Deur Mariëtte Odendaal
As jy dalk al op besoek was aan die Hiroshima Peace Memorial Museum in Japan, of die film Oppenheimer gesien het wat handel oor die lewe van J Robert Oppenheimer, teoretiese fisikus, wat die eerste kernwapens gedurende die Tweede Wêreldoorlog help ontwikkel het, sal jy besef hoe vernietigend ’n kernoorlog kan wees.
In ’n wêreld waar tegnologiese vooruitgang dikwels vinniger beweeg as ons vermoë om die gevolge daarvan te bestuur, herinner kernwapentoetse ons aan die gevaar van menslike selfvernietiging. As gelowiges kan ons nie ons oë sluit vir die verwoesting wat sulke toetse veroorsaak nie – nie net vir die mens nie, maar vir God se hele skepping. Die Internasionale Dag teen Kernwapentoetse roep ons op om die nalatenskap van hierdie toetse onder die loep te neem, en ons te beywer vir ’n wêreld waar vrede, en nie selfvernietiging nie, die laaste woord het.
Die kern-era het op 16 Julie 1945 afgeskop toe die VSA die eerste suksesvolle kernwapentoets, genaamd Trinity, in Los Alamos, Nieu-Mexiko, uitgevoer het. Sedertdien is daar wêreldwyd al meer as 2 000 kernwapentoetse uitgevoer, waarvan ongeveer ’n kwart in die atmosfeer plaasgevind het.
Hierdie ontploffings het lug, water en grond swaar met radio-aktiewe stowwe besoedel – ’n erfenis wat selfs dekades later steeds ernstige gevolge vir die mensdom inhou, soos die verhoogde voorkoms van kanker, genetiese afwykings en ander chroniese gesondheidsprobleme by gemeenskappe wat naby voormalige toetsterreine woon. Lees meer daaroor hier.
Die Internasionale Dag teen Kernwapentoetse wat jaarliks op 29 Augustus gehou word, poog om hierdie verwoestende nalatenskap aan die lig te bring en wêreldwyd ondersteuning te werf vir die onmiddellike inwerkingstelling van die Comprehensive Nuclear‑Test‑Ban Treaty (CTBT) – ’n verdrag wat kerntoetse oral wetlik sal verbied.
Alhoewel die CTBT sedert 1996 deur 187 state onderteken en deur 178 bekragtig is, is die verdrag nog steeds nie in werking gestel nie, omdat nege lande – insluitend magtige moondhede soos China, die VSA, Rusland, Indië, Pakistan en Noord-Korea – dit nog nie goedgekeur het nie. Dit staan dus in die weg om toekomstige kerntoetsing te verhoed; iets wat die voortbestaan van die hele aarde bedreig.
As kerntoetse hervat word – soos waarskynlik deur lande wat hul arsenaal tans moderniseer – blaas dit die herlewing van ’n wêreldwye kernwapenwedloop aan; iets wat tans na ’n groot moontlikheid lyk. Toenemende internasionale wantroue verhoog die gebruik van kernwapens, wat ’n eksistensiële gevaar vir menslike lewe en ons biosfeer inhou.
Die Bybel herinner ons daaraan dat “geregtigheid en vrede” mekaar sal ontmoet (Ps. 85:11). As volgelinge van Christus is ons geroep om vredemakers te wees – nie net in ons gemeenskappe nie, maar ook in ons houding teenoor wêreldwye bedreigings. Die stryd teen kernwapentoetse is nie net ’n politieke saak nie, maar ’n geestelike roeping: om die lewe wat God geskep het, te beskerm en sy skepping te eer.
Mag ons, deur gebed, bewusmaking en optrede, help bou aan ’n toekoms waar die vernietigende gevolge van kernwapens net ’n donker hoofstuk in die geskiedenis sal word en nie ’n bedreiging vir ons nageslag nie.

