Sosiale geregtigheid in eenvoudige taal is om die geleenthede en gawes wat God vir my gegee het in die lewe, te gebruik om ander wat nie geleenthede en gawes gekry het nie, te help. Primêr kom dit neer op hulp vir armes om hulle uit hulle moeilike omstandighede te help.
Die term sosiale geregtigheid is vandag so polities gelaai dat dit baie frustrasie, moedeloosheid en selfs haat-gevoelens ontlok. Dis ‘n term wat hier in Suid-Afrika deur baie geassosieer word met onteiening sonder vergoeding, hoër belasting, minder werksgeleenthede en soms korrupsie in die bestuur van fondse wat vir sosiale geregtigheid aangewend moet word.
Sosiale geregtigheid bly ‘n groot frustrasie, veral omdat ons in Suid-Afrika woon met die meeste ongelykheid ter wêreld. Dit voel of die pogings wat ons sou aanwend, net ‘n druppel in die emmer sou wees en ons nie regtig ‘n verskil maak nie.
Hierdie frustrasie is wel nie nuut nie. Dink aan die grootste sosiale geregtigheid-gebeurtenisse in die Nuwe Testament. Net ná die uitstorting van die Heilige Gees, is gelowiges in die eerste kerk so toegewyd aan die koninkryk van God dat hulle selfs bereid was om hulle grond en besittings te verkoop om aan die behoeftes van almal in die gemeente te voorsien (Handelinge. 2). Tog sien mens Ananias en Saffira wat vir die Gees jok oor die eiendom wat hulle verkoop het. Dink ook aan Paulus wat met die Korintiërs-gemeente gefrustreerd is omdat dié wat kos het in die gemeente, dit vinnig opeet sonder om vir die armes in die gemeente te gee (1 Korintiërs 11).
In Matteus is een van die hooftemas daadgeregtigheid. Opsommend beteken dit dat Matteus baie klem lê op die doen van God se wil (5:17-20; 7:21). Matteus se volgelinge was waarskynlik beskuldig daarvan dat hulle nie erns maak met die wet van God nie. Matteus se wyse van wetsonderhoud bestaan egter nie uit nakom van rituele en voorskrifte nie, maar vind sy vreugde in die uitleef van die liefdeswet (22:34-40; 23:23). Hy meen dat iemand wie naby aan die nood van sy naaste leef, begin verstaan waarop dit aankom in die wet van God (18:31-35; 25:34-40).
My fokus in die navorsing om sosiale geregtigheid aan te moedig by gelowiges, is op Jakobus. Jakobus wil die vroeë kerk aanmoedig om mekaar lief te hê soos hulself, juis in die vorm om vir dié wat sukkel in die gemeente, te help. Jakobus wys stap-vir-stap hoe ‘n mens se wysheid sy begeertes bepaal. Hierdie wysheid is meer bekend aan ons in Matteus se weergawe, wat ‘n latere weergawe is van Jakobus s’n. Die wysheid is om raak te sien dat skatte in die Hemel beter is as skatte op die aarde (Matt. 6:19). Die wysheid wat my laat besef dat dit beter is om te gee as om te ontvang, sal my begeertes van selfsug verskuif na begeertes van mededeelsaamheid. Ek sal raaksien dat ‘n wêreld waar mense mekaar help om ‘n bestaan te maak, beter is as ‘n wêreld waar die sterkste, begaafste mense meer as genoeg het terwyl ander gebrek ly.
Ons hoop dat, deur hierdie wysheid by gelowiges vas te lê, hulle deur die frustrasies van ons land te laat sien, en die hoop te gee dat daar baie potensiaal in ons land is vir vrede, vreugde en ware geluk. Vrede, vreugde en ware geluk wat nie te vind is in baie besittings of status nie, maar in omgee, mededeelsaamheid en ‘n besorgdheid vir mekaar.
E-posadres: heymarthiens@gmail.com | Selfoonnommer: 072 934 9135