Oorgeneem uit Kerkbode, 22 September 2025, Artikels
Gesonde gemeentes word deur spanne gelei en diensleraars en opgeleide lidmate (Bedienaars) het ’n groot bydrae om te lewer om meer gawes aan die kerk te ontsluit, soos ook onlangs in ’n verslag oor die daling in predikanteposte uitgewys word.
Die verskynsel van “ampsverbreding” in die NG Kerk verwys na die opleiding van “predikante (wat steeds ‘n sleutelrol in die kerk sal speel), maar ook diensleraars (net soos predikante gelegitimeer) en bedienaars (vrywillige bediening) wat gemeentes in staat stel om met sinvolle bediening voort te gaan,” luidens die verslag. Diensleraars, dominees en bedienaars ding nie teoreties met mekaar mee nie, maar tog is daar vrae oor hoe dinge in praktyk die afgelope vyf jaar uitspeel. Hierdie diepte-artikel kyk na diensleraars: Die data en die mense. (Die opvolg-artikel kyk na Diensleraars oor hulle ander beroepe, die waarde van mentors en ’n kultuur van begeleiding)
Deelnemers aan die jaarlikse Slypskool vir Skrywers, wat Kerkbode vroeg in September in samewerking met die Taakspan Navorsing in Gauteng aangebied het, kon hulle beriggewing fokus op presies dié aktuele onderwerp: Diensleraars en die impak wat hierdie nuwe baan van teologiese opleiding op gemeentes en die NG Kerk in geheel het. Ons publiseer hiermee die eerste aflewering van die skryfwerk deur deelnemers van regoor die land.
- Shaun Darker skryf: Diensleraars bring vars energie in sisteme wat gestagneer het
- Guillaume Smit vra: Wat word diensleraars alles geleer?
- Chris de Vries berig: In 2023 het 26 tradisionele dominees afgestudeer. Die ander groep van 29, was almal diensleraars
- Anje Zeeman verken: Grys areas in terme van kerkreg
Ds Shaun Darker is leraar by NG Gemeente Welkom-Suid:
Wanneer getalle nie genoeg is nie – ’n balans tussen ‘hoeveel’ en ‘hoe goed?’
Diensleraars herinner ons dat God se roeping nie meetbaar is in statistiek nie, maar sigbaar word in mense wat met vars energie en toewyding dien, skryf Shaun Darker.
Die 2025-predikantpaneel skets ’n ontnugterende prentjie van die NG Kerk se leraarskorps. Meer as 55% van predikante is ouer as 50. Voltydse onbepaaldetermyn-poste het binne twee jaar met 16% gedaal, terwyl emeritusposte in dieselfde tydperk verdubbel het. Met net enkele kandidate vir legitimasie in 2025 is dit duidelik: die tekort is nie net ’n verre dreigement nie, maar ’n groeiende werklikheid.
Maar die krisis gaan nie net oor getalle nie. Dit gaan ook oor vaardighede. Predikante word toenemend gekonfronteer met ’n wêreld wat vra vir meer as tradisionele bediening. Hulle moet vaardig wees in konflikhantering, digitale media, multi-kulturele bediening en die kuns om Bybelwaarhede relevant te maak vir mense wat al hoe minder kerk toe kom.
Die kerk staan dus in ’n dialektiek: om opleiding te verkort, dra die risiko van oppervlakkigheid; om dit te behou, dra die risiko van skaarsheid. Albei kante verteenwoordig egte bekommernisse – die volhoubaarheid van gemeentelike bediening hang af van ’n balans tussen hoeveel en hoe goed.
’n Lewensaar vir gemeentes
In hierdie landskap staan diensleraars as ’n verrassende teenwig. Hulle is nog besig met opleiding, maar reeds aktief in bediening. Vir gemeentes wat nie ’n voltydse leraar kan bekostig of bekom nie, word ’n diensleraar dikwels ’n lewensaar.
Hierdie lewensaar vul die onmiddellike tekort aan mense. Met elke hartklop is daar predikers op kansels, jeugwerkers in skole en versorging in hospitale. Gelowiges wat hulle roeping en passie uitleef in kerk en gemeenskap. Hierdie manier van kerkwees is aansteeklik – só wys die 60% groei in diensleraargetalle oor die afgelope vyf jaar.
Gemeentes as leeromgewings
Die teenwoordigheid van diensleraars wek gemeentes tot nuwe lewe en bring vars energie in sisteme wat gestagneer het. Een van die waardevolle effekte is dat hulle gemeentes dwing om leeromgewings te word.
’n Diensleraar is nie ’n klaargemaakte produk nie. Die gemeente self word deel van die opleidingsproses – en dit vra geduld, maar bring ook groei. Hierdie proses is niks anders as dissipelskap in murg en been nie. Só verander die rol van die gemeente: van ’n ontvanger wat ’n voltydse predikant of dan “verbruiker”, na ’n medeskepper van toekomstige diensleraars of dan “missionale instansie”.
