Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Die Pous en die Imam

Deur dr Enrico Casaleggio, Vennote in Getuienis

Hoewel hierdie artikel streng gesproke nie hoort by die lys van apologetiese gesprekke waarna ons die afgelope tyd gekyk het nie, handel dit tog oor een van die heel belangrikste gesprekke wat in ’n lang tyd tussen Christene en Moslems gevoer is. Ons kyk na Pous Franciskus se onlangse besoek aan Indonesië en sy gesprek met Nasaruddin Umar, die hoof-Imam van Jakarta se Istiqlal-moskee. Indonesië is die land met die grootste getal Moslems as deel van hulle bevolking. Hierdie ontmoeting was dus ’n gesprek tussen die Pous, die leier van die grootste Christelike denominasie (die Rooms Katolieke Kerk), en die hoof-Imam van die land met die meeste Moslems.

In ’n berig[1] op Al Jazeera op 5 September 2024, Pope Francis and Indonesia imam call for unity against religious violence, word gesê dat dié twee godsdienstige leiers ’n gesamentlike verklaring uitgereik het waarin hulle vra vir godsdienstige harmonie ter wille van die mensdom. Hulle doen daarin ook ’n oproep tot vriendskap tussen gelowe, ’n veroordeling van godsdienstige geweld en ’n gesamentlike poging om die planeet te bewaar.

Die berig lui verder: “Opening his speech at the mosque, Francis emphasised the commonality of religions, stating that “by looking deeply … we discover that we are all brothers, all pilgrims, all on our way to God, beyond what differentiates us.

Objektief gesproke sou ’n mens nie kon fout vind met die boodskap van die Pous nie. Hy sou seker ook op ’n diplomatiese manier gemene grond probeer soek het. Die feit van die saak is egter dat, godsdienstig gesproke, daar meer verskille tussen Christene en Moslems is as wat daar ooreenkomste is. Ons kan ook maar net wonder, teen die agtergrond dat ’n pelgrimstog (oftewel Hadj) een van die vyf pilare van Islam is, hoe Moslems sy opmerking sou interpreteer dat ons álmal op ’n pelgrimstog op pad na God is.

Die Istiqlal-moskee is oorkant Jakarta se katedraal geleë, verbind deur ’n “tonnel van vriendskap” as ’n simbool van godsdienstige broederskap. Die tonnel word in Indonesië gereken as ’n kragtige simbool van godsdiensvryheid, wat in die land se grondwet verskans is.

Die groei van die Christendom in Indonesië is vir die Islam wêreldwyd ’n verleentheid en ’n kopseer, aangesien daar in hierdie land jaarliks twee miljoen Moslems tot bekering kom. Ons kyk daarom volgende keer nog ’n keer na die stand van Islam in Indonesië.

Hierdie reeks Islam-artikels het ’n eiesoortige aanslag. Dit kom uit ’n apologetiese hoek en die reeks sal uiteindelik uitkom by ’n antwoord op verskillende vrae wat Moslems vra, byvoorbeeld oor die Godheid van Jesus. Hierdie artikel is ietwat anders as die reeks se artikels tot dusver en sluit aan by die Pous se besoek aan Indonesië.

Kontak dr Enrico Casaleggio vir meer inligting by enrico.casaleggio@absamail.co.za

116 | Maatskaplike NOODLYN