Die visie van die Gerontologie Netwerk, onder leiding van ds Jors Reynders van die NG Gemeente Bloemheuwel, is die bevordering van betekenisvolle veroudering onder senior volwassenes in die Vrystaatse kerk en samelewing. Die netwerk formuleer haar missie soos volg: Ons dien die sinodale gebied van die Vrystaatse NG Kerk met holistiese gerontologiese inligting en praktyke sodat die kerk, saam met ander vennote, senior volwassenes in die provinsie optimaal kan ondersteun in die proses van betekenisvolle veroudering.
Een van die maniere om uitdrukking te gee aan die missie is om kundiges te nooi as sprekers oor onderwerpe wat betrekking het op veroudering. Dr Rayne Stroebel was die spreker by so ’n geleentheid op 11 Oktober 2023. Dr Stroebel is besturende direkteur van Geratec, ’n organisasie wat spesialiseer in gerontologiese navorsing, opleiding en versorging.
Die groot waarde van dr Stroebel se aanbieding het vir my persoonlik daarin gelê dat hy ons gehelp het met ’n proses om stereotipes oor die onderwerp af te breek en ’n nuwe narratief te begin skryf.
Stereotipes
Daar bestaan ’n wêreldwye geïnternaliseerde stigma rondom ouderdom. Ons sê vir onsself: Ek is nou oud. Ons praat van subjektiewe kognitiewe atrofie. Dit is wanneer jy vir jouself begin sê: Ek kan nie meer nie. Ek wil nie meer nie. Die skokkende is dat een uit drie van die mense wat dit doen, demensie sal kry sonder dat daar noodwendig atrofie in die brein is. Die lewe eindig nie met die diagnose van demensie nie.
Nuut gedink oor veroudering
Ouderdom is ’n relatiewe begrip. Verwering is ’n realiteit. Maar ’n ander realiteit is dat ’n mens se brein optimaal funksioneer tot op ouderdom 95. Die enigste ding wat ná 95 gebeur, is dat dit moeiliker word om nuwe goed aan te leer. Een van die grootste ontdekkings van die 20ste eeu word genoem neuroplastisiteit. Dit is die brein se vermoë om nuwe dinge aan te leer. Daar is statistiek wat sê dat een uit drie mense bo die ouderdom van 85 met demensie gaan leef. Maar dit is nie ’n doodvonnis nie.
Nuut gedink oor demensie
Dr Stroebel het die punt beklemtoon dat ’n mens goed kan leef met demensie. “People do not suffer from dementia, they suffer from how people treat them.” Mense met demensie is bloot op ’n plek van hulle eie. Hulle suffer nie. Die fout wat ons maak, is om hulle die hele tyd in te trek in ons wêreld. Ons moet ons gedagte verander oor mense wie se gedagte verander het. Mense met demensie se menswees word hulle ontneem, nie as gevolg van die siekte nie, maar as gevolg van die wyse waarop hulle hanteer word. Dit is natuurlik vir ons skrikwekkend om na húlle wêreld toe te gaan.
Demensie vat nie bewustheid weg nie. Ouma weet. Sy het net die konneksies verkeerd. Sy kan jou dalk verwar met haar ma, maar sy is bewus. Ons kan baie leer by mense met demensie oor byvoorbeeld geduld en vergifnis. Jy het dalk al mense hoor sê: Ek en my ma het nooit ‘n goeie verhouding gehad nie. Ons het baie baklei, maar noudat sy demensie het, is sy ’n ander mens. Sy is sag, ons het nou ’n verhouding.
Onderskei tussen demensie en delirium
Dit is baie belangrik om te onderskei tussen demensie en delirium. ’n Mens kan maklik die twee verwar. In die geval van delirium kom die persoon ook deurmekaar voor, maar dit gebeur skielik en die oorsake hiervan kan iets wees soos ’n infeksie of ’n traumatiese gebeurtenis. Ouma wys nie die eerste tekens van demensie nie. Daar is iets akuuts fout. Dis belangrik dat sy onmiddellik mediese aandag kry.
Sosialisering
Die mens is ’n sosiale wese en dit verander nie met demensie nie. Prof Andries Baard van Noordwes-Universiteit sê: “Die grootste geskenk wat jy mense met demensie kan gee, is jou teenwoordigheid.” ’n Mens is ’n mens deur ander mense. Dit verander nie met demensie nie. Gereelde kontak met demensie-lyers, op ’n wyse wat vir hulle sinvol is, is van kardinale belang.