Teologiese suurstof
Die lewensaar van diensleraars is ook ryk aan teologiese suurstof, daar is geen tekort of anemie nie. Diensleraars ontvang opleiding tot op BTh-vlak, met fokus op een van vier rigtings: prediking, jeugwerk, barmhartigheid of pastoraat. Die diensleraarvraelys van 2025 beklemtoon verder ’n honger vir akademiese verdieping. Meer as 62% van diensleraars wil ná legitimasie voortgaan met nagraadse studies. Hulle leergierigheid is opvallend – ten spyte van die voortdurende spanning tussen studie, bediening en tyd.
Hoop tussen die tekorte
Diensleraars wys vir ons dat ’n tekort nie net ’n bedreiging is nie, maar ook ’n geleentheid. Hulle bring hoop deur die gaping tussen hoeveel en hoe goed te oorbrug. Hulle herinner ons dat die Here se roeping nie vasgevang kan word in statistiek of afnemende poste nie, maar dat Hy sy kerk bou deur mense wat bereid is om te dien. Soos die teoloog David Bosch dit stel: “The church is the church only when it exists for others … she is the instrument of God’s mission, not an end in herself.”
Hierdie perspektief plaas selfs die leraarstekort in ’n ander lig. Die vraag is nie net hoeveel predikante ons het nie, maar of ons bereid is om ons as instrumente in God se hand te laat gebruik.
Wanneer diensleraars kansel toe klim, jeuggroepe lei of gemeentes begelei, sien ons ’n klein maar kragtige teken van God se groter verhaal. Hulle word herinneringe dat die toekoms van die kerk nie deur getalle bepaal word nie, maar deur die getrouheid van God en die gehoorsaamheid van sy mense.
Ja, die kwantitatiewe werklikheid is ontnugterend: minder predikante, minder poste, meer druk op kleiner gemeentes. En ja, die kwalitatiewe uitdaging is groot: ons het leraars nodig wat met wysheid, vaardigheid en diepte kan lei in ’n komplekse tyd. Maar tussen hierdie twee spanninge ontdek ons dat God steeds sorg – soms deur onwaarskynlike instrumente.
Die uitdaging aan ons almal is om die tekort nie net as ’n gevaar te sien nie, maar as ’n uitnodiging. ’n Uitnodiging om anders te dink oor bediening, om meer aktief deel te neem aan vorming, en om met geloofsmoed te sê: “Ons het dalk nie alles wat ons gehad het nie, maar ons het steeds genoeg om die Here se roeping uit te leef.”
Diensleraars is die gesig van daardie hoop – stemme wat fluister (en soms uitskree): “Die kerk leef, God roep!” en “die toekoms is steeds helder.”
Ds Chris de Vries is tentmaker by NG Gemeente Heuwelsig, Bloemfontein:
Die klokke lui: bruilof of begrafnis: ’n Berig oor diensleraars in die NG Kerk
“Ongeveer 50% van persone wat gelegitimeer word in die NG Kerk is diensleraars.” So lei prof Cobus van Wyngaard, voorsitter van die Algemene Sinode Taakspan Navorsing, ’n gesprek in. Perspektief: In 2023 het 26 tradisionele dominees afgestudeer. Die ander groep van 29 was almal diensleraars. VYF-TIG-PER-SENT +. Hierdie vars statistiek wys dat die NG Kerk dit binne ’n tydperk van vyf jaar reggekry het om die getal beroepbare afgestudeerdes te verdubbel.
Dit lyk na ’n moontlike groeiende tendens. In 2024 is daar 47 individue gelegitimeer vir bediening in die NG Kerk. Sowat 30 van daardie gelegitimeerdes was diensleraars. Daar is verskeie redes vir hierdie skerp groeikurwe. Die oploop van verdere ontwikkeling en uitbreiding van die ampte in die NG Kerk kom al ’n lang pad.
Die kerk het drie ander bedieningsbane daargestel en nou is daar predikant/gemeenteleraar, diensleraar, bedienaar, standplaasleraar.
Ontmoet Hanneke Meyer (83)
“Hallo! Askies, ek het jou oproep gemis!” gesels tannie Hanneke Meyer toe sy my 22:37 Woensdagaand terugbel. Hierdie gesprek gebeur tydens Kerkbode se jaarlikse Slypskool vir Skrywers, vanjaar op 2–4 September 2025 te eMseni, Benoni.
Tannie Hanneke is ’n merkwaardige vrou. Sy het 35 jaar lank skoolgehou, en het tussendeur ook vyf jaar vir die CSV gewerk, omdat geestelike begeleiding van kinders vir haar ’n roeping is. Sy trou later in haar lewe. Sy en haar man ontvang twee pragtige kinders. Na slegs sewe jaar van getroude lewe sterf haar lewensmaat. Skielik. Tragies. Die lewe gebeur.
Na aftrede, op 68, skryf sy by die UV in vir ’n paar teologiese klasse.
