Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

’n Geselsie met die Bruid vanaf haar jonger sussie

Deur dr Elrika Senekal-Van der Berg, Spanleier vir

Verhoudings vir die Sentrale Streek by die Bybelgenootskap van Suid-Afrika

Die Bybelgenootskap het sopas die voorreg beleef om die afgelope Sinode by te woon in Bothaville, en tydens hierdie geleentheid het ek spesifiek genoem dat die prentjie in my kop een is van die Bruid (kerk) wat aantrek vir die bruilof, terwyl haar jonger sussie (Bybelgenootskap) haar help.

In die prentjie wat Meta my sommer help maak het, is kleinsus besig om die bruid se sluier aan te gee. ’n Jonger sussie kan haar ousus met baie goed help en baie ondersteuning bied, maar sy kan nie na haarself omsien nie — die ouer suster moet vir haar sorg. Dit is maar hoe die prentjie in my kop leef en hoe ek mense probeer handvatsels gee vir wat ons as Bybelgenootskap kommunikeer.

Ons verkoopsverteenwoordiger Stella Moletsane het die hele Sinode op haar pos gestaan en ek wil graag haar terugvoer teenoor elkeen verwoord.  As Sotho-meisie uit Qwa-Qwa was haar belewenis en terugvoer vir my besonder kosbaar. Stella se Sotho-naam beteken “skoenlapper”, en baie Sinodegangers het haar sommer op die naam Skoenlapper/Butterfly begin aanspreek.  

Dit was vir haar heerlik. Sy het gekommunikeer dat sy TUIS gevoel het, asof sy tussen haar eie mense is. Nie sy óf ekself het op enige stadium soos buitestaanders gevoel nie en haar ervaring was dat sy nie net hartlik hanteer was nie, maar met warmte ingetrek was in verhoudings met die warm mense van die NG Kerk Vrystaat.

Die liturgiese geleenthede het haar diep geraak, en sy het ’n dag later teenoor my erken dat die sinodelied aanhoudend in haar kop maal. Wat my veral diep geraak het, was haar woorde: Ek was hartseer om te moet vertrek.

NG Kerk Vrystaat: dankie dat julle jul kleinsus liefhet, omarm en versorg. Dit was ’n diep roerende belewenis om saam met die Bruid te dink, leef en beleef in Bothaville …

 | Foto: Bruid en kleinsus (Meta).