Deur dr Elrika Senekal-van der Berg,
spanleier by Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika
Die boek van Spreuke leer ons om te luister na die woorde van ons moeders.
My ma is een van my eerste herinneringe. Ma’s is wonderlike goed: sondige mense net soos elkeen van ons, vol uitdagings wat hulle bied natuurlik, maar versterk deur die hand van God self, is hulle nogal bereid om hulself te brand op die altaar van die gesin ter wille van die beswil van die groter doel. Ek weet, want ek is vandag self ‘n Ma met my eie gebreke en sondes. Maar terug by my ma. Een van my eerste herinneringe is van my wat nie wil pap eet nie. Nou moet ek omgekoop word op allerhande maniere. (Ja, Ma’s is meesters in afpersing, omkoop, en onderhandeling op emosioneel- manipulatiewe maniere, net ingeval jy nie weet nie …!). Goed, die jonge Elrika besluit sy wil blou pap hê. En my ma kleur my pap potblou met versierselkleursel. Natuurlik, soos ‘n kind is, wil ek die blou pap net so min eet soos die wit pap … inderdaad, een van my vroegste herinneringe. Ek is nog nie eens vyf nie.
Daar volg ander herinneringe verweef met twee lewens: hare en myne. My eie perspektief staan uit as ek terugkyk, maar met die jare saam kom die insig van die prentjie van haar kant af. My ma het vir ons gesin ekstra geld verdien deur ure en ure voor die breimasjien te sit en daardie toestel heen en weer te stoot terwyl rye gebreide wol onder uitkom. Vandag is haar nekwerwels opgepak, en sy moes al meer as een nekfusie kry. Hoe sê mens dankie? Hoe betaal jy terug?
Ek is ‘n skoolkind en ek is soms hanglip omdat ons nie die nuutste winkel-gekoopte klere kan kry nie en self moet maak. Ek trou en sy sit ure lank met haar hande my trourok se kraletjies en afbreek en weer terugwerk op die regte plekke. Ek lyk soos Audrey Hepburn en besef niemand sou dit ooit kon doen soos sy nie. Ek verjaar en sy bak my wortelkoek spesiaal net soos ek soek.
Haar hare word dunner. Haar lyfie word korter. Sy verloor gewig. Kry die knie-operasie. Vandag klim sy in die passasierstoel in die kar sonder stryery – ék moet bestuur en besluit waarheen ons gaan.
My skoonma is net so formidabel. Daardie artritishande staan vandag nog reg om te dien, al is die vingers soms stokstyf. Sy stuur soggens en saans boodskappies wat niemand lees nie want almal hol net aan met die dag … Ek hoor haar hardop prewel wanneer sy bid en vir ons elkeen smeek voor die Troon. Hoe betaal ek die gewig in haar siel terug? Die las wat sy vir elkeen van ons dra?
Weet jy dat ons op die skouers van reuse grootgeword het? Is jou ma ook so? My ma was ontsettend arm, een van vyf dogters van ‘n sukkelboer – eintlik maar ‘n bywoner. Stories van ellende en emosionele afskeping en ontsaglike tekort – hoe kan ek haar kompenseer? Hoe maak ek die verbrokkelende bene van die oudag sterker?
Dan lig ek my kop en besluit ferm: ons sal stap met breë tree, en ons sal die toekoms vreesloos tegemoetgaan. Die krag van die vroue van ons voorgeslagte stu ons aan: hulle staan langs die kant en moedig ons aan. Ons SAL hul resepte leer en oordra; ek SAL leer hekel ek belowe; daardie hande wat my op 7 voor die naaimasjien neergeplak het, SAL vereer word in my laaste asem.
Die erfenis van my voorgeslagte bruis ook in my DNA. Wees trots op jou ma. En jou skoonma. En jou ma se ma. Hoor die stories terwyl daar tyd is. Gaan val in by haar en sit sommer en gesels oor nonsens terwyl sy kosmaak. Selle ou resepte van kleinsdae af. Jy ken hulle so goed. Jy weet hoe ruik die soetpampoen wat sy maak. Jy ken haar boontjies tot in jou beenmurg.
Gaan druk haar vas en maak vir haar ‘n koppie koffie. Eet haar op met jou oë. En dank jou Vader vir die groot groot geskenk van lewens wat geleef is tot jou beswil en met jou beste in gedagte.

