Skip to content Skip to footer

DEGNOS-dinge

Deur Andries Gous, DEGNOS

Liewe vriende van DEGNOS

Ringsitting van die Noorde-Ring

Van regoor die bedieningsareas het predikante en kerkraadslede begin bymekaar kom om by die Sentrum in Grootfontein oor te slaap. Ons het vroeg Saterdagoggend, 30 Augustus, deurgery na Tsumeb waar al die Noord-Namibiese gemeentes bymekaar kom om gemeenskaplike sake te bespreek. Dit voel of ons DEGNOS-klomp ’n ewigheid laas bymekaar was. Dit is lekker om saam met broers en susters te kuier!

Opgewondenheid in die lug oor die jeug

Mishe Matteus (ons jeugwerker) en ds Isak Chameia (gemeente-ontwikkeling) vertel met opgewondenheid van al die groot planne wat daar is met die jeugbediening in Luhebu-Noord. Met militêre presisie word daar beplan hoe om die jeug te bereik en te mobiliseer. Die bedieningsarea word opgedeel en verskillende mense in verskillende areas is geïdentifiseer wat leiding moet neem met die jeug. Ek voel die opgewondenheid aan – hier kom ’n ding! 

Tsumkwe-gemeente mentor (gemeente-ontwikkeling)

Ds Leviet en Tsamkxao is skaars ’n week aan die gang met die wegspring van hierdie nuwe inisiatief in Tsumkwe-gemeente en klaar is daar groot opgewondenheid oor die potensiaal wat raakgesien word. Ds Leviet glimlag van oor tot oor – hy kan sien hoe hierdie plan mense nader aan die Here kan bring. Ook Kamashe, ds N!aici en ds Gerrie stem saam – ons kan ons mense nou bereik. Ons het vervoer, daar is evangeliste wat opgelei word en die organisatoriese strukture is in plek. Ons vertrou dat die Here ook die finansies vir hierdie projek sal voorsien aangesien ons glo dat dit Sy plan is.

Gebedslys
      • Deursettingsvermoë – bid asseblief vir Mishe, Isak en Leviet spesifiek. Hierdie drie manne dra die verantwoordelikheid om hierdie nuwe programme te implementeer en om naby aan die Here te loop en fyn te luister. Bid asseblief dat hulle nie sal moed verloor of sal uitbrand in die proses nie.
      • Ringsitting-vrymoedigheid – bid asseblief dat die San-gemeente se verteenwoordigers die vrymoedigheid sal hê om deel te neem aan gesprekke by die Ringsitting. Die kerk het hierdie broers en susters se wysheid en passie vir die Koninkryk bitter nodig.
Dankbaar

Ons dank die Here vir elke persoon wat tot die oortuiging kom om saam met ons te bid en saam met ons te help versorg binne die Koninkryk van die Lewende God.

DEGNOS-groete

Ons is opgewonde oor die Jeug bedienning!
Ons is opgewonde oor die Jeugbediening!

 | Verskaf deur Andries Gous