Deur Maryna van Wyk, vryskutjoernalis en kopieskrywer
Dit is Vrouedag 2025 en skuins voor sewe by die Menuha retreat-sentrum buite Bloemfontein. Die oggendlig vorm reeds ’n kleur-collage wat oor die Vrystaatse vlaktes deurbreek. Dit, terwyl 17 vroue van verskeie NG-gemeentes in die provinsie afsonderlik besig is om in stilte die dag in God se teenwoordigheid te begin.
Aan die stuur van die vrouenaweek, aangebied deur die NG Kerk Vrystaat se Vrouebediening, is Magdaleen du Toit, ’n oud-Vrystater en voormalige sameroeper van die Spiritualiteit-netwerk van die NG Kerk Vrystaat. Die tema van die naweek-retreat was “Wees stil en weet …” – Psalm 46:11.
‘Wees stil’ is gelaaide woorde, sê Magdaleen tydens Vrydagaand se eerste sessie terwyl sy die vroue lei om stilwordtegnieke aan te leer. Sy sê die stilte van die naweek-sessies het ten doel om die vroue te help om nader aan die Here te beweeg en om Hom in stilte in die natuur op te soek. Bid en vra: “Here maak my leeg van myself sodat ek met U gevul kan word.”
Magdaleen het die vroue geleer hoe belangrik asemhalingstegnieke is om rustig te raak en die stil plek in jou eie binneste te bereik waar God op jou wag. Die fokus tydens die stilword- en lofsangsessies in die kapel was op diep asemhaling en oorgawe aan die Here. Die sang is deur Ella Kotze en haar dogter, Ellané, gelei.
Magdaleen sê die waarde van stilte as geestelike dissipline is om die mens nader aan God te bring, innerlike vreugde te bevorder en geestelike insig te verdiep. Stilwees is ’n teenmiddel vir die raserige, gejaagde lewe en bring balans vir die herstel van liggaam en gees. Dit leer ’n mens geestelike dissipline om eerder te luister as te praat. Dit leer die gelowige ook om soos Jesus te wees wat in stilte en afsondering tot die Vader gebid het. Laastens is stilte ’n vorm van gehoorsaamheid, om te wag op God sonder om Hom te probeer dwing.
Die stilte van die natuur is ’n besondere plek waar ons God kan ervaar en herken, vertel Magdaleen. “Soek God deur soos Jesus stil te raak by ’n afgesonderde plek. Stap en wees bewus van jou eie ritme. Raak stil, maak jou gedagtes leeg en span al jou sintuie in om God te ervaar. In die afsondering van die natuur kan ’n mens God se voetspore en vingerafdrukke opmerk,” sê sy.
Vir elkeen van die 17 vroue was dit ’n reis met hul Skepper in Menuha se ongerepte bosse, bome en oop vlakte. Elke vrou het ’n spesiale plek in die reservaat uitgekies om stil te word by God. Tydens die terugvoersessies het die vroue hul ervarings met mekaar gedeel.
Die retreat is Sondagoggend afgesluit met ’n erediens en nagmaal, gelei deur dr Elrika Senekal-van der Berg in die klein kapel op ’n koppie wat oor Menuha uitkyk. Sy het in die kring van vroue gesit en elkeen persoonlik aangemoedig om soos koning Hiskia in 2 Konings 19 hul probleme voor die Here neer te lê en vir ingryping te bid.
Terwyl die laaste note van Ella Kotze se stem weerklink met “Wees stil en weet jou God is in beheer”, het die vroue ná ’n laat ontbyt geesvervuld huiswaarts gekeer.








