Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Hervormingsdag: ’n Verandering wat die wêreld geskud het

Deur Ethan Kleynhans, ’n eerstejaar-teologiestudent aan Kovsies

Hervormingsdag herinner ons aan ’n gebeurtenis wat ’n groot invloed gehad het op die verstaan van kerkwees, geloof en verlossing in die Christendom sedert die 16de eeu. Op 31 Oktober 1517 het Martin Luther sy 95 stellinge in reaksie op die leerstellings en praktyke van die Roomse Kerk aan die kerkdeur van Wittenberg vasgespyker. Hierdie daad het ’n simbool geword van die Protestantse Hervorming, aangesien dit die gebruike en leerstellings van die destydse Roomse Kerk direk uitgedaag het. Die stellinge het kritiek gelewer op kwessies soos die verkoop van aflate, en die kerk is opgeroep tot selfondersoek.

“Die regverdige sal uit geloof lewe.” – Romeine 1:17

Hierdie vers het Luther geïnspireer om terug te keer na die kern van die evangelie en die waarheid van verlossing deur geloof alleen (Sola Fide) te verkondig.

In die vroeë 1500’s was die kerk en samelewing in Wes-Europa in baie opsigte problematies en gereed vir verandering. Die Roomse Kerk, die dominante godsdienstige instelling, het groot invloed oor mense se geloof, kultuur en selfs politieke strukture uitgeoefen. Korrupsie was volop, en die verkoop van aflate het die idee versterk dat verlossing gekoop kon word. Gewone lidmate het selde toegang tot die Bybel gehad. Luther en ander Hervormers het geprotesteer teen ’n stelsel wat die Skrif en ware geloof opsy geskuif het ten gunste van mag en Mammon.

“My gewete is gebonde aan die Woord van God. Hier staan ek; ek kan nie anders nie.” – Martin Luther

Hierdie woorde herinner ons aan die belangrikheid van die Skrif se gesag bo menslike leer en tradisies. Die Hervorming het Sola Scriptura (die Skrif alleen) beklemtoon as die hoogste gesag in geloof en lewe.

Martin Luther, ‘n Duitse monnik en professor in teologie, het die gevestigde leer van die Roomse Kerk uitgedaag. Sy leerstellings van Sola Scriptura (Skrif alleen), Sola Fide (geloof alleen) en Sola Gratia (genade alleen) het die grondslag van Protestantse teologie gevorm en die geloofslewe herfokus op die kernbeginsels van die evangelie en ’n persoonlike verhouding met God. Luther het ook die Bybel in Duits vertaal, wat die Skrif meer toeganklik gemaak het vir sy medeburgers.

“Al die Here se woorde is waar.” – Psalm 119:160

Die Hervormers het herontdek dat elke gelowige persoonlike toegang tot God het deur die Bybel, wat ’n vaste grondslag vir geloof en lewe bied.

Die Protestantse Hervorming het ’n diepgaande en langdurige invloed op die Christendom en die Westerse samelewing gehad, wat tot vandag toe merkbaar is. Luther se leerstellings en die boodskap van die Hervormers het nie net teologiese veranderinge meegebring nie, maar ook sosiale en kulturele impakte gehad. Dit het mense se denke oor hulle verhouding met God verander en direkte toegang tot God beklemtoon, sonder ’n tussenganger.

“Ons glo dat ons deur die genade van die Here Jesus gered word, net soos hulle.” – Handelinge 15:11

Hierdie vers bevestig die kern van Luther se lering oor genade. Vir Luther was verlossing ’n gawe van God, nie iets wat verdien kan word nie – ’n boodskap wat die fondament van die Protestantse geloof geword het.

Die Hervorming het tot vandag toe relevansie deurdat dit die gesag van die Bybel beklemtoon en elke gelowige aanmoedig tot ’n persoonlike verhouding met God, gebaseer op geloof en genade alleen. Hierdie beweging het ook die weg gebaan vir geloofsvryheid en ’n etiek van diens aan ander – waardes wat steeds sentraal staan in geloofsgemeenskappe wêreldwyd. Dit herinner ons om voortdurend terug te keer na die kern van ons geloof en om nie vas te hou aan menslike leerstellings of tradisies wat nie in die Skrif gewortel is nie.

“Daar kom ’n tyd, sê die Here, dat Ek met Israel en met Juda ’n nuwe verbond sal sluit.” – Jeremia 31:31

Die Hervormers het geglo dat hulle deel was van God se werk om Sy kerk te vernuwe en nader aan die waarheid van die evangelie te bring.

Hervormingsdag is ’n dag van vernuwing; ’n oproep tot selfondersoek, opregte geloof en ’n lewe wat getuig van Christus se genade. Elke Christen kan ’n Hervormer wees uit eie reg. Ons is geroep om ligdraers en waarheidsoekers te wees en altyd daarop te let dat die kerk en ons eie lewens in lyn is met God se Woord.

Vier Hervormingsdag deur introspeksie, geloofshernuwing en diens aan ander. Mag ons herinner word aan die woorde van Luther en die Hervormers wat ons lei om te wandel in die lig van God se waarheid en genade.

Friedrich III (1463-1525), the Wise

Erasmus of Rotterdam

Chancellor Leonhard von Eck

116 | Maatskaplike NOODLYN