Deur Mariëtte Odendaal
Op Sondag 11 Mei vier ons Moedersdag, die dag waarop jy kan stilstaan en net weer aan jou ma kan hulde bring of, as jy nog so bevoorreg is, haar kan nooi vir ete, blomme kan stuur of sommer net bel en dankie sê vir dit wat sy in jou lewe beteken het.
Hulle sê dat daar dikwels in oorloë gehoor word hoe soldate wat in doodsangs verkeer of sterwend is, instinktief na hul ma roep. Ek onthou ook dat toe ek ’n kind was en ek van ’n nagmerrie sou wakkerskrik, ek instinktief na my ma sou roep – dit sou egter my pa wees wat die gang afloop en kom troos; Ma was te uitgeput van die dag se boervrouwerk en ma-wees van vier kinders in ses jaar se tyd.
Vandag is ek al 66 en my ma byna 91, maar steeds sal ek haar eerste bel as ek goeie nuus het om te vertel of iets hartseers wil deel. Sy is, soos Antjie Krog se ma, my “moesie-oor”. En sy hou jou woorde in haar hart. Jy weet dis veilig daar by haar.
Die ma’s en oumas in ons lewens is meestal die mense wat die ruimtes waarin ons grootword ’n beter plek help maak. Die filosoof Marthinus Versveld het geskryf dat die stoof in ’n huis soos ’n altaar is. Dis die plek waar jou ma haar liefde aan haar gesin van dag tot dag offer. Ek onthou die lekker boerekos op ons geelhouttafel in die gesellige kombuis waarheen menige boerdery-agent smiddae genooi is om saam met ons te eet. Jy kon haar liefde vir kosmaak, én vir ons, proe. Vandag is ons ma in ’n aftree-oord, maar as sy hier kuier, is my grootste bederf aan haar ’n lekker bord kos. Haar kort treetjies raak sommer langer as sy uitgenooi word om te kom aansit by ons tafel!
Dis ook jou ma wat vir jou as carte blanche-mensie wat nog niks van die lewe weet nie, basiese maniere leer – die grootste geskenk ooit. Ek kry altyd kinders jammer wat nie weet jy moet “dankie”, “asseblief” en “ekskuus” sê nie. Dis alles aangeleerde gedrag wat duisende kere deur ons ma herhaal moes word sodat ons as kinders geweet het dis hoe jy ordentlik mens moet wees.
Dit was veral belangrik om, as iemand vra hoe dit met jou gaan, nadat jy geantwoord het, ook terug te vra hoe dit met daardie persoon gaan. Dit klink mos nou baie onbenullig, maar dis hoe ’n kind aan moedersknie met selfvertroue leer sosialiseer; iets waarby jou kind lewenslank sal baat.
Ek onthou ook nou nog, as ons op pad na die busstop langs die plaaspad was, my ma agterna sou roep: “Onthou om aandag te gee aan die kindertjies wat eenkant staan en verstoot word deur die klas!”
Dis ook ons ma wat vir ons geleer het dat die wêreld baie groter is as die plek waar jy grootword; daar is derduisende horisonne om te gaan verken. Pa sou op ’n aand tydens ’n winter-skoolvakansie sê: “Raait Vrou, ons ry more-oggend Suidwes toe!” Dan weet jy, more-oggend sal Ma al ons koffers en piekniekmandjie gepak hê. Ons sal Namakwaland toe ry om by my ouma op die plaas te gaan slaap en die volgende oggend, donkermôre, lank voor die son uitkom, sal ons al op die Knersvlakte trek met die wit Chevrolet se neus noorde toe. Sy was altyd entoesiasties oor enige nuwe horison – vreemde plekke was nuwe opwinding en vreemde mense was vriende wat jy nog net nie ken nie.
Vandag vier ons Moedersdag; ons vier Die Lewe wat ons van God deur haar ontvang het. Saam met Antjie Krog bring ons hulde aan ons ma’s, ouma’s en alle voormoeders.
Ma
Ma, ek skryf vir jou ʼn gedig
Sonder fênsie leestekens
Sonder woorde wat rym
Sonder bywoorde
Net sommer
ʼn kaalvoet gedig –
want jy maak my groot
in jou krom klein handjies
jy beitel my met jou swart oë
en spits woorde
jy draai jou leiklipkop
jy lag en breek my tente op
maar jy offer my elke aand
vir jou Here God
jou moesie-oor my enigste telefoon
jou huis my enigste bybel
jou naam bly breekwater teen die lewe
ek is so jammer mamma
dat ek nie is
wat ek graag vir jou wil wees nie.
Antjie Krog
