Deur Maryna van Wyk, vryskutjoernalis en kopieskrywer
Vroue is sinoniem met skoonheid en versprei ’n aangename geur. Dit staan ook so in die Bybel dat waar daar vroue is, is liefde en diensbaarheid teenwoordig.
My moeder was so diensbaar vir my tot op die ouderdom van 83 jaar. Daar was altyd ’n beker rooibostee langs my bed wanneer ek soggens moes opstaan. Vanaand ná werk was daar iets heerliks om te eet. ’n Gewone iets het sy in ’n spesiale gereg omgetower.
Toe my pa nog gelewe het in die sewentigerjare, was die tafel gedek en het ons kinders in afwagting gesit en wonder watter gereg ma nou weer op die eetkamertafel gaan neersit. Een keer het ons kopgekrap met die hoender wat nie soos ’n hoender gelyk het nie. Ons moes raai wat dit is. Dit was toe al die tyd ’n haas wat my ma by die supermark gekoop het en ja, dit het heerlik gesmaak. Al was ons maar langtand aan die begin.
Ons is so geneig om ma’s met lekker kos te assosieer. Net my ma kon kaaskoek maak of ’n Swartwoudkoek bak. Net Ma kon Pilchards-viskoekies gemaak het asook tuisgebakte brood. Sy het altyd iets van amper niks gemaak en dit was lekker, al die oorskietgroente het groentekoekies geword.
My ma was egter soveel meer as net lekker kos. Sy sou nooit die huis verlaat sonder dat jy haar deur ’n ring kon trek nie. Sy was ’n trooster, taxi-ryer vir my en my broer en soms net ’n grapjas. Ek wonder soms hoe sy vandag sou wees, want verandering het soos ’n reuse-golf die afgelope vyftien jaar oor ons losgebars.
Vyftig jaar gelede het ons wêreld anders gelyk sonder rekenaars, Netflix, DStv en selfone. Om nie eers te praat van al die moontlike beroepe wat vroue nou kan beoefen nie.
Tog staan een ding vas soos ’n paal bo water. Ma’s het min verander, al moet die meeste ma’s vandag ook voltyds werk en loopbane hê. Ek wonder hoeveel huisvroue vandag regtig dankbaar is om net ma en ’n vrou vir haar man te kan wees?
Tye het verander, maar deur al die generasies het vroue se harte dieselfde gebly. Saam met haar gesin is sy net ma, versorger, kok en eggenoot. Mag Vrouemaand vanjaar ons weer tot stilstand bring in die huidige versnellingsindroom met die besef dat God die vrou geskape het om spesiaal te wees.
Spreuke 31 vers 16-17
Sy oorweeg die waarde van ’n stuk grond en koop dit, sy sit dit onder wingerd met geld wat sy self verdien het. Sy pak die werk aan met krag, haar hande staan vir niks verkeerd nie.
Wanneer ’n vrou iets met mag en mening aanpak, is daar niks wat haar gaan keer om haar doel te bereik nie. Dit is die motivering wat elke vrou in Vrouemaand 2025 met haar moet saamdra.
| Verskaf: Maryna van Wyk, vryskutjoernalis en kopieskrywer.

