Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Dispute onder Mohammad se leerlinge

Deur dr Enrico Casaleggio, Islam Getuienisaksie

Die eerste Koran-openbaring het na Mohammad gekom rondom die jaar 610 nC. Hy het tydens die daaropvolgende twee dekades baie verse aan sy sekretarisse en metgeselle gegee om te memoriseer en op te teken. Hierdie verse is geskryf op stingels van palmblare, bene van dooie diere, plat klippe en ander materiaal. Daar was geen volledige manuskrip van die Koran gedurende hierdie tyd nie[1].

Die opteken van die Koran het opgehou toe Mohammed gesterf het in die jaar 632. Kort na sy dood moes kalief Abu Bakr ’n rebellie onderdruk. Hy het baie huffaz (mense wat gedeeltes van die Koran gememoriseer het) gestuur om te veg by die Slag van Yamama. Baie van hierdie huffaz het gesterf, en Moslem-bronne  leer  dat, met die afsterwe van hierdie mense, gedeeltes van die Koran vir ewig verlore was:

Ibn Abi Dawud sê in Kitab al-Masahif: “Baie (van die gedeeltes) van die Koran was bekend aan diegene wat op die dag van Yamama gesterf het … maar hulle was nie bekend (aan diegene wat) die slag oorleef het nie. Daardie gedeeltes is ook nie neergeskryf nie, en Abu Bakr, Umar of Uthman het ook nie op daardie stadium die Koran versamel nie. Die Koran was ook nie in besit van ’n enkele persoon ná hulle nie. Abu Bakr het besluit dat dit tyd was om te versamel wat van die Koran oorgebly het om te verhoed dat nog meer verlore gaan, en hy het Zaid ibn Thabit vir hierdie taak aangestel. Nadat Zaid sy kodeks in omstreeks 634 nC voltooi het, het dit in Abu Bakr se besit gebly tot sy dood. Dit is toe aan kalief Umar gegee. Toe Umar gesterf het, is dit aan Hafsa, ’n weduwee van Mohammed, gegee (sien Sahih al-Bukhari 4986).

Tydens kalief Uthman se bewind, ongeveer 19 jaar na die dood van Mohammad, het dispute ontstaan ​​oor die korrekte voordrag van die Koran. Uthman het beveel dat Hafsa se kopie van die Koran, saam met alle ander bekende teksmateriaal, bymekaar gemaak moes word sodat ’n amptelike weergawe saamgestel kon word.

Zaid ibn Thabit, Abdullah bin az-Zubair, Sa’id bin al-As en Abdur-Rahman bin Harith het ywerig gewerk om ’n hersiene teks van die Koran te konstrueer. Toe dit klaar was, “het Uthman na elke Moslem-provinsie ’n kopie gestuur van dit wat hulle gekopieer het, en beveel dat al die ander Koran-materiaal, hetsy dié wat in fragmentariese manuskripte of hele kopieë geskryf is, verbrand moes word” (Sahih al-Bukhari 4987).  Die Koran wat ons vandag het, stam af van die Utmaniese kodeks.

Nie alle Moslems het die nuwe Koran aanvaar nie. Sommige van Mohammad se top-resiteerders het Zaid se weergawe verwerp. Mohammad het eenkeer vir sy volgelinge gesê: “Leer die voordrag van die Koran van vier persone: van Abdullah bin Masud – hy het met hom begin – Salim, die vrygestelde slaaf van Abu Hudhaifa, Mu’adh bin Jabal en Ubayy bin Ka’b” (Sahih al-Bukhari 3808).

Interessant genoeg het Ibn Masud (eerste op Mohammad se lys) gemeen dat die Koran slegs 111 hoofstukke moes hê (vandag se weergawe het 114 hoofstukke), en dat hoofstukke 1, 113 en 114 nie in die Koran ingesluit moes wees nie. Ibn Masud het hierdie hoofstukke as vroeë Moslem-gebede beskou, nie as deel van die Koran-openbaring nie.

As gevolg hiervan (saam met honderde ander teksverskille), het Ibn Masud so ver gegaan om die finale uitgawe van die Koran ’n misleiding te noem.  Hy het gesê: “Die mense was skuldig aan bedrog in die lees van die Koran. Ek hou meer daarvan om volgens sy (Mohammad se) voordrag te lees as dié van Zayd Ibn Thabit” (Ibn Sa’d, Kitab al-Tabaqat al-Kabir, Vol. 2, bl. 444).

Dit verbaas mens daarom nie dat Ibn Masud Moslems aangeraai het om Zaid se weergawe van die Koran te verwerp en om hul eie weergawes te behou nie; selfs om dit weg te steek sodat hulle nie deur die Uthmaniese regering gekonfiskeer word nie!

Maar Ibn Masud was nie die enigste een van Mohammed se vertroude onderwysers wat nie met Zaid se Koran saamgestem het nie. Ubayy ibn Ka’b was Mohammed se beste voorleser en een van die enigste Moslems wat die materiaal van die Koran tydens Mohammed se leeftyd versamel het. Tog het Ibn Ka’b geglo dat daar in Zaid se Koran twee hoofstukke ontbreek. Ibn Ka’b se uitgawe het 116 hoofstukke gehad. Latere Moslems is dus gedwing om sommige van Ibn Ka’b se voordrag te verwerp.

As gevolg van hierdie geskille onder Mohammed se uitgesoekte voorlesers word Moslems met ’n dilemma gekonfronteer. As Moslems sê dat die Koran wat ons vandag het, perfek bewaar is, moet hulle tot die gevolgtrekking kom dat Mohammed gefouteer het toe hy sy beste geleerdes gekies het, aangesien hy mans gekies het wat nie met vandag se teks saamgestem het nie. As, aan die ander kant, Moslems sê dat hul profeet sal weet wie om te kies met betrekking tot die voordrag van Islam se heiligste boek, moet hulle tot die gevolgtrekking kom dat die Koran wat ons vandag het, gebrekkig is.

[1] Inligting vir hierdie artikel kom meestal uit David Wood se publikasie Christian Essential Series: The History of the Quran, wat in 2020 deur Ad Luceum uitgegee is.

Hierdie reeks Islam-artikels het ’n eiesoortige aanslag. Hierdie artikel handel oor die stryery wat plaasgevind het tussen Mohammad se eerste volgelinge oor wat in die Koran hoort en wat nie. Dit onderstreep maar net dat daar van die begin van Islam geen konsensus was oor wat in die “oorspronklike” Koran hoort en wat nie.

Kontak dr Enrico Casaleggio vir meer inligting by enrico.casaleggio@absamail.co.za