Deur Stéphan van der Watt
Rampverligting as deel van God se sending
Binne enkele sekondes kan ontelbare mense se lewens onherroeplik verander. Natuurrampverligting in Japan is daarom nie bloot humanitêre werk nie, maar deel van God se sending in ’n brose wêreld – ’n bediening wat lewende hoop herstel en deure oopmaak vir verantwoordelike evangeliegetuienis.
Baie kerkleiers in Japan is deur rampreaksie gevorm. In tye van krisis leer hulle veerkragtigheid, samewerking en Christusgesinde deernis. Dit was ’n voorreg om die afgelope twee dae in Tokio deel te neem aan gesprekke oor hierdie temas, aangebied deur die Japan Evangelical Missionary Association.
Terwyl sendingleiers van regoor die wêreld saamgedink het, was daar ’n groeiende bewussyn en gereedheid vir hernude, gesamentlike impak in diens van gemeenskappe wat deur natuurrampe geraak word.
Een van die foto’s sluit in dr Norimichi Yokota, direkteur van die Kyushu Christian Disaster Relief Center, wat met groot passie en nugtere wysheid twee aanbiedings oor hierdie onderwerp gelei het.
Ook hierin bly ons oortuig: die Here is aan die werk – selfs midde-in gebrokenheid – en Hy roep sy kerk om saam te dien.
Dr Stéphan van der Watt, Missie Japan
Ons laaste erediens en liefdesmaal in Niihama
Sondag 15 Februarie 2026 het ’n besondere en emosionele mylpaal in ons lewe en bediening gemerk: die afsluiting van nog ’n tydperk, ons laaste erediens en liefdesmaal in Niihama – ’n afskeid wat diep geraak het. Dit was emosioneel dreinerend, maar terselfdertyd vol vreugde.
’n Hoogtepunt van die dag was die doop van Masatomi-san, ná meer as ’n jaar van weeklikse Bybelstudie op Donderdagmiddae en sy getroue, onafgebroke erediensbywoning elke Sondag. Die Here se werk in sy lewe bly ’n bron van dankbaarheid en verwondering.
Nog ’n besondere vreugde was dat twee vroue uit Annalie se Engels-klas vir die eerste keer in hul lewe ’n erediens bygewoon het. In ’n land soos Japan is dit altyd betekenisvol wanneer iemand die eerste tree oor ’n kerkdrempel gee. Selfs al kom hulle nie weer binne afsienbare tyd nie, is die ys gebreek en ’n saadjie gesaai. Dat hulle die doop en Masatomi-san se geloofsgetuienis kon beleef, was op sigself ’n kragtige evangeliese boodskap – selfs sterker as enige preek.
Daar was egter ook seer oor die afskeid van Niihama en van mense wat diep in ons harte ingekruip het. Groot bekommernis leef steeds oor die geestelike en pastorale versorging van die gemeente sonder ’n inwonende leraar, en veral oor die begeleiding en dissipelskap van die drie dopelinge wat die Here die afgelope drie jaar aan ons sorg toevertrou het. Soms het dit gevoel asof ons hulle in die steek laat – ’n gedagte wat die afskeid swaar gemaak het.
En tog hoor ons die Here die afgelope tyd duidelik: Moenie agtertoe kyk nie. ’n Nuwe seisoen met nuwe uitdagings, geleenthede en verantwoordelikhede lê in Tokushima voor vir die volgende drie jaar, soos die Here wil. Ons voel eerlikwaar onwaardig, onbekwaam en selfs beangs oor die verwagtinge uit verskillende oorde. Terselfdertyd is daar diepe dankbaarheid vir nóg ’n bonusjaar of drie van God se genade – om op hierdie ouderdom (Tobie word vanjaar tagtig) steeds in hierdie land en binne die RCJ-kerk ons Kerk se sendingroeping in diens van Missie Japan en die Kerk in Suid-Afrika te mag uitleef.
Die verhuising het reeds die vorige week plaasgevind. ’n Spesiale besoek aan Tokushima is gebring om die nuwe woning in te rig en registrasies by die stadskantoor af te handel – laasgenoemde het byna ’n halwe dag geneem. Intussen is die tasse gepak, want Vrydag vertrek ons, soos die Here wil, per vliegtuig na ons vaderland om ná drie jaar weer familie en vriende te sien.
Met danksegging en seëngroete kyk ons vorentoe.
Ds Tobie de Wet, Missie Japan
| Foto’s is deur dr Stéphan van der Watt, Missie Japan, verskaf.

