Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Die verskil tussen die God van die Bybel en Allah | Nr 2

Deur dr Enrico Casaleggio, Islam Getuienisaksie

Die karakter van God, soos deur die Bybel geteken, is dat God nie net liefhet nie, maar dat Hy in Sy wese liefde is. In 1 Johannes 4:8 lees ons byvoorbeeld hierdie baie bekende woorde: “God is liefde”. Nie net dat Hy liefhet nie — liefde is sy essensie. In 1 Johannes 4:16 word dit selfs herhaal, as ons daar lees: “En ons ken die liefde wat God vir ons het, en ons glo daarin. God is liefde; wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom.

Pragtige woorde wat vir ons sê dat liefde nie net iets is wat God doen nie, maar dit is hoe Sy wese is. Jy kan nie van God praat of aan Hom dink, sonder dat liefde ter sprake is nie. Die God van die Bybel is in essensie liefde. God se natuur is liefde. Dit onderstreep dat Hy onvergelykbaar is. Geen ander (af)god kan met Hom vergelyk word nie. Die eksegeet Marshall[1] sê in kommentaar hierop: “… this statement is simply the clearest expression of a doctrine of the nature of God that is attested throughout its pages. Equally it would show that outside the pages of Scripture there is no comparable picture of God.

  • God wil in ’n verhouding met Sy kinders leef. Hy is die Verbondsgod. Dit beteken Hy verbind Hom aan ons. In Sy liefde gee Hy Homself vir ons. In Sy liefde word Hy vlees en kom woon onder ons. In Sy liefde sterf Hy vir Sy vyande. Romeine 5:7-9 onderstreep dit as daar staan:

“’n Mens gee tog nie sommer jou lewe prys nie, selfs nie vir ’n regverdige nie. Ja tog, vir ’n goeie mens sal iemand miskien nog die moed hê om te sterwe. Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. Aangesien ons nou vrygespreek is op grond van sy versoeningsdood, staan dit soveel vaster dat ons deur Hom ook van die straf van God gered sal word.

Die kruis is die hoogtepunt van God se karakter. Dit demonstreer Sy selfopofferende liefde vir sondaars.

Die Koraniese karakter van god is dat Allah beskryf word as: barmhartig, genadig, heersend en almagtig. Maar in Islam is Allah se liefde voorwaardelik: Hy het dié lief wat reg doen. Hy het nie dié lief wat verkeerd doen nie.

Voorbeelde daarvan vind ons in Surah 3:31 waar daar staan dat Allah dié liefhet wat Hom gehoorsaam, en Surah 3:32 wat sê Allah het nie dié lief wat ongehoorsaam is nie.

Allah se karakter word primêr saamgevat in beskrywings soos majesteit, heerskappy, transendensie (afstand) en  onbereikbaarheid.

Daar is wat Allah betref geen inkarnasie (menswording), geen kruis, geen selfopofferende liefde vir vyande nie. Die God van die Bybel is ’n God wat Homself gee. Die god van die Koran is ’n heersende God, wat homself op ’n afstand hou.

Kontak dr Enrico Casaleggio vir meer inligting by enrico.casaleggio@absamail.co.za

[1] Marshall, I.H. 1978. The New International Commentary on the New Testament. The Epistles of John. Wm. B Eerdmans Publishing Co: Grand Rapids Michigan.

’n Reeks Islam-artikels. Hierdie artikel handel hoofsaaklik oor die verskil tussen die God van die Bybel en Allah: Die karakter van God: Liefde as wese teenoor liefde as daad.