Deur ds Wouter van Velden, Kopanong Studentebediening
Baie van ons in die NG Kerk is bekend met uitreike, hetsy plaaslik of verder van die huis af. Verskeie van ons het goeie herinneringe aan uitreike tydens ons studiejare, toe ons saam met studentegemeentes na ander plekke in die land, en selfs oor die grense van die land gegaan het.
Wat gebeur egter as die rolle omgekeer word en ons nie die besoekers op ’n “ander” plek is nie, maar die gashere plaaslik? Iets daarvan is beleef tydens die “Inreach” van 30 April tot 4 Mei vanjaar, toe jongmense van Lesotho en Botswana vir studente hier in Bloemfontein kom kuier het. Die idee het ontstaan ná verlede jaar se “Waypoint”[1] uitreike na Lesotho en Botswana, toe die jongmense daar genoem het dit sal vir hulle lekker wees as hulle ook by ons in Suid-Afrika kan kom kuier. Vandaar die naam “Inreach” (teenoor “Outreach”).
Die nodige reëlings is getref en die drie groepe jongmense van SA, Botswana en Lesotho het die langnaweek saam deurgebring by Mooigenoeg-kampterrein. Van Suid-Afrikaanse kant was verskeie van die huidige teologiestudente betrokke, sowel as ’n paar studente van Kopanong Studentebediening.
Die interaktiewe program het bestaan uit toerustingsgeleenthede, besoeke en deelname aan ’n gemeenskapsuitreik, eredienste wat saam bygewoon is, en natuurlik ook lekker saam kuier.
Vrydagoggend was ysbrekers en kenmekaar aan die beurt, gevolg deur ’n werkswinkel oor kultuur: wat is kultuur, hoe hanteer ’n mens kultuurskok, en die Saterdag oor sinvolle bakens vir kruiskulturele kommunikasie – temas wat juis sentraal staan wanneer mense oor grense heen mekaar ontmoet. Saterdag is daar ook besoek afgelê by Jimmy Roos Skool. Speletjies is saam met die jong manne gespeel en hulle is in groepe verdeel om, onder leiding van “Inreach” spanlede, ’n toneel uit die Bybel op te voer, met die ander groepe wat moes raai watter toneel opgevoer word.
Die jongmense van Botswana moes reeds Sondag weer vertrek, maar die span van Lesotho kon die erediens van die LECSA (Lesotho Evangelical Church of Southern Africa) gemeente in Bloemfontein bywoon. Die aand het hulle by die Kopanong Studentebediening aangesluit vir die erediens. Maandag het hulle huis toe vertrek, maar kon ook tyd maak om die ou sendingstasie op Beerseba, naby Smithfield, te besoek.
Deur die rolle om te keer – vanaf “uitreik” na “inreik” – word mens uitgedaag en vriendelik verras deur die geleentheid om persone te verwelkom, bande te smee, en as’t ware aan die “ander kant” van die bewegingslyn te staan. Dit was ’n besonder leersame en betekenisvolle tyd saam, wat geleentheid gegee het vir mense om mekaar oor grense beter te leer ken. So ook, oor wat ander dalk beleef wanneer ons by hulle tyd spandeer.
Waypoint beplan om weer in Junie/Julie in Lesotho besoek af te lê, en in November/Desember weer in Botswana. Die droom is dus langtermynverhoudings, gebou op meerdere ontmoetings in verskillende kontekste.
Dank word ook uitgespreek vir die kantoor van Vennote in Getuienis, wat fondse vir die geleentheid beskikbaar kon stel.
| Foto’s is deur ds Wouter van Velden verskaf.
[1] Waypoint is die studentebedieningsnetwerk van die NGKV in Bloemfontein, wat uit verskeie bedieningspunte bestaan.









































