Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Kyk wie sit op die bank …

Deur dr Martin Laubscher | Erediens Netwerk

“Daar is goed wat mens weet, maar jy weet ook dat jy dit nie wil weet nie, en daarom weet jy dit nie.”

Dit is ’n gedagte wat ’n mens goedskiks sou kon toeskryf aan Melissa Steyn, vooraanstaande Suid-Afrikaanse kenner in die studieveld van “Whiteness”, en onder meer bekend vir haar beskrywing van die sogenaamde “ignorance contract” wat post-1994 onder talle wit Afrikaanssprekende mense in Suid-Afrika na vore sou tree. Die vader van die inleidende gedagte is egter die Sloweense filosoof Slavoj Zizek, en dien as een van die talle goeie verwysings in die inleiding van Wahbie Long se Nation on the couch – Inside South Africa’s mind  (Cape Town: Melinda Fergusson Books, 2021).

Ek is spyt ek het Wahbie Long se boek nie al vroeër opgetel en begin lees nie – of ten minste dankbaar dit het nie ’n dag later gebeur nie. Buiten dat dit uitermatig interessant en boeiend geskryf is, is hierdie werk deur ’n jong kliniese sielkundige van Kaapstad een wat liturge en homilete dalk wil nooi om weer na te dink oor wat Sondae in die erediens gebeur (of nie gebeur nie … ). Nie net slaag Long daarin om die nasie op die bank te kry en diep in ons siel te kyk aangaande talle van die oorweldigende emosies wat ons met tye ervaar nie (vanaf skaamte, nyd en vasgelopenheid tot by hoop), maar hy slaag dalk tog ook daarin om my stellig op die bank te laat sit en wonder oor watter soort van rusbank-ervaring ons Sondae in die eredienste beleef. Word daar dan ook op ’n groter kollektiewe vlak dieper gekyk en verder ingeloer na die welstand en heil van ons siele (as ’n liggaam; ’n groep – gemeente en kerk; deel van ’n nasie)?

Nes hy ook wonder oor die afwesigheid van sielkundige taal en grammatika in die verstaan van ons samelewing, wonder baie van ons dalk ook soms oor die teenwoordigheid van teologiese taal in ons nadenke en uiteindelike diagnose van wat tans op ’n dieper emosionele vlak aan die gebeur is tussen ons. Sosiale en politieke kommentaar en beskrywings kan ons ook net so ver bring, en daarom die versugting om dit wat op dieper vlak in die onbewuste leef en aan ons liggame kleef, ook (en nou veral in ’n kollektiewe en gesamentlike sin – deel van ’n groter liggaam) te probeer ontsluit met ’n ander stel dissiplinêre gereedskap en taal wat die (anderse) Bybel aan ons bied.

Ek dink beslis daar is ook ’n lens en venster op die erediens wat dit vir ons moontlik maak om aandagtig na die bydrae en groter gesprek hierbo te luister, en dalk self ook ’n eier of twee in die proses te lê oor wat emosioneel in die Suid-Afrikaanse samelewing op ’n dieper vlak broei en wag om kort voor lank ’n lewe van sy eie aan te neem. Om met die waarheid om te gaan, daarop te broei, dit selfs uit te broei en te laat groei, en om als uit te roei wat daarmee strydig is, is nie altyd so maklik nie. Dit weet ons tog, of hoe? Nog voor die haan drie maal kraai, sal jy weet dit is so skaars soos hoendertande! En tog, voor daar weer nog ’n kuiken- of karakter-moord gepleeg word, mag dit dalk net help om weer te kyk en te praat asof ons weet wie sit werklik op die bank (die kerkbank, ja rusbank) … en wie luister (tolk en vertolk) aandagtig in die stoel (ja, preekstoel) oor wat (veral op ’n emosionele vlak) aan die gebeur is tussen ons.

116 | Maatskaplike NOODLYN