko Secondary School se matriek-slaagsyfer van onder 50% gestyg tot al na meer as 90%; iets wat besonder verblydend is.”
Wat is die grootste uitdagings in jou werk?
“Ek moet eerlik sê: ek geniet my werk regtig baie. Een van die grootste redes daarvoor is die kollegas in die kantoor saam met wie ek werk. Ons werk as ’n span saam wat alles soveel makliker maak.
“Soos enige werk, is daar natuurlik ook uitdagings. Die grootste uitdaging was (en is steeds) om met mense te werk – mense binne en buite die kantoor. Dit vra geduld, insig en soms ook fermheid, veral wanneer verwagtinge verskil. ’n Mens wil graag hê dat almal op die ou end gelukkig moet wees.
“In ’n tyd waar daar toenemend druk op die kerk is – finansieel en struktureel – is daar uiteraard uitdagings, maar ek dink ons slaag daarin om ’n baie positiewe beeld van die Sinodale Kerkkantoor te help vestig; beide na binne en na buite.”
Kontak
Vir meer inligting kan Adriaan de Ruiter by reken@ngkvs.co.za gekontak word.
| verskaf deur: Adriaan de Ruiter




