Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Moslems se siening van God

Islam is ‘n mono-teïstiese godsdsiens. Hulle glo dus dat daar net een god is, wat hulle Allah noem. Hoewel Moslems dit betwis, is die naam afgelei van die afgod El wat deur die inwoners van Mekka aanbid is. Allah is al as ‘n animistiese god aanbid deur die Arabiere voor die tyd wat Islam aan hulle bekendgestel is. Mohammed se pa se naam was byvoorbeeld Abdallah, wat dienaar van god beteken. Allah beteken dan ook bloot “god” in Arabies en selfs Arabiese Christene sal na God as Allah verwys.

Geloof in een god, is dan ook die belangrikste konsep in Islam. Hierdie kernpilaar van die Islamitiese geloof stel dit duidelik dat daar niks behalwe Allah is wat aanbid mag word nie. Moslems glo in een god wat die heelal geskep het en mag het oor alles daarin. Hy is verhewe bo alles wat hy skep, en niks in sy skepping kan met sy grootheid vergelyk word nie.

Sy naam bevestig ook dat hy een enkele God is sonder vennote of gelyke. Die naam Allah kan nie meervoudig gebruik word of beperk word tot ‘n spesifieke geslag nie. Hy is, volgens die siening van Moslems, uniek in alle opsigte. Hierdie siening van Allah (sy uniekheid en enigheid), bring mee dat dit uiters moeilik is om die saak van die Drie–Eenheid aan hulle te verduidelik – trouens, dit is selfs vir hulle lasterlik om so oor Allah te praat.

Hoewel Allah die generiese naam van god vir Moslems is, glo hulle dat Allah nege-en-negentig name het. Die name kom uit die Koran en is beskrywend van sy aard. Dit sluit name in soos Genadige, Onderhouer, Koning, Heilige, Skepper, Voorsiener, ens. Daar is selfs name wat mekaar weerspreek, byvoorbeeld die Geopenbaarde teenoor die Versteekte, die Voorsiener teenoor die Weerhouer, die Gids teenoor die Een wat jou laat verdwaal.

Daar is ‘n legende wat vertel dat Allah eintlik ‘n honderd name het. Net Mohammed het egter geweet wat die honderdste naam van Allah is. Die mense van Mekka het toe Mohammed se vrou aangepor om die ontbrekende naam van Allah uit Mohammed te trek. Sy het daarin geslaag en het toe hierdie naam op ‘n blaar neergeskryf en in haar kussingsloop weggesteek. Die kussings is in daardie tyd van strooi gemaak. ‘n Kameel het die kussing as sy volgende maaltyd aangesien en die kussing, met honderdste naam en al, opgevreet. So was dit dan, volgens die legende, steeds net Mohammed wat hierdie naam geken het.

Daar is natuurlik baie meer om te sê oor die aard en natuur van Allah, maar vir die oomblik is dit al waarby ons kan stilstaan.

116 | Maatskaplike NOODLYN