Deur dr Dawie Botes, ondervoorsitter van die Moderamen van die NG Kerk Vrystaat en leraar van NG Gemeente Welkom-Wes
Ons lewe in ‘n kitstyd waarin alles vinnig moet gebeur of eintlik al moes gebeur het. Die internet-spoed is altyd net te stadig en die toue by die kruidenierswinkel net te lank. Ja, ook op geestelike gebied moet dinge vinnig gebeur, ’n vinnige oomblik van stiltetyd en dan word die tiensekonde-gebed in die dagstukkie saam gebid. G’n wonder dat ’n lidmaat die stelling maak dat hy half teleurgesteld voel oor sy geestelike lewe, leeg voel en niks meer kry in God se Woord nie.
In Lukas 24:13-36 lees ons van die Emmausgangers wat 12 km saam met Jesus Christus stap; dit is ongeveer twee en ’n half uur lank se stap. So stap twee volgelinge van Jesus saam met Hom en hoor hoe Jesus self vir hulle verduidelik wat “Moses en al die ander profete in die Bybel oor Hom geskryf het”. Dit moes net ongelooflik gewees het om so saam met Jesus Christus te kon stap, sal ons almal seker sê. Die feit is dat Jesus ons elke dag nooi om saam met Hom te stap, of dat Hy saam met ons stap en ons Hom nie eens herken in ons gejaagde lewe nie.
Kan ons ooit weer die kuns ontdek om tyd te maak en saam met Jesus te stap? Leer ons mekaar (pa en ma, gesin, man en vrou, kollegas) om tyd te maak om saam met Jesus te stap en na sy Woord te luister?
Hoe het die Vrystaatse Kerk ’n pad van 160 jaar gestap, en hoe gaan ons ’n volgende 160 jaar en verder stap? Dit sou en moes ’n pad net saam met die Here wees, al luisterend slegs na sy Stem en na sy Woord. In Johannes 10 kom die woorde ’n paar keer voor wat sê: “My skape luister na My stem en Ek ken hulle.”
Die twee Emmausgangers moes letterlik die stukke van hulle lewe optel, want hulle was nie meer op ’n goeie plek in hulle lewe nie. Maar die 12 km stap en luister na Hom alleen, na sy Woord en prediking, maak dat hulle Hom herken as hulle Verlosser. Hulle lewens verander en hulle gaan as opgewonde mense terug na Jerusalem.
As kerk moet ons weer die kuns van tyd, stilte, stap en luister saam met Jesus Christus en sy Woord omarm en met albei hande aangryp, met ons hele hart. Daarmee saam die kuns van fyn luister: “Wat wil die Here vir ons sê in sy Woord?” Sodat ons almal, klein en groot, sal sê soos vers 32: “Het ons harte nie warm geword toe Hy op die pad met ons gepraat en vir ons die Skrif uitgelê het nie?”
| verskaf: Dr Dawie Botes, ondervoorsitter van die Moderamen van die NG Kerk Vrystaat en leraar van NG Gemeente Welkom-Wes, en sy vrou Animé.

