Skip to content Skip to footer

Ons San-medegelowiges in Tsumkwe, Namibië

Deur Mariëtte Odendaal

“Die hele uitreik na Tsumkwe het my geleer dat God nie vasgevang kan word nie; God is net soveel in ’n kerkgebou as wat Hy onder ’n boom in die dorre woestyn is. God is daar waar sy mense is, wie dit ookal is. Tsumkwe het my net weer die waarde van ons as gemeenskap van gelowiges laat besef. Alhoewel ons tale en kulture verskil, is ons almal met mekaar verbind deur ons verhouding met God.”

Herlize Nel
Teologiestudent
Kopanong-gemeente

Daar is min plekke waar jy die son so bloedrooi sal sien ondergaan as in die noord-oostelike gedeeltes van Namibië. Dit is ook in dié streek waar ons as medegelowiges al sedert 1961 sterk bande met ons San-broers en -susters begin smee het en danksy die werk van DEGNOS en die ondersteuning van Vennote in Getuienis, steeds onderhou.

DEGNOS, voorheen bekend as Boesmansending, staan vir Diens en Getuienis Noord-ooste Streek en word tans deur ds Andries Gous bestuur.

DEGNOS se wortels lê in die NG Kerk en word veral deur die sinodes van die Vrystaat en Wes-Kaapland ondersteun. Een van die Vrystaat-gemeentes wat by DEGNOS betrokke is, is die Heuwelsig-gemeente. Ons het meer oor hul uitreik vanjaar na Tsumkwe gaan uitvind by hul predikant, ds Craig Salzmann.

Craig, baie mense dink dat alle San-mense in ’n woestyn bly, maar dis nie so nie. Vertel vir ons meer van die area waarheen julle vanjaar uitgereik het.

“Graag. Ja-nee, daardie gedeelte van Namibië is beslis nie woestynwêreld nie, maar digte bosveld waar reuse-kremetartbome oral te sien is en wild vrylik rondloop. Ons het selfs olifante gesien!”

“Bome het groot waarde in daardie omgewing; daar gebeur baie dinge onder bome. In die kort tydjie wat ons daar was, is bome gebruik as middagete-bome, rusbome, speelbome, braaibome en by omtrent elke habitat (dorpie) is daar ’n kerkboom. ’n Boom word sommer gou-gou ’n bymekaarkomplek vir enige gemeenskapsgebeurtenis.”

“Ons is bevoorreg om hier in ons land in ’n kerkgebou of huis bymekaar te kan kom, maar ’n gebou het mure en slotte. ’n Boom het nie slotte nie en ook dikwels nie mure nie (behalwe vir die kremetartbome wat teen olifante beskerm moet word). Die area onder bome is oop en verwelkom enige iemand wat wil aansluit; iets waarvan ons Westerse samelewing baie kan leer.” 

Van wanneer af is julle al by die DEGNOS-bediening betrokke?

“Ons gemeente is al meer as 30 jaar by hierdie bediening betrokke. Heuwelkruin en Woodland Hills is twee ander Bloemfonteinse gemeentes wat ook nou betrokke is by DEGNOS en het voorheen ook al verskeie uitreike na dieselfde streek meegemaak.”

“Ons gemeente is spesifiek aan die Tsumkwe-gemeente, een van vier by DEGNOS, gekoppel. Die laaste uitreik was egter voor Covid, in samewerking met Heuwelkruin-gemeente. Vanjaar was dit die eerste keer dat ons ná Covid weer ’n uitreik soontoe aangepak het.”

Wat was die hoofdoel van julle besoek?

“Omdat daar meer as vyf jaar gelede een van Bloemfontein se uitreikspanne na Tsumkwe was, was ons doel om eerstens vir die mense te gaan wys dat ons hulle nog onthou. By een van die habitatte het die mense juis gesê hulle het al gedink dat die mense van Bloemfontein van hulle vergeet het, daarom was hulle baie bly om ons weer te sien.”

“Met hierdie besoek wou ons graag weer daardie verhoudingsbande gaan optel en ook almal herinner dat God se familie nie net daar is waar ons woon nie.”

“Ons wou dit beslis ook nie doen sonder boodskappe uit die Bybel nie en het daarom gefokus op praktiese lesse wat Jesus ons leer.”

“Ons hoop ook dat die afgelope uitreik weer momentum sal gee aan volgende uitreikgroepe om vanaf Bloemfontein of enige gemeente uit die Vrystaat vir hulle te gaan kuier.”

Vertel vir ons meer van die mense na wie julle uitgereik het.

