Deur Ethan Kleynhans, ’n eerstejaar-teologiestudent aan Kovsies
Kopanong, voorheen bekend as Kovsiekerk, het diep verbintenisse met huidige en voormalige studente, asook met die breër gemeenskap van die Vrystaat. Die Kovsie-gemeente het oor baie dekades ’n waardevolle rol gespeel binne die studentegemeenskap sedert die kerkgebou in 1984 opgerig is. Dit was ’n plek waar studente van vreemdelinge tot kennisse en later vriende kon groei. Ds De Vries sê: “Die Sotho-woord waaruit Kopanong haar naam kry, wat beteken ‘plek en aksie van bymekaarkom’, beskryf die bediening goed. Dit het ’n ruimte geskep waar studente kon saamkom om aktief ons Here te aanbid.”
Die gemeente het oor die jare baie vorms aangeneem. Wat kan ons leer uit die veranderinge wat die gemeente deurgemaak het?
Die studentegemeente se ontwikkelingsjare het begin as ‘n wyk van die Bloemfontein-Wes-gemeente en het later verder ontwikkel as deel van die NG Gemeente Universitas, nou Geloofsentrum. In die vroeë 1980’s het dit uiteindelik ‘n onafhanklike gemeente geword en ‘n standvastige plek vir studente geskep om eer aan die Here te bring op kampus. Oor verskeie geslagte heen het die gemeente ’n groot rol gespeel in die geloofsreis van jongmense op kampus. Deur eredienste, geleenthede vir studente om op kerkrade te dien, en uitreike wat op die opbou van die gemeenskap gemik was, is alles tot eer van die Here gedoen.
Oor die afgelope paar jaar het groot veranderinge plaasgevind. Dit sluit die naamsverandering van Kovsiekerk na die Studentegemeente na Kopanong Kerk in, asook die vinnige veranderinge in die koshuise, wat ‘n groot invloed op die lidmate van die gemeente gehad het en waarby die kerk nie kon byhou nie. Daar was ook veranderinge in missie, finansiële bestuur, en die impak van die 2020-grendeltydperk. Hierdie faktore het gelei tot die skuif na gesamentlike eredienste, die verkoop van die kerkgebou, en veranderinge in bedieningsmodelle. Die drastiese veranderinge het gemeentelede met letsels gelaat, aangesien die mat figuurlik onder hulle uitgeruk is en die gemeente se identiteit verander het van ‘n hoofsaaklik Afrikaanse na ‘n oorwegend Engelssprekende kerk. Die gemeente het met ‘n identiteitskrisis agtergebly.
Daar is baie lesse te leer uit die keuses en veranderinge van die verlede. Hierdie ervarings kan dien as ’n katalisator vir refleksie en heropbou. Die besluite wat deur die bestuur geneem is, bied waardevolle wysheid en insig vir dié wat wil leer. Was die lening wat by die NG Kerk Vrystaat aangegaan is om die opknapping van die kerkgebou se ouditorium moontlik te maak, werklik nodig? Hierdie lening het nie tot finansiële sekerheid en stabiliteit gelei nie, maar eerder tot die verkoop van die kerkgebou aan die Universiteit van die Vrystaat vir minder as die verwagte prys. Het die geforseerde multikulturele eredienste, wat baie gemeentelede vervreem het, ‘n invloed gehad? Het die afname in predikante van drie na een binne ’n tydperk van drie jaar ’n impak gemaak? Die verlede, al was dit moeilik, kan steeds ’n waardevolle leermeester wees.
Waar is die gemeente tans? Eerstens is Kopanong nie meer ’n regstreekse gemeente nie, maar ’n bediening binne sinodale verband, onder die vaandel van Vennote in Getuienis. Dit is nie meer ’n gemeente in die tradisionele sin van die woord nie, maar ’n bediening met ’n multikulturele, interkulturele, gereformeerde en missionale roeping. Hierdie bediening glo dat die kerk nie eerstens ’n taal- of kultuurorganisasie moet wees nie, maar ’n plek om God te dien. Die element van aanbidding tot eer van God het oor die dekades oorleef, al het dit op verskillende maniere gemanifesteer. Kopanong staar steeds baie uitdagings in die gesig, maar daar is lede wat optimisties is en groot potensiaal sien.
Sedert die verkoop van die kerkgebou en die eredienste wat nou in die konsistorie met toestemming van die Universiteit van die Vrystaat gehou word, het die bediening aansienlik gegroei in terme van lidmate, organisasie, gemeenskap en doeltreffendheid. In 2025 gaan die bediening weer ’n nuwe bestuur aanstel, maar die nuwe predikant is geliefd, en die gemeentelede is baie opgewonde oor wat voorlê. Hulle bly getrou aan God, en Hy is steeds genadig.
Kopanong se verhaal is een van voortdurende verandering, maar ook van volgehoue genade en potensiaal. Die uitdagings wat die gemeente die afgelope jare in die gesig gestaar het, mag groot wees, maar dit bied ook ’n geleentheid vir nuwe groei en vernuwing. Nou, meer as ooit, is dit die tyd vir elkeen wat betrokke was of steeds is, om deel te wees van hierdie hernuwingsproses. Jou deelname kan ’n verskil maak – hetsy dit deur gebed, betrokkenheid by aktiwiteite, of deur jou unieke gawes en talente is.
Die toekoms van hierdie bediening is in die hande van God, maar ook in die hande van elkeen wat bereid is om ‘n bydrae te maak. Dit is ’n tyd van hoop, en elke stap vorentoe kan ‘n stap wees wat die gemeente nader aan haar roeping bring: om ‘n plek van aanbidding, gemeenskap en getuienis te wees waar God verheerlik word. Kom ons bou saam aan ‘n toekoms vol belofte en geloof.
| verskaf