“Toe ek by die eerste klas instap, het ek geweet ek wil die hele kursus doen. Ek het ’n verlange gehad …”
Na ses jaar, net soos die ander voltydse studente, maak tannie Hanneke klaar met haar volledige leraarskursus. Cum Laude. Langenhovenpark-gemeente bied haar ’n deeltydse nie-amptelike kontrak aan met opdrag Senior bediening: Pastorale Begeleiding en Ondersteuning. Sy kan as gevolg van kerkordereëls ongelukkig nie bevestig word nie (spesifiek aftree-ouderdom). Daarna trek sy Westerbloem toe, en is die helder klok van die evangelie daar vir vyf jaar.
“Ek het alles gedoen wat ’n dominee kon doen: Visitasies, prediking, Bybelstudies, alles!”
Oor die ongemaklikheid dat sy nie bevestig kan word nie, merk sy op: “Ek het dit nie vir die kerk gedoen nie; Ek het dit vir die Here gedoen.”
Tannie Hanneke lewe haar volste lewe. Sy ervaar hoe God haar gebruik. Sy is nou 83, en bedien steeds. Bedienaar. Haar storie en passie is mooi.
Hier is die groep in ’n neutedop:
- Die gemiddelde ouderdom van diensleraars is tussen 40 en 60 jaar.
- 48% van hierdie groep van 110 diensleraars staan in een of ander formele gemeentelike pos.
- Hulle is meestal jare al diensbaar in die kerk – betaald of onbetaald.
- Die gemiddelde aantal jare wat hierdie groep lidmate van die NG Kerk is, is 20 tot 27 jaar.
Tannie Hanneke & Kie is ongelooflik lojaal, wys en gehoorsaam. Hulle het meestal almal al die harde klippe van die lewe gekou. Hulle is kundig op ’n klomp ander lewensgebiede ook. ’n Videogreep van ’n diensleraar word vir ons gespeel. ’n boer-dominee. Hy getuig oor sy pad tot diensleraar. Riata Nel van Communitas, wat ook die slypskool meemaak, merk ná die tyd op: “Hy het lewenservaring. Ek sal eerder by hom gaan sit as by iemand wat nou net afgestudeer het.”
Iemand se selfoon lui – die deuntjie is helder luiende kerkklokke. Laat ’n mens nogal dink. Deur die eeue lui kerke hulle klokke tydens groot gebeurtenisse. ’n Troue. ’n Tragedie. Geboorte. Begrafnis. Paasfees. Jubelende klokke op Opstandingsondag. Nuwe dopelinge. Selfs in die 2de Wêreldoorlog as waarskuwing vir Duitse invalle in Brittanje. Deur die eeue lui die klokke by die aankondiging van nuwe leiers. Nuwe eras. Die klokke lui, en dit beteken iets groots is aan die gebeur. Iets is aan die verander.
Die statistieke is ’n kerkklok. En dit lui.
57% van hierdie 120 persone dui aan dat hulle ook nog betrokke is in bedieninge buite hulle eie gemeentes.
Dít lui vir my soos evangelie.
40% van hierdie groep mense sê dat hulle in hulle gemeente se diens wil bly. Boonop, dui nog 37% aan dat hulle daarvan sal hou om selfs in ander gemeentes beroep en gebruik te word. 78 van 92 mense dui aan dat hulle tot en met aftrede graag sal wil aanhou dien.
Ek hoor weer klokke. Dit lui en lui en lui.
Hoe sal jy jou roeping beskryf? So lui een van die vrae aan die diensleraars.
Die antwoorde kom klokhelder:
“Ek beleef my roeping as diensleraar as ’n diep innerlike dryfkrag om God te dien deur mense te dien – prakties, pastoraal en met liefde.”
“Ek is geroep om ’n brugbouer te wees wat mense oor grense saambring om hulle perspektief op die koninkryk te kan verdiep en verbreed.”
“Ek sien dit as ’n manier om in te skuif langs die gebrokene wat onvoorwaardelike liefde en aanvaarding nodig het.”
Roeping
“We need to speak to the churches that have been doing this for ages,” sê een van die kursusgangers. Ek besef: Dit is waar. Dit is die storie van die liggaam. In die kerk se geskiedenis is daar nog altyd mense wat die harde myle insit. Diegene wat die bedieninge dryf. Die bidders. Doeners. Dromers. Fighters. Verpleërs. Bouers. Sondagskooltannies. Koster-ooms. Hulle is die voorlopers van die diensleraars. Hulle dien.
God bou sy kerk nog altyd op en uit deur gewone mense. Mense wat die klokke van die evangelie laat beier. Dit is dalk hoekom 50% van gelegitimeerdes nou diensleraars is – Dit bevestig bloot ’n klomp geroepenes (wat jare lank al die klokke lui) se diens in en as die bruid van Jesus.
Ons as groep wonder: Hoekom die teenstand binne die sisteem wat gedien word deur hierdie groep mense?
Hoekom is ons bang vir hierdie verandering?
Dalk is die beier van die klokke vir ons te vinnig en te hard. Dit ruk ’n mens wakker uit ’n dowwe slaap.
Een ding is seker.
Die klokke lui.
Bruilof?
Of begrafnis?
Lees die volledige Kerkbode-artikel HIER.