“Alhoewel daar ook ander volke met hul eie besondere kultuur in die omgewing woon, fokus ons bediening hoofsaaklik op die San-mense. Baie van hulle kan Afrikaans praat en verstaan, maar vir diegene wat dit nie kan verstaan nie, is daar getolk. Daar was verskeie mense wat saam met ons gereis en getolk het, maar ds Leviet wat Afrikaans goed kan verstaan en praat, was heeltyd deel van ons span. “

“Hy is ook een van die predikante van Tsumkwe en is ’n fenomenale tolk wat ’n spesiale aanvoeling vir sy mense het.  Eintlik is dit húlle bediening en ons gaan kuier net daar. Hulle is sagte, vriendelike mense; mense wat graag wil weet dat jy hulle raaksien. Oral waar ons gekom het, is ons baie vriendelik ontvang.”

“By Noma is ons met die mooiste sang verwelkom. Ons het eintlik ervaar dat ons daar deur húlle bedien is. Jy raak ook sommer gou baie lief vir die kinders van Tsumkwe.” 

“Daar was soms ’n baie bejaarde vrou wat met krukke aangeloop gekom het en ander kere ’n baie bejaarde man wat blind is. Dit was egter vir hulle so belangrik om die goeie nuus van Jesus te hoor dat hulle op hul stadige pas nadergekom het om aan te sluit en meer te hoor.”

Vertel meer van die uitreikgroep.

“Vanjaar se span het uit sewe lede van Bloemfontein bestaan waarvan ses van ons van die Heuwelsiggemeente was; die sewende lid was Herlize Nel, ’n teologie-student, verbonde aan die Kopanonggemeente (die ou studentekerk). Ons spanlede het gewissel van jong ongetroudes tot ouer volwassenes; van ietsie in die 20’s tot ietsie in die 60’s.

“Ons was ook tydens die uitreik vir ’n dag saam met die Wes-Kaapse Stellenberg-span van ongeveer twintig spanlede. Dr Nico Mostert van ons Vennote in Getuienis en ds Zak Scholtz van die Woodland Hills Gemeente was ook teenwoordig toe ons daardie dag almal saam na Aasvoëlnes en Noma uitgereik het. Hierdie ervaring was ’n hoogtepunt en een van van die kosbaarste oomblikke wat ek nog ooit op ’n uitreik beleef het – die  wete dat die Here op verskeie plekke in Sy koninkryk werk en hierdie gelowiges bymekaar gebring het.”

“Elke spanlid het hul eie verantwoordelikheid ten opsigte van die uitreik gehad. Verskeie spanlede het Bybelboodskappe gedeel, ander moes help met die poppekas (’n baie gewilde hoogtepunt vir ons San-vriende), daar moes etes voorsien word en die spanleier moes sorg dat alle logistieke reëlings op ge-oliede wiele loop.”

So ’n uitreik raak mense gewoonlik baie diep – nie net vir diegene na wie uitgereik word nie,  maar ook vir diegene wat op die uitreikspan was, né?

“Ja, beslis! Ds Leviet het byvoorbeeld getuig van die jarelange verhouding wat hulle met voormalige uitreikgroepe gehad het, veral persone wat herhaaldelike kere gegaan het, en hoe baie dit vir hulle beteken het. Daardie verhoudings is vir hom en sy mense baie belangrik. Daarom was ons besoek vir hulle gemeente van groot waarde; hy was so dankbaar dat daar weer mense uit die Vrystaat vir hulle kom kuier en bemoedig het.”

“Van ons eie uitreikgroep het Marihanca Botha die uitreik as ’n diepgaande belewenis ervaar waar sy God se teenwoordigheid in elke ontmoeting beleef het. ‘Dit het my hart aangeraak om te sien hoe ’n eenvoudige daad van liefde ’n hele gemeenskap kan inspireer,’ het sy getuig.”

“’n Ander uitreiklid, Willem Fourie, het vertel hoe die uitreik hom weer laat besef het hoe klein ons is en hoe baie werk daar nog is om te doen daar buite. ‘Ek het by tye gewonder hoe die mense van DEGNOS positief bly, omdat die areas wat hulle moet bereik, baie groot is. Stadig maar seker vorder hulle/ons wel met die werk van God. Ek sal weer wil gaan as dit vir my beskore is,’ het hy gesê.”

Vir meer inligting kan ds Craig Salzmann by craigasalzmann@gmail.com of dr Nico Mostert by missio@ngkvs.co.za gekontak word.

Tsumkwe-Uitreik 1
Tsumkwe-Uitreik 2
Tsumkwe-Uitreik 3
Tsumkwe-Uitreik 4
Tsumkwe-Uitreik-5
Tsumkwe-Uitreik-6
Tsumkwe-Uitreik 7
Tsumkwe-Uitreik 8
Tsumkwe-Uitreik 9
Tsumkwe span

 | Foto’s is deur ds Craig Salzmann verskaf.