Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Om oor die rivier te kyk …

Deur ds Jan Lubbe, voorsitter van die Moderamen van die NG Kerk Vrystaat

Aan alles kom daar hier, ’n einde.

Terwyl ek gisteraand hieraan begin skryf, kom die oproep dat oom Kowie Wessels oorgestap het. Hy was 96, een van ons oudste lidmate, ’n merkwaardige mens en geliefde medegelowige. Jare lank betrokke by die uitreik na die San-mense in die noorde van Namibië; elke jaar het hy ten bate van hulle en DEGNOS kraletjies en kurios by ons Pinksteruitstalling gehad. En Sondagoggende vroeg deel van die gebedsgroep in ons gemeente, vóór die erediens vir die Woordverkondiging hier en naby en ver. Nou’t hy oorgegaan in aanskoue.

Moses, die “vriend van God” was 120, sê die Skrif, toe hy van die Berg Nebo af oor die Jordaanrivier gekyk het, die vlaktes verby Jerigo, die Beloofde Land in. Die Here het dit als vir hom gewys (Deuteronomium 34). ’n Stuk of vyf eeue later het Elia en Elisa ook by ’n drif deur die Jordaanrivier gestaan, nie ver van Jerigo nie. Heeldag al gegroet: Die tyd het gekom dat hy moes oorstap, die vurige strydwa en perde het gewag, dit was vir nóg die jonge Elisa nóg die oue Elia maklik. Die mantel moes laat val word, en opgetel word. God se Gees gaan verder …

Die Jordaanrivier is spreekwoordelik daardie grens waaroor iedereen van ons eendag sal móét. So aangrypend berym in die bekende “Guide me, O my great Redeemer” (ons Lied 280): “When I tread the verge of Jordan, bid my anxious fears subside.” Laat my veilig oorgaan, en Anderkant in die Beloofde Land aankom, met ’n pryslied, vir ewig aan ons God. Het Moses gesing daar bo op die berg Nebo? Was hy bedroef? Dáár, in die intieme gesprek tussen die Here en hom, kom die verlede wel weer ter sprake: lewe in Egipte by die vleispotte, maar ook daardie dag met die moord; die keer op die berg Horeb met die bos wat brand en die Stem wat roep “Ek ís”; die groot dade van God langs die Nylrivier; die goue kalf en die woestynjare se geswerf; die keer met die rots wat hy uit moedeloosheid geslaan het – ag, Here, “U weet alles …” Is dit daar op die berg Nebo dat Moses (by wyse van spreke) Psalm 90 gebid het, oor hoe gou alles verbygegaan het, oor hoe stoflik ons sterflinge is, oor die sug van selfverwyt, oor die verlange na Gods ontferming, oor die bede dat ons “handewerk in stand gehou sal word”?

Oorkant die rivier het die Beloofde Land gelê, deinserig tot in die verte, die Middelandse See se kuslyn. Vandag, Gasa.

Die NG Kerk Vrystaat kom Sondag, 7 Junie 2026, vir haar 55ste Sinode byeen. Nie heeltemal op die Moabsvlakte sodat ons kan sê ons swerfjare is verby nie; ook nie so naby aan die Beloofde Land dat ons kan terugsit en sê ons is hier, ons het dit reggekry, óns weet hoe lyk die toekoms, ons het “gevisioneer” hoog van die berg Nebo af nie. Dít het die Kerk deur die eeue tog moes leer, nie waar nie? Ons is onderweg, altyd weer onderweg. Want God gaan dan vooruit – kyk, daar skuif die wolk! Hý lei. En hierdie keer bring Hy ons deur sy Woord en Gees óók by ’n waterstroom, te sterk vir ons om deur te gaan (Esegiël 47). Gelukkig, sy Engel is daar. Wat ’n vergesig!

Dit was ’n voorreg om die afgelope vier jaar saam te loop, dankie. Die tog na die toekoms gaan verder – loop mooi. Onthou die visioen van die rivier, die heilige waterstroom, helend. Drink wanneer julle dors word, uit die Bron. En as Hy uitnooi – “Kom!” (Johannes 7:37-38) – laat ons dan moedig, dankbaar en met vreugde opstaan en Hom volg.

Gegroet, geliefde gemeentes!