Deur dr Enrico Casaleggio, Vennote in Getuienis
Soos die vorige artikel is hierdie ook nie een wat heeltemal inpas by ons reeks wat apologetiese gesprekke met Moslems betref nie. Indonesië is egter uiters belangrik vir Christene se gesprek met Moslems, aangesien dit die tuiste van meer Moslems in die wêreld is as enige ander land. Dit is ook die land waar meer Moslems hulle tot die Christendom bekeer as enige ander land, naamlik twee miljoen per jaar. Hoewel ons vanuit die Gereformeerde tradisie geen verbintenis met die Pous het nie, het sy onlangse besoek aan Indonesië weer ons aandag op hierdie besondere land gevestig.
Die gesaghebbende Pew Research Centre het uit die pen van K. Caileigh Stirling op 28 Maart 2024 ’n artikel[1] gepubliseer wat fokus op die verhoudings tussen Moslems en Christene in Indonesië. ’n Paar belangrike sake wat in daardie artikel duidelik word, is onder andere die volgende:
- Indonesië se bevolking is ongeveer 87% Moslem en 11% Christene. Ongeveer 242 miljoen Moslems en 29 miljoen Christene woon in Indonesië. Die oorblywende Indonesiërs identifiseer meestal as Hindoes, Boeddhiste of Confucianisties.
- Indonesië se Christene vorm die meerderheid in baie van die land se mins bevolkte provinsies. Terwyl Christene ’n relatief klein deel van Indonesië se bevolking uitmaak, vorm hulle per capita ’n groter persentasie van verkose amptenare. Sowat 15% van die lede van die Huis van Verteenwoordigers is Christene.
- Moslems en Christene in Indonesië verskil oor Islam se belangrikheid vir Indonesiese identiteit. ’n Oorweldigende meerderheid Moslems (86%) sê dit is baie belangrik om Moslem te wees om werklik Indonesies te wees. Daarteenoor sê 21% van Christene dat om Moslem te wees, die sleutel is om werklik Indonesies te wees. Byna twee derdes (64%) van Moslems is ook voorstanders van die instelling van sharia as die amptelike wet van die land.
- Beide Moslems en Christene is meer geneig om godsdienstige diversiteit as voordelig eerder as skadelik te beskou. Baie min lede van enige godsdiensgroep (6% elk) sê dat ’n mengsel van verskillende godsdienste en kulture Indonesië ’n slegter plek maak om in te woon. Christene is egter meer geneig as Moslems om te voel dat diversiteit die land ’n beter plek maak (67% vs. 49%). Net so sê ’n oorweldigende meerderheid Christene (84%) hulle sal bereid wees om Hindoes as bure te aanvaar, vergeleke met twee derdes van Moslems.
- Indonesiërs van beide godsdienste verkies oorweldigend ’n demokratiese regeringsvorm. Onder beide Moslems en Christene verkies 85% ’n demokratiese regeringsvorm. En die meerderheid Moslems (76%) en Christene (71%) glo ook dat mense die regering in die openbaar moet kan kritiseer as hulle nie saamstem met sy optrede nie.
- Indonesië staan amptelik vryheid van godsdiens voor – maar reguleer dit ook streng. Die land se grondwet waarborg Indonesiërs die reg om hul eie godsdiens te kies en die vryheid om te aanbid volgens hul eie oortuigings. Terselfdertyd bevorder die grondwet en die staatsfilosofie van “Pancasila” geloof “in die Enigste God”. Elke Indonesiese volwassene moet ’n godsdiens op hul nasionale identiteitskaart lys. “Geen godsdiens” is nie ’n beskikbare opsie nie. Indonesiërs wat die veld leeg laat of wat ’n ander godsdiens kies as die ses wat in Indonesië se Godslasteringswet genoem word (Moslem, Protestants, Katoliek, Boeddhisties, Hindoe of Confucianisties) kan probleme ondervind om toegang tot regering en finansiële dienste te kry.
Hierdie reeks Islam-artikels het ’n eiesoortige aanslag. Dit kom uit ’n apologetiese hoek en die reeks sal uiteindelik uitkom by ’n antwoord op verskillende vrae wat Moslems vra, byvoorbeeld oor die Godheid van Jesus. Hierdie artikel is ietwat anders as die reeks se artikels tot dusver en sluit aan by die Pous se besoek aan Indonesië.
Kontak dr Enrico Casaleggio vir meer inligting by enrico.casaleggio@absamail.co.za